Waak en Bid!

4- Ware gelowiges kan in sondes val, en moet waak en bid teen versoekings Die mag van God, waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bevestig en bewaar, is so groot dat hulle nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God gelei en beweeg dat hulle – deur hulle eie skuld – in sommige besondere gevalle nie van die leiding van die genade sou kon afwyk en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei word en dit navolg nie. Daarom moet hulle voortdurend waak en bid dat hulle nie in versoekings gelei word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot groot en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges, wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.

Inleiding

Elke gelowige moet maar terdeë bewus wees van sy eie swakheid en nietigheid. Hoeveel keer het jy al gedink dat jy sterk is, net om daarna te val in sonde. Hoe groter jou geestelike hoogmoed, hoe groter is die val. 1Korintiers 10:12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Ons verklaar dat ons afhanklik van die Here is en dat ons tot niks uit ons eie in staat is nie. Hoe belangrik is dit nie om in hierdie afhanklikheid te bly lewe nie!?  Jesus het sy volgelinge juis met hierdie woorde gewaarsku in die nag wat hulle hom sou verloën: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Mattheus 26:41. Tog vind ons hulle aan die slaap, terwyl Jesus homself in die diepste worsteling in Getsémané bevind. Hoe maklik kon Petrus die belydenis maak dat al sou almal “…van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” Mattheus 26:33. Hy het dit verseker op daardie oomblik bedoel, net soos wat ons ook baie keer met goeie voornemens dinge belowe, maar hy kon nie eers sy belofte vir ’n paar uur nakom nie. Die rede hiervoor is dat hy, net soos ons, dit in eie krag wil doen.

Ons vind deur die Skrif dat gelowiges in sonde val. God belowe nêrens aan die gelowige dat hy/sy vanaf wedergeboorte nooit weer sal sondig nie, maar wel dat ons nooit verlore sal gaan nie. Met die wete – dat sonde steeds deel is van die gelowige se lewe – hoe kan ons daarteen waak en hoe staan ons op indien ons geval het? Kom ons gaan leer by die lewens van gelowiges in die Ou en Nuwe Testament wat in sonde geval het.

Abraham – mense

Abraham en Sara trek af na die Suidland. Die koning van Gerar is Abimelech. Abraham is baie bang vir die mense van die land en noem Sara sy suster, sodat niemand hom sou doodmaak oor sy pragtige vrou nie. Abimelech laat Sara haal om sy vrou te word, maar God waarsku hom in ’n droom dat Sara alreeds getroud is. Abraham se verdediging oor hoekom hy die verkeerde ding gedoen het, was … “Dit is omdat ek gedink het daar is beslis geen ontsag vir God op hierdie plek nie, en dat hulle my sal doodmaak oor my vrou”. Genesis 20:11. Hy was bang vir mense. Een van die grootste redes hoekom ons in sonde val is omdat ons baie keer bang is vir mense en hulle opinies. Abraham het nie gedink dat God in ’n goddelose man se hart kon werk sodat hy nie sy vrou sou neem nie. Nee, hy het gedink hy moes self planne maak om sy eie lewe te beveilig. Ons dink dat as ons duidelik standpunt inneem oor wat ons glo, ons nie meer vriende sal hê nie, of as jy opstaan vir wat reg is, mag jy dalk jou werk verloor en wie sal dan vir jou sorg? Ons vergeet so maklik dat God in beheer van alles is, dat Hy regeer oor alles op aarde. Die oomblik as jy ’n kompromie maak is die val baie naby, hiervan is Abraham se lewe vir ons ‘n voorbeeld. Jy moet nooit mense of omstandighede vrees nie, maar vrees God. Hoe meer jy God vrees hoe minder sal jy mense vrees. Lukas 12:4-5 “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie. Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.

Dawid – ledigheid

Dawid se verhaal van owerspel en moord is aan ons almal goed bekend. Die vraag is egter: “Wat het aanleiding tot hier afskuwelike sonde gegee?” Die antwoord vir hierdie vraag is duidelik vanuit die Skrif. 2Samuel 11:1 Teen die jaarwending, wanneer die konings op veldtogte uittrek, het Dawid vir Joab uitgestuur, en saam met hom sy amptenare en die hele Israel. Hulle het die Ammoniete vernietigend verslaan en Rabba beleër. Maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. Dawid moes saam met sy manne op ’n veldtog gewees het. Tog vind ons dat Dawid agterbly in Jerusalem. Die Skrif vertel ons nog meer van Dawid se aktiwiteite terwyl hy in Jerusalem agtergebly het. Ons sien dat hy “laatmiddag van sy bed opstaan.” 2Samuel 11:2. Watse man wat moet werk is nog laatmiddag in sy bed? Klink meer soos iemand wat verveeld is. Iemand wat nie besig is met die werk wat God hom/haar gegee het nie.

