12- Die wedergeboorte is ‘n magtige daad van God alleen, geen menslike bydrae nie. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, ná die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.
13- Alhoewel die daad onverstaanbaar is, stel dit gerus. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle ‘n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet.
Inleiding
Magtige dade. Wat sal jy vandag verklaar as magtige dade? Weerlig, ontploffings, vuurwerke en storms is alles skouspelagtige dinge. Dinge wat die mens in absolute verwondering laat – fisiese verwondering. Dinge wat ek kan hoor en sien en voel.
Die Bybel, geïnspireer deur God, sê egter duidelik dat die kragtigste daad is om iemand uit die dood op te wek. Jesus sê aan sy dissipels, nadat hulle al Sy wonderwerke gesien het, dat ons nog veel groter wonders sal aanskou na die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle het gesien hoe Lasarus fisies uit die dood opgewek is. Het jy al ooit so ’n groot daad gesien of ervaar? Het Jesus gejok deur te sê ons sal groter wonders sien?
Die dood
Dood. Do(der). Dood(ste)? Nee, dood is werklik dood. Ons het nie trappe van vergelyking vir die dood nie. Niemand dink aan een persoon as meer dood as ‘n ander nie. Dood is die groot gelykmaker. Elke persoon wat in die wêreld leef word deur die Woord as dood geklassifiseer. Die persoon wat elke dag in die kerk sit sonder om wederbaar te wees en die persoon in die maksimum gevangenis met ’n rekord soos lank soos my voorarm, is albei ewe dood. Die enigste verskil is dat die een al meer ontbind voorkom as die ander. Ons het altyd die idee dat die mens nie so sleg is nie, of net die beste intensies het, maar dit is vêr verwyder van die Bybel se beskrywing van die mens. Rigters is een van die boeke in die Bybel wat die mens openbaar vir wie hy is. Die boek volg die mense wat geleef het na die intog van die Israeliete in die beloofde land. Die Bybel praat nie hier van heidene nie, maar wel Israeliete. Rigters 21:25 som hierdie tyd baie goed op: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” Hoe het dit in een generasie so vinnig agteruitgegaan? Die Skrif vertel dat die Rigters generasie grootgeword het sonder om te weet wat God vir hul voorvaders gedoen het. Rigters 2:10 En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. As jy mooi na hierdie vers kyk besef jy dat die probleem alreeds by hul ouers was. Hoe is dit moontlik dat ’n kind in ’n ouerhuis kan groot word waar die ouers God se krag ervaar het, maar die kinders nie daarvan weet nie? Kan jy hierdie ouers enigsins as lewendig beskryf? Die vraag is net so legitiem vandag. Watter kind word groot in ’n gelowige huis en het geen bewustheid van wie God is nie? Kinders wat nie die verhale van die Skrif en nog minder die verhale van God se werk in hulle ouers se lewens ken nie. Dit is duidelik dat hierdie ouers dood was en met hulle kinders is die ontbinding net meer sigbaar.
Geboorte
As God praat oor wat in die gelowige se lewe plaasvind word dit vergelyk met lig en donker, lewe en dood. Daar moet geen twyfel wees dat dit God is wat iemand transformeer nie. Die mens is maar net soos ‘n lykskouer wat iemand (dalk jouself) meer vertoonbaar kan maak vir ‘n begrafnis. God egter maak nie net mooi nie – Hy verander! Hy verander ‘n ruspe na ‘n skoenlapper, nie ‘n mooi ruspe nie. Daar is geen twyfel dat ’n metamorfose plaasgevind het nie en dat ons nie meer praat van ’n ruspe nie, maar wel van ’n skoenlapper. Luister wat sê God in 2 Korintiërs 4:6. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Hier word dit wat plaasvind in die gelowige se hart vergelyk met die Skepping in die begin. Terwyl alles donker en leeg was, het God gespreek dat daar lig moet wees. Onmiddellik was daar lig wat die skepping verhelder het. God het in ons donker harte geskyn en lig gebring waar daar net donkerte was. Die lig word aangesit en ons sien die aangesig van Christus wat spreek van God se heerlikheid. Daarom net soos met die Skepping het daar ‘n totale transformasie plaasgevind in die gelowige. 2Korintiërs 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. Weereens is die metafoor die skepping.
