Hy herskep!

11- God omskep die uitverkore mens na ‘n nuwe mens deur Sy Gees se werking. Verder: wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

Inleiding

Vir baie mense is die lewe een groot kompetisie. “Wie is die beste, vinnigste, gewildste, rykste” en ja, self onder Christene, wat dalk nie in die aardse dinge kompeteer nie, maar met die geestelike, “wie dra die meeste vrug?”. Wie is die nederigste, dankbaarste, liefste ens? Net in die eerste voorbeeld van die nederigste, behoort ons alreeds die probleem raak te sien. Indien jy jouself as die nederigste verklaar, is jy verwaand in daardie opsig en val jou hele reg op die titel plat. Die Dortse leerreëls wil van alle kante aan ons beklemtoon dat die totale reddingswerk ’n werk van God is. Oral waar die mens dalk ’n aandeel in kon hê word onmiddellik in die kiem gesmoor. God kies en dan herskep Hy sy uitverkorenes op Sy tyd en op Sy manier. Hierdie herskepping word gedoen deur die Derde Persoon van die Drie-eenheid, nl. die Heilige Gees.

God verkies

Ons het alreeds in diepte na die uitverkiesing gekyk in vorige inskrywings, maar net ter inleiding weer die volgende:

Alles wat gebeur, gebeur soos dit God behaag. Luister wat sê Paulus aangaande sy eie wedergeboorte. Galasiërs 1:15-16  Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig… Hy begin om te sê dat dit wat plaasgevind het op die pad na Damaskus, plaasgevind het op daardie spesifieke dag en spesifieke plek soos wat dit God behaag het. Dit staan sonder enige twyfel by Paulus, gelei deur die Heilige Gees, om te skrywe dat hy al aan God afgesonder was van die skoot van sy moeder af. God het alreeds voor sy geboorte ’n plan en doel met sy lewe gehad.

God openbaar aan Paulus dat daar baie mense in Korintiërs aan Hom behoort, nog voordat Paulus se bediening in erns daar begin het. Handelinge 18:9-10 En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. God het alreeds geweet wie dit sou wees wat in Korintiërs op Paulus se bediening sou reageer, nog voordat hy sy mond oopgemaak het. Hy ken diegene wat aan Hom behoort nog voordat hulle, of enige iemand anders, dit self weet. Luister mooi na Jesus se gebed in Getsémané: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Johannes 17:6. Die vraag is in watter sin hulle aan die Vader behoort het voordat hulle aan die Seun gegee is. Die Skrif is duidelik, as dit telkemale sê, dat ons uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld. Hy het ons dus verkies om aan Hom te behoort van ewigheid af. Efesiërs 1:4-5  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil. Kan dit duideliker gestel word? Kyk tog ook hoe dit beklemtoon word dat dit volgens die “welbehae van Sy wil” is. Tog, soos in Paulus se geval, het dit wat God beplan het eers aan hom en aan ander sigbaar geword op ’n dag waarop hy op pad was na Damaskus. Op hierdie dag is God se Seun aan hom geopenbaar. Die gelowige kan dus bely dat God se wil in sy lewe geskied het.

God herskep

Herskepping beteken om iets oor te maak. Ons kan dinge van buite verander. Ons kan byvoorbeeld mens se gedrag verander deur allerhande belonings strategieë en programme. Ons kan iemand se uiterlike beeld verander, deur allerhande kosmetiese veranderings. Wat die mens egter nie kan doen nie is om die wil van die mens te verander om dieselfde te wees as die wil van God. Om die motief vir ’n persoon se dade te verander sodat dit gewortel is in sy begeerte om God te dien en te verheerlik – dit kan net God doen.

Die eerste stap in herskepping, is dat die persoon moet glo in God en in die waarheid van die Evangelie van Jesus Christus. Om dit te glo, moet ‘n persoon die evangelie hoor en die saad moet val op voorbereide grond, sodat dit kan ontkiem, groei en vrug dra.

