2- Daarom sondig gelowiges nog daagliks en moet gedurig daarteen stry. Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hul voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandeling, en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. So moet hulle volhard totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.
3- Vanweë hierdie oorblyfsels van die inwonende sonde, en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan, kan die bekeerdes nie in die genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bevestig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig bewaar.
Inleiding
Die gelowige moet nooit gemaklik raak in hierdie wêreld nie. Hy moet nooit probeer om in te pas nie. Die heidinne het die vroeë Christene beskryf as mense wat die wêreld nie geag het nie en die dood verwag het. Tereg kon van hulle gesê word dat hulle in die wêreld was, maar nie van die wêreld nie. Was dit nie die gebed van Jesus, in Getsémané aan Sy Vader, vir die gelowiges nie? Johannes 17:15-16 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Die gelowige voel nooit gemaklik en pas nooit in by hierdie wêreld nie.
Keuses
Hierdie stryd wat ons het en hoe maklik ons kan val laat my terugdink aan ’n man in die Bybel met die naam van Lot. Lot was die neef van die vader van alle gelowiges. Die loop van omstandighede veroorsaak dat daar ’n breuk tussen Lot en Abraham kom a.g.v. hulle besittings wat te veel raak. Abraham gee Lot die eerste keuse vir die area waar hy wou gaan bly. Lot kies die land waar hy wou gaan na aanleiding van die oorvloed wat daar is. Genesis 13:10 Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. Baie het die idee dat Lot ’n ongelowige man was, maar dit is nie wat die Bybel ons leer nie. 2Petrus 2:7a en as Hy die •regverdige Lot… Lot word ’n regverdige genoem. Soos baie gelowiges speel hy op die “AFBOB se stoep”. Ons vind hom elke keer al nader aan Sodom en Gomorra. Genesis 13:12 Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. Sy tent word in Genesis 13 al tot by Sodom opgeslaan. In Genesis 14, as die land van Sodom en Gomorra aangeval word, word ons ingelig dat Lot hom nou al binne Sodom bevind. Genesis 14:12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek—want hy was in Sodom woonagtig. Al was hy woonagtig binne Sodom, vertel die Bybel dat die losbandige lewe van die mense van Sodom en Gomorra hom diep gekwel het. 2Petrus 2:8 die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig. Tog het die wêreld van Sodom en Gomorra hom en sy gesin begin insluk. Sy dogters was gereed om met mans te trou wat geen verhouding met God gehad het nie en dink dat hy met hulle gekskeer as hy hulle waarsku om saam met hom die stad te verlaat. Genesis 19:14 Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer. Verder vind ons dat as die engele vir Lot waarsku dat hy dadelik moet vlug, hy talm so dat die engele hom en sy vrou en dogters moet gryp. Genesis 19:16 Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad. Hoe tragies dat hierdie land so deel van hom en sy gesin word dat hy nie hierdie plek wou verlaat nie. Hy het getalm. Hy was soos die gemeente in Efese waarvoor Jesus ’n boodskap stuur dat hulle hul eerste liefde verlaat het. Openbaring 2:4 Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.
Elke dag word die gelowige voor keuses gestel. Sommige verwerp ons dadelik omdat dit so ooglopend verkeerd en teen die Here se wil is. Dit is egter daardie twyfelagtige areas, daardie sogenaamde grys gebiede, wat die gelowige telkens laat struikel. Ons moet seker maak dat ons keuses nie net “nie teen God se Woord” is nie, maar ook tot “God se eer” strek en ‘n toonbeeld is dat dit God is waarvoor ons die liefste is. Kom ons maak Lot en Abraham se voorbeeld prakties in ons eie lewe. Veronderstel jy word ’n pos in ’n ander dorp aangebied. Is jou eerste vraag: “Hoeveel is die salaris?” of “Is daar ‘n kerk waar ek in waarheid die Here saam met ander gelowiges kan dien?” “Gaan die werk te veel tyd van my vra, sodat ek my gesin gaan afskeep?” Om ’n nuwe werk, met ’n beter salaris te aanvaar is in opsig self nie verkeerd nie, maar wanneer daar aanhoudend sulke besluite, sonder om die geestelike implikasies daarvan te oorweeg, gemaak word, is dit ’n aanduiding dat hierdie wêreld vir jou te belangrik geword het en dat jy jou eerste liefde verlaat het.