Is hierdie daad kragtig? Gaan dit gepaard met skouspelagtige vertoon en sien ons weerligstrale met hemelse kore wat in ons ore sing? Wie het al ooit gesien hoe lyk die uitdrukking op ‘n dowe babatjie se gesig, nadat hy/sy ‘n gehoor inplanting gekry het en vir die eerste keer kan hoor? Of ‘n persoon van wie se oë katarakte verwyder is en weer kan sien? Vir elke gelowige is dít die begin ervaring wanneer God die lig in jou lewe laat skyn – daaglikse verwondering. Wanneer jy die wonder van Christus aanskou en Hy die lewe in jou begin, is dit ‘n wonder wat min mense kan beskryf. Die Psalms gee uiting aan hierdie emosies. Net soos die Dortse leerreëls kan elke gelowige sy/haar wedergeboorte beskryf as ‘’ ‘n Volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God.’’
Die gelowige kan getuig, dat voor wedergeboorte, hy/sy geestelik dood en soos Lasarus in die graf, tot geen lewe in staat was nie. Lasarus bevind homself, sonder enige werking uit homself, aan die buitekant van die graf, met die heerlikheid van die son wat op hom skyn en met Jesus, sy Verlosser, voor oë. Jesus het sy volgelinge voorberei op wat Hy kom doen het sodat hulle in hierdie wonderwerk iets meer as bloot ’n man moes sien wat lewendig geword het. Johannes 5:25 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Van watter “dode” praat hy? Word hier van mense gepraat wat liggaamlik sterf en sy stem sal hoor? Vers 24 maak dit duidelik dat Hy praat van die ewige lewe wat in Hom is. Hoe hoor iemand wat dus dood is geestelik sy stem? Net God kan dit moontlik maak deur die werking van die Heilige Gees soos wat Hy alreeds in Hoofstuk 3 aan Nikodemus verduidelik het. Johannes 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Miskien moet ek net weer duidelik maak dat die Grieks hier vir “weer gebore” beteken om “van bo” gebore te word. Dus is die klem weereens daarop dat hierdie geboorte in totaliteit vanuit God is.
Gelowiges is nuwe skepsels, die oue is verby. Hulle begeertes is nou die van die nuwe mens. Hulle begeertes is nou in die Woord van die Here. Al sondig hulle is hulle begeertes om die wil van God te doen. Daarom is daar ’n stryd waarvan Romeine 7 ook praat. Romeine 7:21-22 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens. Die gelowige wat vernuwe is, wil nou die goeie doen. Dit is sy begeerte. Hy verlustig hom in die wet van God.
Sekerheid
Hierdie lig wat skyn in my hart en die dooie mens wat lewendig word, bring ’n sekerheid van verlossing vir die gelowige. Die gelowige sal nooit die totaliteit van God se werk in sy/haar lewe verstaan nie, maar wel die uitwerking daarvan sien en dit bring vrede en versekering. As die versekering van transformasie in die persoon gesetel is, sou die gelowige nooit sekerheid kon hê nie. Is ek werklik gered? Behoort ek werklik aan die Here? Hierteenoor staan dit vas dat as die werking van God af kom en die gelowige die uitwerking van sy herskepping ervaar, die gelowige verseker kan wees van Sy redding. Niemand wat die son sien opkom en voëls se geluid hoor in die oggendure twyfel of hy lewe al dan nie. Die vreugde in God se Woord kan alleen daar wees as ek lewendig gemaak is. Die begeerte om die wette van God te oordink en my lewe daarvolgens in te rig kan net kom uit ’n hart waarin die lig skyn. Die lig wat slegs God kan laat skyn. Jy het ’n opgewondenheid soos die vrou by die put, soos die apostels en die vroeë kerk om uit te gaan en sy naam te bely. Romeine 10:9-10 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
Dooie mense het geen begeerte om enige iets te bely nie, hulle kan nie. Lewendige mense kan jy nie stil kry nie. Jou sekerheid is nooit in wat jy gedoen het of doen nie, maar wel in wat God in jou gedoen het. Die gewaarwording van lewende water wat uit my binneste vloei is die gewaarwording van ’n Grote en liefdevolle God was Sy genade in my uitgestort het.
Slot
In die algemene taal sê iemand: “Ek het tot bekering gekom” Is hierdie spreekwyse dan verkeerd? Nee, want dit is jy wat tot bekering gekom het. Jy het verander, jy het besluit om jou lewe te verander en in geloof en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God te leef. Hierdie bekering is egter die gevolg van die wedergeboorte wat as kragtige wonder van God en van Hom alleen af kom. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Sou jy kon besluit om nie ‘’tot bekering’’ te kom nie? Kon Lasarus besluit om dood in die graf te bly, nadat Jesus hom lewend gemaak het? Verseker nie! Hoewel ons nie hierdie wonder verstaan nie, kan ons in vreugde daaruit leef, met die versekering dat ons aan Hom behoort as herskepte mense. God het die werk begin en hy belowe in Filippense 1:6 ‘’Hy wat die goeie werk in julle begin het, sal dit voltooi tot op die dag van Christus Jesus’’
