Werk saam!

17- God gebruik die hulpmiddels van evangelie, ampte, sakramente, onderrig en tug in sy almagtige werking. Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit hierdie bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weergebore laat word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie om ver nie. Inteendeel, die alwyse God het dit tot ‘n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels, en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense oor hierdie genade van God, tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed, gelowig onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie, onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat in die gemeente onderrig gee of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie nou aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad, wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom toe, vanweë die middele sowel as vanweë die verlossende vrug en krag daarvan, alle heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Inleiding

Ons het in die afgelope paar blog’s die bespreking gehad aangaande God se werking in elke aspek van die gelowige se lewe. Ons besef terdeë dat elke deel van verlossing, geloof, lewend making, vervulling met die Heilige Gees, ja elke geestelike aspek van ons lewe, te make het met God se soewereine plan. In hierdie reddingsplan gebruik God mense en fisiese elemente waardeur Hy die Kerk laat groei en onderhou. Die grootste fout wat enige kerk of gelowige kan maak is om die idee te hê dat God in elk geval alles doen en daarom kan ons maar op ons louere rus. “Laat Gods water oor Gods anker vloei”, is die gedagte. God roep egter die mens op om aktief betrokke te wees in Sy koninkryk. Die soewereiniteit van God en die verantwoordelikheid van die mens kan gesien word as die twee spore van ‘n treinspoor. Hulle sal in der ewigheid nooit kruis nie. Sommige kerkgroepe plaas alleen klem op die mens se verantwoordelikheid en verval in wettiese werke, terwyl ander weer die mense se verantwoordelikheid in God se koninkryk heeltemal misken en voel hulle kan leef soos hulle wil, want God doen alles. Ons het alreeds lg. houding in vorige inskrywings bespreek en dit is duidelik dat ‘n persoon wat so redeneer nie wedergebore is nie. Die mens het ‘n verantwoordelikheid.

Werk in Sy wingerd

Die gelykenis van die wingerd in Mattheus 20 benadruk hierdie oproep. Dit begin om ons te wys dat hierdie gelykenis oor die koninkryk van die hemele gaan. Die huisheer gaan uit en vind mense om in sy wingerd te arbei. Hy kry mense van vroeg tot laatmiddag om in sy wingerd te kom werk. Elke keer is dit die huisheer wat mense vind en roep. Dit is ook hy wat die tyd van die ontmoeting bepaal. En tog elke keer as hy roep, roep hy die arbeiders om in sy wingerd te gaan werk. Geen gelowige kan sê dat hy/sy deel is van die nuwe koninkryk sonder dat hulle aktief in die koninkryk besig is om te werk nie. Of jy is soos die gelykenis van ’n eienaar wat op reis gegaan het en sy besittings los in die hande van sy diensknegte. Na ’n lang tyd kom hy terug en hy roep hulle om terugvoer te gee aangaande wat hulle gedoen het met wat hy aan hulle toevertrou het. Een van hulle vertel dat hy dit wat aan hom toevertrou is begrawe het. Dan volg sy straf. Mattheus 25:28-30 Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande. Om ‘n arbeider in God se wingerd te wees beteken om ander van Hom te vertel, om ander te bemoedig, toe te rus en te ondersteun. Kom ons kyk wat die hulpmiddels is wat God gebruik om mense te red en te vernuwe en geestelik te laat groei.

Verkondiging van die evangelie.

