Verander my wil!

16- Die genade maak die wil geestelik lewend sodat hy gehoorsaam word. Die mens het egter deur die sondeval nie opgehou om ‘n mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie. Die sonde, wat die hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die mens nie weggeneem nie, maar dit bederf en in geestelike sin gedood. Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin ‘n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil. Inderdaad, as die wonderlike Werkmeester van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het nie, dan sou die mens glad geen hoop hê om deur sy vrye wil uit die sondeval op te staan nie. Deur sy vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in die verderf gestort.

Inleiding

Onweerstaanbare genade is wat God aan elke gelowige skenk. Dit is ‘n genade wat die mens nie kan weerstaan nie, en waarop hy/sy altyd “ja” sal antwoord.  Ongelukkig pla hierdie tipe genade baie mense omdat hulle voel dat die mens dan van sy vrye wil gestroop word. As jy net een keuse het, dan voel dit nie regtig soos ‘n keuse nie. Die mens moet egter besef dat na die sondeval het elke mens, sonder God se genade, ook nie ‘n keuse nie, omdat die wil van die mens, alhoewel dit bestaan, geestelik nie vir God kan “sien” en daarom vir Hom kan kies nie. Elke mens kan doen wat hy/sy wil, ongelukkig wil die mens, sonder God se genadegawe van geloof, nie aan God gehoorsaam wees nie.  Geen mens sal met sy vrye wil homself kan red nie. Selfs Adam, voor die sondeval, se vrye wil het veroorsaak dat hy teen God ongehoorsaam was. God is die een wat ons wil lewend maak, verander en vernuwe.

Onweerstaanbaar, maar ongedwonge

As God ons lewendig maak, laat hy ons nie in die toestand waarin ons ons bevind nie. God dwing ons ook nie teen ons wil om iets te doen nie. Dit is nie dat ons lewendig is en geen wil meer het nie. Nee, God is die Een wat ons wil vernuwe en verander. Filippense 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Hy vernuwe my wil na Sy wil.  Dawid, na sy sonde met Batseba, bid in Psalm 51 dat die Here hom sal vergewe en in vers 14 bid hy dat die Here hom ’n gewillige gees sal gee. Psalm 51:14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ons gebed tot die Here, saam met Dawid, is dat ons ’n gewillige gees sal hê. Luister hoe Jeremia dit stel. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God. Jeremia 31:18. Ons soek nie meer ons eie begeertes nie. Hy vra dat die Here hom sal verander, dan sal hy homself verander. Is dit nou God se werk of Jeremia s’n? Dit is die spanningslyn wat nooit in die Woord opgehef word nie. Ek doen, kies, leef en wil, maar slegs omdat God dit eerste in my gewil het.

God se wil teenoor my wil

Die gelowige se grootste vrees behoort te wees dat God vir hom/haar sy eie wil sal gee, want ons ken nie die toekoms nie en weet nie regtig wat die beste vir God se koninkryk is nie.  Dink maar aan Hiskia wat God gesmeek het om eerder sy eie wil te ontvang as die wil van God. God het deur Jesaja aan Hiskia aangekondig dat hy sou sterwe. Jesaja 38:1  In dié dae het Hiskia dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie. Die Bybel vertel ons dat Hiskia hieroor glad nie gelukkig was nie en hy het God gesmeek met trane om sy plan te verander. Tot op hierdie stadium het ons Hiskia leer ken as ’n koning wat aan God gehoorsaam was, maar hier besef ons dat Hy nie regtig vir God lief was nie. Dit gedagte dat hy sou sterf en nie meer die aardse dinge sou kon geniet nie, was vir hom verskriklik. God gee dan aan Hiskia wat sy hart begeer het en hy ontvang ’n ekstra 15 jaar. God gee hom oor aan sy eie wil –  wat gekenmerk word deur sonde, wat aan ons duidelik sigbaar word deur sy hoogmoed en aardse trots. Na ’n voorval waarin hy aan mense uit Babilon sy koninkryk wys en daaroor spog, kondig God sy straf soos volg aan: Jesaja 39:5-7 Toe sê Jesaja vir Hiskia: Hoor die woord van die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die HERE. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel. Sy antwoord hierop is dat dit goed is solank daar net vrede in sy eie tyd is. Daar is geen berou nie, maar net selfsug in sy antwoord. Die gevolg van sy laaste 15 jaar is duidelik sigbaar in sy seun Manasse wat hom opvolg op twaalfjarige ouderdom. Manasse word een van die wreedste konings, wat selfs sy eie seun geoffer het aan afgode.

