5.1God roep, wederbaar en verlos die mens van sonde, maar nie in hierdie lewe heeltemal uit die sondige natuur nie. Hulle wat God na sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie.
5.2Daarom sondig gelowiges nog daagliks en moet gedurig daarteen stry. Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge, en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. So moet hulle volhard totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.
Inleiding
God het die gelowige verlos van sonde. Die sonde het dus geen meer heerskappy in die gelowige se lewe nie. Christus is nou die koning van die gelowige se lewe en daarom het Christus heerskappy in die gelowige se lewe. Daar is vandag baie kerke wat hierdie belydenis uit verband uit ruk. Ek noem twee voorbeelde. Een voorbeeld is die siening dat jy maar kan lewe soos wat jy wil, want jy is mos vry van die sonde en Christus sal jou vergewe ongeag hoe jy lewe. Nog ‘n siening is dat Jesus jou vrygemaak het van die sonde en daarom kan jy nie meer sondig nie. Hierdie sienswyses is veral kenmerkend van die Hiper-Genade-Beweging (Hyper Grace Movement). Elkeen van hierdie sienings kan egter duidelik vanuit die Skrif verkeerd bewys word. Al is ons verlos van sonde se heerskappy is sonde nog steeds ’n realiteit in die gelowige se lewe. Die Bybel is baie duidelik dat iemand wat sê dat hy/sy nie meer sonde doen nie, nie die waarheid praat nie. 1Johannes 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
Sondige natuur teenoor verharding in sonde
Paulus skrywe in Romeine dat iemand wat vrygemaak is van sonde nie meer kan aanhou om daarin te leef nie. Romeine 6:1-2 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef? Is die Skrif dan nou dubbelsinnig? Die een oomblik sê dit dat ons die sonde afgesterf het, maar dan weer dat ons lieg as ons sê ons is sonder sonde. Beteken ‘afgesterf’ dan nie dood vir sonde nie? Hoe kan ek terselfdertyd dood wees vir die sonde, maar nog steeds sonde doen? Wanneer ons so ‘n moontlike kontradiksie teëkom, is dit seker dat ons een van die gedeeltes verkeerd verstaan. Dat ek nog steeds as gelowige sondig word duidelik deur die Skrif aangetoon. 1Johannes 1:9-10 As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. Dit is dus duidelik dat ons ‘die afsterf van sonde’ verkeerd verstaan indien ons dit interpreteer om te beteken dat die gelowige geen sonde meer doen nie. Die verskil lê in die sondige natuur van die mens, waarvan ons hier op aarde nie vry kan kom nie, teenoor die heerskappy van die sonde, waarvan ons vrygemaak is deur Christus. ‘n Kind van die Here doen wel nog sonde, maar haat dit en wil dit nie doen nie. Hy/Sy voer ‘n styd, met behulp van die Heilige Gees, daarteen en bely dit telkens. Iemand wat egter willens en wetens in sonde volhard, wat nie dink dis verkeerd nie, of wat, al weet hy/sy dalk dat dit sonde is, nie omgee om daarmee voort te gaan nie, kan nie bely dat hulle wedergebore kinders van God is nie.
Slaaf van of soldaat teen
Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat iemand wat volhard in sonde ’n slaaf van die sonde is. Johannes 8:34 Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. ’n Slaaf is nie vry nie. Hy word gelei na waar sy meester wil hê dat hy moet gaan. Hy het geen vryheid om te kies nie. So lyk iemand wat in die wêreld is. Sy vleeslike begeertes lei hom. Hy/sy is soos ’n donkie wat aan ’n meulsteen vasgemaak is en die hele tyd in die rondte loop. Daar is geen vordering nie, as hy homself weer kry is hy weer by die begin. Dit verwoes en verniel hom en daar is geen langtermyn vreugde nie. Elke nou en dan is daar slegs ’n kortstondige vreugde in wat die wêreld kan bied. Dit is waar ons was toe ons nog in die wêreld was, maar ons is vrygekoop- ons kan die goeie kies. Romeine 6:17 Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is.