God wil elke gelowige gebruik om sy evangelie te verkondig. Die evangelie is in Grieks die ευαγγελιον(euaggelion), die blye boodskap. As jy die evangelie uitdra is dit met ’n opgewondenheid en vreugde. Dit is die beste nuus ooit. Niemand wil luister na ’n boodskap wat geen verandering of opgewondenheid by die evangelis veroorsaak het nie. Hoekom sou die wêreld wou luister na ‘n persoon wat praat oor hoe wonderlik die evangelie is sonder dat hulle ervaar en sien dat dit ’n wonderlike inpak in die boodskapper se lewe gehad het. “Jou huwelik is in net so ’n gemors soos myne, jou kinders is net so ongehoorsaam soos myne, jy is net so ongelukkig in jou werk, jy is net so sonder vreugde, jy is net so depressief, hoekom sal ek hoegenaamd na enige iets wil luister wat jy te sê het?” Is die evangelie ’n blye boodskap in jou eie lewe? Jesus ontmoet ’n vrou wie se lewe ’n gemors was in Johannes 4. Hy vertel aan haar “…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige leweJohannes 4:13-14. In die gesprek ervaar sy vernuwing en sy hardloop terug om die hele dorp te gaan roep. Nêrens het Jesus haar ’n opdrag gegee om die mense van haar dorp te gaan roep nie. Hierdie vrou kon nie die fontein wat uitgeborrel het keer nie. Sy moes vertel. Sy was oorstelp van vreugde. Sy laat haar belangrike besitting, haar waterkan, net daar. God gebruik ’n vrou vol seer en mislukkings om ’n dorp te gaan roep. Hierdie evangelie wat ek verkondig sal nooit leeg terugkeer nie. Jesaja 55:10-11 Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur. God sal dit gebruik. Al sien jy nie nou die effek van jou evangelisasie en jou bediening aan jou bure en werkskolegas ens. nie, kan jy seker weet God gebruik dit.

Ampte

God gebruik die ampte om mense toe te rus vir hulle werk in die wingerd. Die ampte is daar om die gelowiges op te bou in die Woord, hulle te bemoedig en te ondersteun. Verder word van die leiers ook gevra om die gelowiges te vermaan. 1Thessalonissense 5:12 Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan. Die ampte is soos herders wat die skape moet oppas en versorg sodat hulle kan groei tot geestelike volwassenheid.

Tug

Tug is die taak van elke gelowige. Tug is nie net die verantwoordelikheid van die leierskap in die gemeente nie. Nee, elke gelowige moet mede verantwoordelikheid aanvaar om mense wat dwaal of in sonde volhard te vermaan. Baie keer is daar individue bewus van sondes in mede lidmate se lewens en omdat hulle bang is vir vervolging of verwerping vermy hulle dit om met hierdie lidmate in gesprek te tree. Nie net is hierdie soos ’n kanker wat dan in die kerk versprei en baie skade aanrig nie, maar die persoon wat vasgevang is deur sonde se lewe word verwoes. Die grootste liefde wat aan ’n persoon wat in sonde volhard bewys kan word is om so ’n persoon in liefde te vermaan. As hy/sy nie luister nie en nadat die kerk as geheel hierdie persoon gewaarsku het en hy/sy nogsteeds volhard moet ons geen gemeenskap met hierdie persoon hê nie. 1Korintiers 5:11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Natuurlik is ons terdeë daarvan bewus dat God hierdie persoon indien hulle werklik sy kinders is, sal tug. Hebreërs 12:5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. Daar nie teen staande word ons beveel om as gelowiges God se opdrag, nl. in die tug handeling, toe te pas aangesien dit die manier is waarop God sy kerk suiwer.

Slot

God begin die geestelike werk in elke gelowige en Hy belowe dat Hy dit sal voleindig. Hy gebruik gewone mense, ek en jy, om mekaar op hierdie geestelike pad te help en te versorg, sodat ons met sukses die pad tot aan die einde kan loop. Die grootste gevaar is mense wat hulself afsonder van ander gelowiges en dink dat hulle alleen geestelik sal groei. Ons het mekaar nodig en God het dit in Sy almag so bepaal en sy Kerk so ingerig dat dit ‘n struktuur sal wees waarin Sy kinders kan floreer. God sal sy kinders bewaar en vashou en hy wil elke gelowige gebruik in hierdie diens aan sy kinders. Judas 1:24-25 Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.