Is geloof uit genade?

14- God gee die wil om te glo en die geloof self, in die mens; nie aangebied vir die mens se vrye keuse nie. So is die geloof dan ‘n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit aan die mens inderdaad geskenk word en vir hom ingegee en ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee nie en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die daadwerklike geloof verwag nie. Sowel die wil om te glo as die geloof self word in die mens tot stand gebring. Immers, Hy wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk bewerk alles in almal.

15- Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie – dank Hom net daarvoor Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf niks kan gee nie en waarvoor hy dan vergoed moet word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Dié mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig en hy dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae, of beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word want die binneste van die hart is aan ons onbekend. Vir die ander wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so ‘n bevoorregte posisie geplaas het nie.

Inleiding

Wanneer ons aan ‘n appel dink, dink ons aan ‘n vrug. Hierdie vrug bestaan egter uit ‘n skil, ‘n stingel, ‘n stronk en die vlees van die appel. Die stronk kan ons weer verdeel in die harde vesel gedeelte en die pitte. Net so kan die Redding van die mens in dele opgedeel word, maar dit is een proses waar die een gedeelte nie los van die ander kan bestaan nie. Ons het in die vorige inskrywing gesien hoe God, deur die Heilige Gees, geestelike dooie mense lewendig maak. Die Dortse Leerreëls wil dit egter baie duidelik maak, dat ons nie geestelik lewendig gemaak word, om die heerlikheid van Jesus as ons Verlosser te aanskou, en dan die keuse gebied word of ons in Hom wil glo of nie. Hoewel geloof deur die Heidelbergse Kategismus gedefinieer word as kennis en vertroue, is dit onlosmaaklik deel van die reddingsproses en is dit ’n gawe. Om Geestelik lewend te wees, beteken dat jy die gawe van geloof ontvang het – geloof wat oorgaan in dade van gehoorsaamheid. Die Bybel sê dat ons uit genade gered word, deur geloof. Wedergeboorte en geloof is onlosmaaklik deel van mekaar. Hierdie gawe moet nie gesien word as die aanbied van ‘n geskenk nie. Jy kan nie na die geskenk kyk en besluit of jy dit wil hê of nie. Nee, dit word met jou wedergeboorte in jou “ingestort”. Jy het dit of jy het dit nie. Jy mag dalk weet van mense wat glo dat die evangelie van Jesus Christus waar is, maar besluit om Hom nie te dien nie. Hulle glo nie werklik nie. Hulle geloof is mensgemaak en dalk akademies, maar geen mens wat werklik glo in wie God is, sal Hom nie aanbid en ‘n verhouding met Hom wil hê nie. Daardie geloof is deel van die mens se redding en vloei uit in ‘n lewe vol Godsvrug.

’n Gawe uit genade

Tot dusvêr het ons geluister hoe die Dortse Leerreëls ons leer dat die Woord dit duidelik maak dat ons wederbaar is enkel alleen op grond van God se genade. Ons verstaan dat ons lewend gemaak is deur die Heilige Gees wat ook in ons harte uitgestort is en dat dit ook ’n geskenk is wat onverdiend uit God se hand kom. Titus 3:4-6  Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het— nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser. Wat dan van geloof? Glo ek nou uit myself omdat ek lewendig gemaak is deur God? Het geloof dus sy oorsprong in myself? Efesiërs antwoord hierdie vraag onomwonde. Dit begin om in hoofstuk 2 vers 1 dit duidelik te maak dat ons dood was deur ons sonde, net soos die res van die wêreld, en dan vers 5 wat vertel dat ons lewend gemaak is en uit genade gered is. Efesiërs 2:5  ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered. Dan verduidelik hy waar ons geloof vandaan kom. Efesiërs 2:8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. Net so min as wat wedergeboorte uit ons self kan kom, kan geloof sy oorsprong in die mens hê. Dus is wedergeboorte en geloof ’n gawe – ‘n reddende gawe!

Die grootte van geloof

As jy dink hierdie afleiding is verkeerd bevestig Efesiers 2 vers 9 dit weereens as dit sê dat om hierdie rede kan niemand roem nie. Niemand kan roem oor hulle redding nie. Niemand het enige iets gedoen sodat hulle kon verdien om gered te word nie. Dit is dieselfde met geloof. As geloof uit jouself was, het jy rede gehad om daarop te kon roem. Maar as dit ’n gawe is, soos wat die Bybel dit duidelik maak, is dit ’n geskenk. Die vraag kan maklik ontstaan waarom sekere mense dan “meer” geloof het as ander.  Waarom kan party soos Petrus slaap terwyl hulle bewus is dat hulle heel waarskynlik die volgende dag tereggestel sou word? Handelinge 12:6 En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. Ander slaan egter in sweet uit as hulle voor die kleinste probleem te staan kom. Miskien is dit goed om ook na Petrus, gevul met die Gees, te kyk as hy, net soos ons, ook struikel in sy lewe. Paulus vertel van ’n geleentheid waar Petrus by hom en Barnabas was terwyl hulle saam met die heidene geëet het. Daar het toe mense van Jakobus se gemeente in Jerusalem aangekom en van toe af wou Petrus nie meer saam met die heidene eet nie. Paulus het hom onmiddellik tereggewys. Galasiërs 2:14  Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? Het die Heilige Gees verander in Petrus? Het God sy geloof verminder? Nee, die fout was by Petrus, soos die fout altyd by ons as mens gevind kan word. Geloof beteken dat jy weet wie God is en vertrou op Sy wese. Wanneer jou geloof swak is, is wanneer jy begin twyfel in een van daardie aspekte. Of jy vergeet wie Hy is, of jy vertrou Hom nie meer nie. Elke gelowige het dieselfde Gees en dus dieselfde geloof as die manne van die Woord. Die vraag is, is jy gehoorsaam. Wie vrees jy die meeste? Wanneer ons vra vir “meer” geloof, vra ons dus vir meer gehoorsaamheid.