Hiskia was net soos die volk in die woestyn wat elke keer net hulle eie wil gesoek het. Hulle het gekla en murmureer as God nie vir hulle gegee het wat hulle wou gehad het nie. Die Psalmdigter vertel dat God hulle op die ou end hulle eie begeertes gee “maar in hulle siel ’n maerte gestuur het.” Psalm 106:15. Soek jy ten alle koste jou eie wil? Of bid jy soos Dawid en Jeremia, dat God jou wil sal verander na Sy wil.  Baie mense het die idee dat as God net vir hulle hul eie begeertes sal gee dat hulle dan werklik gelukkig sou wees. Geluk kan egter alleenlik gevind word in ons wandeling met God. Om ‘alles’ te hê sonder God, beteken jy het niks! Om ‘niks’ te hê nie saam met God, beteken jy het alles. Daarom is die Bybel baie duidelik dat die gelowige vergenoegd moet wees in alle omstandighede. Paulus vertel ons dat hy dit geleer is. Filippense 4:11-13 Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Vers 13 word baie keer deur sogenaamde motiverings guru’s uit konteks aangehaal asof jy enige iets kan doen as jy net jou kop daarop sit. As jy die hele gedeelte in konteks lees is dit duidelik dat dit nie die betekenis is nie. Paulus sê dat ons alles kan hanteer wat God op ons pad bring want Hy sal ons die krag gee. Ons kan bid dat God se wil sal geskied en weet dat dit die beste sal wees. Jesus was volkome mens en volkome God. As volkome mens kon Jesus in die tuin van Getsémané bid dat die beker van lyding van Hom weggeneem sou word. Hy het geweet wat vir Hom voorlê. Hy het geweet dat Hy die sonde van die wêreld sou dra. Tog, met alles wat Hy geweet het, kon hy elke keer sy gebed afsluit met “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Mattheus 26:39. Is ons nie bly dat God se wil geskied het nie!?

Kennis van die Woord

God verander my wil deur die Gees. Een van die maniere waarop die Gees dit verander is deur die kennis van God se Woord. Hoe meer die gelowige God se Woord leer ken hoe meer kom hy/sy agter hoe voordelig dit vir hulle is dat God se wil geskied eerder as hulle eie. Ons kom onder die indruk dat God se wil regtig die voordeligste vir my is. Die Woord maak dit aan my duidelik dat God baie beter weet as wat ek ooit kan weet. Hy alleen ken die toekoms en daarom weet Hy alleen hoe elke situasie op die ou end voordelig kan wees in my lewe. Dink maar aan Paulus en Silas wat geslaan en in die gevangenis gegooi word. Wat kan nou wonderlik hieraan wees? Hulle is in haglike omstandighede in die tronk, in pyn met bloed wat by hulle rûe uit sypel. Paulus en Silas is gevul met die Gees en hulle is mans wat weet dat die lewe Christus is en die sterwe wins. Daarom kan hulle sing in die middernagtelike ure. Sing jy in die donkerste ure? God gebruik hierdie gebeurtenis om ’n tronkbewaarder en sy hele huis te ontmoet. Handelinge 16:31-33 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. Hierdie kennis help my om in moeilike omstandighede te besef dat God my omstandighede kan gebruik om mense te red. Omdat jou wil, as kind van God, geestelik lewend is, is dit ook nou jou begeerte dat mense tot geloof sal kom en kan jy God vir jou omstandighede loof.Kan jy sien hoe die kennis van die Woord my begeertes kan verander na ’n soeke van God se wil bo die van my eie?

Ervaring van die Woord

Wat natuurlik saam met die kennis gaan is as ek daardeur geoefen word deur ervaring. As ek in gehoorsaamheid aanvaar dat God beter as ek weet word ek geleer, deur elke ervaring wat my te beurt val, dat dit tot my voordeel was vir my geestelike groei. God het Abraham deur nege toetse geneem voordat Hy van hom gevra het om sy seun te offer. Teen hierdie tyd het Abraham al geleer dat God se wil vir sy lewe beter was as enige iets anders. Daarom was Abraham, nadat hy die opdrag van God ontvang het, bereid om vroeg die volgende oggend te vertrek om God se opdrag uit te voer. Genesis 22:3  Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ‘n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het. Wees gehoorsaam. Strewe na gehoorsaamheid in alles. Elke toets wat jy deurstaan, maak jou sterker en leer jou om nie op jou eie verstaan van dinge staat te maak nie, maar om op God te vertrou.

Slot

Kan jy sien hoe die gelowige nie net lewendig gemaak word nie, maar dat sy wil so verander word dat sy wil gelyk word aan God se wil. Word ek gedwing om teen my wil dinge te doen of te aanvaar. Nee, ek wil nou wat God wil, omdat ek sy onweerstaanbare genade ontvang het. Dit is so mooi, so heilig, so wonderbaar, so kosbaar, so lieflik en so kragtig dat dit vir my onweerstaanbaar is. My gebed word ‘n soeke na Sy wil bo enige iets anders. Daarom sê Jesus aan sy volgelinge die volgende: En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Johannes 16:23. Wat beteken dit? Beteken dit dat enige iets wat ek vra die Here vir my sal gee? Natuurlik nie, die Woord is baie duidelik daaroor. ‘In My Naam’ beteken volgens Sy wil, volgens wie Jesus is. Die gelowige se gebed sal gekenmerk word deur kinders wie se wil so verander is dat hulle Sy Wil sal soek in hulle gebede en dus in Sy Naam sal bid. God se wil sal geskied. Dit is deur God se genade dat ons gered is en ons vind dit onweerstaanbaar!