Paulus skrywe aan Timotheus en waarsku die jong weduwees om eerder weer te trou en nie ledig te wees nie. 1Timotheus 5:13-15 Boonop kom hulle in die gewoonte om ledig te wees terwyl hulle so van huis tot huis kuier, en is hulle nie net ledig nie, maar hulle skinder, en is bemoeisiek, en praat oor onvanpaste sake. Daarom verwag ek van jonger weduwees dat hulle moet trou, kinders kry, huishoudings bestuur en die teenstander geen geleentheid gee om kwaad te praat nie. Want sommige van hulle het reeds agter Satan aan afgedwaal.  Ook sê hy in 2Tessalonisense 3:10 “Wie nie werk nie, mag nie eet nie.” Dus sien ons dat daar dieselfde gevaar is vir mans en vroue. Is jy besig met jou goddelike taak, man en vrou, of spandeer jy jou tyd op sosiale media en dinge wat nie tot bevordering van jou geestelike welstand is nie? Een van die persone wat Jesus ’n dwaas noem is ’n man wat afgetree het en nou die vrug van sy arbeid wou geniet. Sy skure was vol en hy het oorgenoeg gehad. Hy kon nou na harte “rus, eet, drink en vrolik wees”. Lukas 12:19. Is dit waarvoor jy leef, om skatte vir jou te vergader sodat jy kan “rus”, of is dit vir jou belangrik om ryk by God te wees en in Hom te rus? God het alreeds voor die sondeval aan die mens die opdrag gegee om te werk. Na die sondeval kondig God die man sy straf aan, nl.  “in die sweet van jou gesig sal jy brood eet”. Genesis 3:19. Werk opsig self is nie die straf nie, maar is aan ons gegee om ons te beskerm teen sonde.

Petrus – ignoreer waarskuwings

Petrus val vir sonde al word hy deur Christus gewaarsku. In sy denke rakende homself sou hy nooit kon dink dat hy sy Meester sou verloën nie, wat nog van drie keer in so ’n kort periode. Petrus moes na sy eie lewe gekyk het en die vordering van visserman na een van Jesus se binnekring van 12 dissipels gesien het. Hy was nou ’n gesogte man – spesiaal deur Christus gekies. Hy dink Jesus se waarskuwing is onnodig. Hy is sterk genoeg.  Hoe baie keer is daar nie vir ons waarskuwingsligte wat flikker voordat ons val in die sonde nie. Jy spandeer nie meer tyd met mede gelowiges nie. Jou Bybelstudie word agterweë gelaat. Jy is nie entoesiasties om kerk toe te gaan nie. Jy raak skaam om met ander die evangelie te deel. Jy kom al hoe later huis toe. Dit is nou al elke aand ’n drankie of twee. Vir Dawid was daar ook ’n waarskuwing van een van sy diensknegte.  2Samuel 11:3 Dawid stuur toe iemand om navraag te doen oor die vrou. Die man het gesê: “Is dit nie Batseba, die dogter van Eliam, die vrou van Urija, die Hetiet nie?”. Hy laat Dawid weet dat dit die vrou van Urija is. “Dawid sy is getroud!” Partykeer is dit jou man of vrou wat jou waarsku, partykeer jou kind of mede gelowige by die kerk. Gee jy ag of is jy, soos Petrus, te vol van jouself en slaan die waarskuwings in die wind? Die volgende wat interessant is, is dat Petrus wel daardie aand vir Jesus volg, maar op ‘n afstand.  Moenie dat daar afstand tussen jou en God kom nie. Bely jou sonde onmiddellik en moenie die duiwel ’n vatkans gee nie. Te baie bevind hulle te lank by hul eie sonde en die van ander. Hulle oordink dit, worstel daarmee en soek verskoning en regverdigings inplaas daarvan om dit te bely en oor te gee aan Christus. Los die dinge wat agter jou is en streef na wat voor jou is. Filippense 3:13-14 Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.  Waak en bid. 1Tessalonisense 5:5-6 “Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag. Ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar waaksaam en nugter wees! Wees op die uitkyk in jou eie lewe vir enige verval of enige plek waar jy God se Woord probeer afwater. Haat sonde en vlug soos Josef, al verloor jy alles in die proses of al moet jy onskuldig in die “tronk” beland.

Slot

God se genade vir sy kinders is so groot dat die sondige natuur ons nie sal kan oorwin nie. Die kruisdood van Jesus verseker ons daarvan. Die duiwel is egter listig en lê en wag soos ’n brullende leeu om elke mens te verskeur. Jy, op jou eie, is nie sterker as die duiwel nie, daarom het God in sy wysheid sekere dinge in plek gestel om sy kinders ook in hierdie lewe van sonde te bewaar. Sy Gees, sy Woord, sy Kerk, sy werk, sy kinders en sy tug. Luister na sy Gees, bestudeer sy Woord, wees aktief deel van sy Kerk, werk hard, luister na waarskuwings en slaan ag daarop wanneer jy getug word.

En wanneer jy besef dat jy geval het, dat jy God, ander en jouself teleurgestel het, gaan na Jesus se genadetroon. Bid om vergifnis en gaan maak reg indien moontlik en leef in sy rus en vreugde.