Genadegawe

Die genade van God is aan niemand “verskuldig” nie. Dit is wat die woord beteken. Dit is ’n geskenk. As Paulus van die moeilikste begrippe rakende die uitverkiesing aan sy lesers verduidelik gaan hy oor in ’n doksologie. Dit beteken hy verheerlik die Here. Hy verklaar dat hierdie dinge te hoog is vir die mens se denke. Luister wat sê hy in vers 35 wat deel vorm van die doksologie. Romeine 11:35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Jy moet verseker weet dat dit wat God gedoen het, nie is omdat jy iets vir Hom kan doen nie. Is dit nie iets wat vandag vergeet word nie? Hoe baie keer het ek al gehoor dat mense van sekere individue praat asof, as húlle tot bekering kom, hulle vir die Here se werk ’n groot aanwins sal wees. Die mens ’n aanwins vir God? Sal dit tot voordeel vir Hom wees om jou op sy “span” te hê? Watter arrogansie!? Het jy vergeet van Bileam en die donkie? Bileam wil sy eie ding doen. God stuur sy engel en die engel neem aan die einde stelling in op ’n nou plek waar die donkie nie regs of links kon gaan nie. Bileam is kwaad en slaan die donkie. Dan open God die donkie se bek: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het? Numeri 22:28. God kan ‘n donkie gebruik. Hy kan ’n donkie se bek oopmaak om te praat en ’n halsstarrige man te waarsku. Hieroor moet die gelowige dankbaar wees en bely dat die Here dan vir my ook kan gebruik. Paulus maak hierdie punt duidelik aan die Korintiër gemeente wat herhaaldelik besig was om in ’n woordestryd met mekaar gewikkel te wees oor wie die belangrikste was. 1Korintiers 1:26-29  Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Hy sny hulle af by hulle knieë. Sy argument is duidelik dat as dit gegaan het oor menslike wysheid en manne en vroue met eer sou God nie een van hulle gekies het nie. Kyk na jouself. Die Here het vir jou gekies sodat as iemand na jou geestelike lewe sou kyk hulle net aan God die eer kan gee.  1Korintiers 4:7  Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie? 

Roeping

Dit is duidelik dat God geloof skenk uit genade aan wie hy wil. Godsvrug is ’n uitvloeisel van ware geloof en ons kan mense aanmoedig en aanprys indien hulle vir die Here leef in woord en daad. Ons weet egter nie wat in mense se harte aangaan nie en dit is ook nie ons taak om mense se harte te beoordeel nie. Net so is daar mense wat glad nie in God glo nie en vir hulle moet ons bid, want ons ken nie God se plan in hul lewens nie. Gebed is ’n opdrag van God en dit moet elke gelowige se begeerte wees dat ander ook gered moet word. Jy is nie beter as ander omdat jy glo nie. Jy is gekies en word nou geroep om in God se wingerd te werk, deur die evangelie van Jesus Christus te verkondig aan almal, tydig en ontydig.

Dankie

Lewe jy uit dankbaarheid vir die genade wat jy ontvang het? Het jy vreugde soos die vrou by die put, wat al vyf mans gehad het en by die sesde een gebly het, wat verstaan het dat daar niks goed in haarself was nie? Is jy soos die vrou van Kapernaum, wat deur Jesus vergelyk word met ’n hond, en dan beaam dat sy wel ’n hond is en net van die krummels sou wou eet? Hierdie narratief kom voor nadat die Fariseërs verontwaardig was omdat Jesus hulle tereggewys het. ’n Gelowige is iemand wat verstaan dat hulle slegter verdien as wat hulle ontvang. Daarom kan ’n gelowige nooit onvergenoegd wees nie. Alles wat ons het, is ’n geskenk en ons word oorlaai met hartlikheid en ons bekers loop oor.

Slot

Wedergeboorte, geloof en goeie dade is onlosmaaklik deel van mekaar. Dit is die proses van redding en word deur God in sy uitverkorenes, sy kinders, bewerk. Jy is dood – Hy maak jou lewendig. Jou geopende geestesoë sien jouself vir wie jy is en hoe vêr jy te kort skiet. Jy sien die wonder van God se verlossingsplan met Jesus as jou Verlosser, wat jou sonde wegneem en ’n verhouding met God moontlik maak. Hy skep in jou die wil om God te ken en Hy laat jou glo. Hy gee jou die krag om elke dag jou lewe te bekeer om in gehoorsaamheid vir God te leef. Hy skenk, uit genade, ‘n nuwe lewe, om God te verheerlik en Hom te geniet – vir ewig en ewig.