Die eerste wat die Heilige Gees doen, is om ons harte te open sodat ons kan ag gee op die persoon wat die evangelie aan ons verkondig. Hy berei die grond voor. Lydia is vir my ’n wonderlike voorbeeld van hoe God werk in iemand se lewe terwyl die Woord aan haar bedien word. Handelinge 16:14 En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. Waarom het Lydia ag gegee op wat Paulus gesê het? Die Woord is duidelik – God het haar hart geopen. Hoe afhanklik is ons nie as ons die evangelie bedien aan ander nie? Ons moet bid dat God hulle harte sal open. Mag ons meer tyd bestee om God se aangesig te soek, aangesien Hy alleen mense kan verander.

God se Gees verlig ook vêrder ons verstand sodat ons die geestelike dinge kan verstaan. Ons verstand is verdorwe. Niemand, voor wedergeboorte, het ’n “goeie” of “gesonde” verstand soos baie op aanspraak maak nie. Jy hoor so maklik mense sê dat jy jou goeie verstand moet gebruik. Dit klink dalk mooi, maar niks kan vêrder van die waarheid wees nie. Ons kan die Woord nie reg verstaan sonder die Gees se verheldering nie. 1Korintiers 2:10-14 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Die natuurlike mens kan nie die geestelike mens se doen en late verstaan nie. Wat sê jy van ’n man soos Barnabas wat alles verkoop en die woord gaan verkondig? Wat sal jy sê van Esegiël wat aan God gehoorsaam is en vir lang tye op die kante van sy sye lê, omdat God hom oproep om sodoende aan Israel en Juda ’n boodskap te gee. Of toe hy nie moes treur oor sy vrou se afsterwe nie? Wat van Jesaja wat naak en kaalvoet deur die strate moes stap? Paulus wat, na al sy opleiding, na sy stam en volk kan kyk en bely dat alles waardeloos vir Hom geword het? So kan ons gaan kyk na die getuienisse van Christene deur die eeue, wat aan God gehoorsaam was, ten spyte van wêreldse opinies, rykdom en eer. Die oomblik as God jou verstand vernuwe deur die Gees sal die wêreld jou nie meer verstaan nie. Wat vir jou belangrik is, is nie vir hulle belangrik nie en wat vir hulle belangrik is ag jy van geen waarde nie.

Die Heilige Gees se werking stop nie daar nie, maar dring vêrder in tot elke deel van my wese. Hebreërs 4:12  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. Hy sny diep en openbaar elke deel van my wese aan my. Hierdie is nie ’n proses wat oornag plaasvind nie. Die oopbreek van my diepste wese sou te ’n groot skok vir my wees. Daarom is dit ’n daaglikse proses waarin die Heilige Gees my hart aan my openbaar en wegsny wat nie tot eer van God is nie. Hierdie snoei proses is nie maklik nie en gaan soms met baie pyn gepaard. Om jouself te sien vir wie jy regtig is, is skokkend en baie keer ’n groot ontnugtering. Ek kan erken soos die Woord sê Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” Jeremia 17:9. Daarom is my gebed:

“Here verander my. Moet my asseblief nie los soos wat ek is nie. Maak U wil, my wil, sodat ek aan U gehoorsaam sal wees maak nie saak wat die prys sal wees nie.”

Selfs die gebed wat ek bid, word geïnisieer deur die Heilige Gees, wat die begeerte in my plaas en my gewillig maak om te verander. Filippense 2:13   want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Die vrug wat nou in my lewe kom a.g.v. hierdie hartsverandering is ook deur die werking van die Heilige Gees. Mattheus 7:18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 

Slot

Daar is geen kompetisie in Christenskap nie. Elke gelowige is uniek en word herskep na die beeld van God, deur God, vir God. Die eer en die glorie in jou wedergeboorte en lewe gaan aan God. Ons word nie gedryf om vrug vir God te dra, deur die eer van mense nie, maar om God te behaag en aan Hom gehoorsaam te wees. Dit doen ons gewillig en met vreugde. Die oue is verby en het nuut geword. Die ou mens was vir Self, die nuwe is vir God – gekies en herskep tot eer van Sy naam.