Liefde vir die wêreld teenoor liefde vir God
Die Bybel roep die gelowige op om na een tuiste alleen te verlang en dit is die Hemelse tuiste. Dit is waar ons fokus moet wees. Kolossense 3:1-2 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Teenoor Lot staan Abraham, wat uitgesien het na die Hemelse stad. Hebreërs 11:10 Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Alles op aarde was maar net tydelik, maar die ewige was dit wat van waarde was vir Abraham. Omdat Lot se lewe gekenmerk is deur aardse begeertes was hy die leier van ’n huishouding waarvan die gesin geen verhouding met die Here gehad het nie. Hulle moes gesleep word om die geestelike te doen. Lot se vrou se naam word nie eers genoem nie. Sy kies Sodom en draai om en verander in ’n soutpilaar. Sy was al lankal “dood”. Vandag sou sy soos iemand wees wat kerk toe gaan, maar die wêreld was in haar. Dit was waar haar werklike liefde gelê het. 1 Johannes 2:15 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Die twee dogters se lewens is net so ’n gemors. Hulle vrees dat hulle geen nageslag sal hê nie en neem die toekoms in hulle eie hande wanneer hulle hul pa dronk maak en met hom gemeenskap het. Elkeen raak swanger by hul pa en skenk lewe aan ’n seun. Hulle nasate word die vyande van Israel, die Moabiete en die Ammoniete. ’n Verwoeste gesin.
Die gelowige is iemand wat hom uitstrek na die ewige. Hy laat die sonde agter. Hy wil nie sonde in sy lewe ’n vastrap plek gee nie. Hy is terdeë bewus van sy onvolmaaktheid en daarom weet hy hoe gevaarlik die sonde is. Sonde van gister en my lewe van gister is verby. Die gelowige het dit bely en hy wil nooit weer terugkeer na daardie vullishoop nie. Filippense 3: 14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Daar is net een beloning waarna die gelowige smag en dit is in Christus Jesus. Alles wat van waarde is, is by Hom. Ek is soos Paulus wat alles in my lewe wat ek al bereik het, nog sal bereik of wat ek besit as vullis beskou. Filippense 3:8 Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry.
Wapenrusting
Die stryd teen die sonde is ’n daaglikse stryd wat die gelowige nie alleen kan stry nie. Die Here laat egter nie sy kinders alleen in hierdie stryd nie, maar rus ons toe met krag en wapens om onsself teen die aanslae van die duiwel te verdedig. Die gelowige is altyd bewus dat hulle naby die Here moet wandel. Daar is niks in hom/haarself waarin hulle hul vertroue kan plaas nie. My vertroue is geplaas in God wat getrou bly. 1Korintiërs 10:13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. Hierdie teksvers maak dit ook duidelik dat elke versoeking wat oor my pad sal kom ’n versoeking is wat ander gelowiges al deurgegaan het. As hulle dit met God se krag kon oorwin dan kan ek ook. Verder is ek verseker dat Hy vir my ’n uitkoms sal gee. Ek kan dus terwyl ek deur ’n moeilike toets in my lewe gaan in afwagting wag vir die uitkoms wat God vir my sal gee.
Slot
Elkeen van ons weet maar te goed hoe swak ons is. Behalwe ons eie swakheid, word ons ook dikwels deur die duiwel herinner aan hoe vêr ons te kort skiet. God is egter groter as enige aanklag op jou lewe. Hy het jou verlos en as gelowige kan jy dit aantrek as ’n helm om jou gedagtes te beskerm. Hy sal die goeie werk wat Hy in jou begin het enduit voer. Hy sal by jou wees en jou nooit aan jou eie swakheid oorlaat nie. In ons stryd teen die sonde is daar praktiese dinge wat ons kan doen om ons hierin te oefen. Lees jou Bybel, bid gereeld, bly naby aan God, hou jou fokus op die ewige en moenie dat die wêreld se prag en praal, opinies en leuens jou insluk nie. Sy Gees en sy Woord is wapens waarmee jy jouself teen die aanslae van die wêreld kan verdedig en bemagtig.
God is getrou. Hy sal ons tot die einde – die dag waarop Hy ons na Hom te neem – kragtig bewaar.