Die gelowige se wil is verander en daarom is hy/sy nou in staat om vir die goeie te kies en teen die sonde te stry. Die Woord is duidelik dat ons ’n stryd teen die sonde moet voer. Die Woord vergelyk die gelowige met ‘n soldaat – ‘n vegter teen sonde in sy eie lewe sowel as in die samelewing. Ook word die gelowige vergelyk met ‘n bokser en ‘n atleet. Hierdie vergelykings maak dit duidelik dat daar werk is om te doen. Om te veg of om deel te neem aan ‘n wedloop vra oefening, dissipline en inspanning. Hebreërs 12:3-4 Dink inderdaad aan Hom wat so ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie. Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.
Hoe kan die gelowige homself/haarself toerus vir hierdie stryd?
Afhanklikheid
Ons moet weet hoe afhanklik ons van God is. Die gelowige se lewe word gekenmerk as iemand wat die goeie wil doen. Hy wil die begeerte van Sy Vader uitvoer aangesien die begeerte van God ook nou sy eie begeertes word. Tog vind hy/sy dat die kwaad nog in hulle lewens teenwoordig is. Romeine 7:21-23 Dus vind ek hierdie wet: Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, maar ek sien ‘n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. Daarom besef die gelowige terdeë sy totale afhanklik van God. Ons het nodig om elke oomblik van elke dag in afhanklikheid van God te leef. As ons bely dat ons tot alles in staat is, is dit alleen op grond van Sy krag. Filippense 4:13 Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. Ons neem ons toevlug na God se genadetroon deur die kruis van ons Verlosser en bely ons afhanklikheid van Hom. Dit is so baie keer wanneer ons dink dat ons staan dat ons so maklik val. 1Korintiers 10:12 Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!
Dissipline
Ek moet elke dag die sonde doodmaak in my lewe. Kolossense 3:5 Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. Dit beteken dat ek vir die sonde geen vashou plek in my lewe gee nie. 1 Korintiërs 9:27 Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie. My stryd word al gevoer die oomblik dat ek sonde waarneem in my gedagtes. Dit is ’n begeerte wat by my opkom wat ek weet in stryd met God se Woord is. Die oomblik dat ek verder daaroor dink en aan die sonde geleentheid gee om te ontwikkel sal dit die dood voortbring in my lewe. Jakobus stel hierdie proses baie goed. Jakobus 1:14-15 Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood. Elke dag is ’n oefening in godvresendheid. 1Timotheus 4:7 …Oefen jouself om godvresend te leef. Baie gelowiges is swak omdat hulle nie oefen nie. Ons oefen deur elke dag die Bybel te lees en te bid en deur die regte keuses te maak al is dit moeilik. Begin deur weg te bly van twyfelagtige dinge en fokus op gesonde, soliede Bybelse beginsels. Hoe meer jou fokus verander om vir God te leef en Hom gelukkig te maak hoe makliker word sonde in jou lewe oorwin.
Die Prys
Hou jou oë op Hom gevestig en hou die Ewige Lewe, waar jy volkome sonder sonde sal wees, voor oë. As jy sonde haat sal hierdie gedagte om vry te wees van sonde heerlik wees. Hoe wonderlik sal die Hemel nie wees wanneer ons volmaak as bruid voor die bruidegom sal wandel nie?
Slot
Elke mens op aarde is ‘n slaaf van iets. Jy is of ‘n slaaf van die sonde of van Christus. Christus het ons vrygekoop van die slawerny van sonde en ons vrygemaak om Hom te dien. Watter voorreg! Die gevolg van sonde se slawerny is oral rondom ons sigbaar. Jesus nooi sy uitverkorenes na Hom toe, almal wat moeg en oorlaai is. Sy juk is sag en sy las is lig. Kom ons besing Hom wat ons kom bevry het van sonde en toekomstige oordeel en wraak. Openbaring 5:9-10 Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers.”
