Geroep teenoor uitverkies.

9- Baie mense verwerp of steur hulle nie aan die Evangelie nie en bly daarom skuldig. Baie mense wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en word nie bekeer nie. Die skuld hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus wat deur die evangelie aangebied is nie, ook nie in God wat mense deur die evangelie roep en aan hulle ook verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Sommige neem deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aan nie. Ander neem dit wel aan, maar nie in die binneste van hulle hart nie, met die gevolg dat hulle ná ‘n kortstondige blydskap van die tydelike geloof weer terugval. Ander weer, laat die saak van die Woord deur die dorings van die sorge en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie, soos ons Verlosser dit in die gelykenis van die saaier leer.

10. Ander mense weer, wat deur die verkondiging van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet egter nie aan die mens toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei wat net so ‘n groot of genoegsame genade tot geloof en bekering ontvang het. So stel die hooghartige kettery van Pelagius dit. Dit moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies. Hy roep almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof en bekering. Nadat hulle uit die mag van die duisternis verlos is, bring Hy hulle ook in die ryk van sy Seun, om die deugde van Hom, wat hulle uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep het, te verkondig en om nie in hulleself nie, maar in die Here te roem. So getuig die Apostoliese geskrifte telkens.

Inleiding

Die evangelie gaan deur die wêreld en baie hoor die boodskap maar min reageer op die oproep om tot bekering te kom. Jesus vertel ’n gelykenis om hierdie oproep tot mense te illustreer in Mattheus 22. Dit word in Mattheus gedoen aan die hand van ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun gereël het. ’n Groot aantal van die gaste, wat almal alreeds genooi was, het hulle nie gesteur aan die uitnodiging nie en het net aangegaan met hulle gewone dagtake. Party was selfs so arrogant as om die diensknegte wat die uitnodiging gebring het te gryp en te mishandel en van hulle dood te maak. Hierdie groep behoort aan die leser van die Bybel bekend te wees. Die groep wat bekend was met die beloftes en profetiese uitsprake was die Jode. Deur die geskiedenis was hulle die groep wat die boodskap nie wou aanvaar nie en die ergste van alles – hulle het die Seun doodgemaak. Die vermoording van die Seun word in ’n ander gelykenis uitgebeeld waar die eienaar sy wingerd uitverhuur en die huurders, nie net sy diensknegte nie, maar ook sy seun doodmaak. Die genooides is dus die Jode. Die eerste gelykenis van die bruilof gaan voort om ons te vertel dat die koning mense na elke deel van sy koninkryk uitstuur en almal, ja selfs slegte mense, uitnooi na die bruilof. Die bruilof saal is vol. Jesus sluit die verhaal af deur te sê: “…want baie is geroep maar min is uitverkies.” Mattheus 22:14.

Punt 9 van die geloofsbelydenis gaan oor die baie wat geroep is en punt 10 oor die min wat uitverkies is.

Hoekom aanvaar sommige mense nie die boodskap nie?

In die tyd waarin ons leef wil baie glo dat mense inherent goed is en daarom wil hulle enige negatiewe gedrag of besluite van mense koppel aan iets ekstern. Wie se skuld is dit? So, die vinnige antwoord is sekerlik dat die fout moet lê by die een wat die boodskap verkondig. Ons het almal daardie onderwyser gehad wat ‘n vakgebied vir jou interessant kon maak en jou leergierig gemaak het, terwyl ons daardie onnie gehad het waar ons gesukkel het om ons oë in die klas oop te hou. So kan ons dan die gevolgtrekking maak dat dieselfde geld wanneer die evangelie deur ’n persoon aangebied word. Is dit so dat mense nie die boodskap aanvaar nie, omdat die evangelie nie reg aan hulle oorgedra word nie? Hieroor spreek die gelykenis van die saaier boekdele. Die interessante van die gelykenis is dat dieselfde saad, deur dieselfde persoon, op al die plekke wat Jesus uitlig, gesaai word. Die enigste verskil is die plekke waarop dit gesaai word. By elke groep wat nie vrug dra nie lê die oorsaak in die grond en nie by die saaier of by die saad nie. Die plekke waar die saad val kan verdeel word in twee groepe, nl. waar die saad ontkiem en waar geen ontkieming plaasvind nie. Kom ons gaan kyk in diepte na die groep waar daar wel ontkieming plaasvind. Die groep waar ontkieming plaasvind kan weer verdeel word in twee groepe, nl. die met vrug en die sonder vrug.

Skyn bekering

Waar die saad op die klipbank val is ‘n groep waarvan daar gesê word dat hulle met blydskap die boodskap aangeneem het. Jou blydskap waarmee jy die evangelie ontvang het, is nie die teken van jou verlossing nie. So baie mense het ’n sogenaamde dag en datum waarop hulle die Here aangeneem het, maar hulle lewens is nog sonder vrug. Net so ook die saad wat tussen die dorings en onkruid geval het. Hoewel mense sogenaamd tot bekering kom dra hulle geen vrug nie, omdat hulle verdring word deur die “dorings en onkruid” van die lewe. Hulle is bekommerd oor die materiële dinge. Hulle fokus is op die hier en die nou en die sorge van hierdie wêreld. Daar waar jou gedagtes is, daar sal jou hart ook wees. “My geld en my finansies is vir my so belangrik. Mense en wat hulle van my dink is belangrik.” Hul lewens rig hulle so in dat hulle net nie ter wille van die evangelie moet ly nie. Hulle is “undercover” Christene. Diegene wat vinnig vir jou sal sê dat hul geloof “privaat” is. Hulle staan nie op, bely of ken God se Woord nie. Die oomblik as ’n familielid of vriend hulle teëgaan oor die Woord kruip hulle onmiddellik terug in hulle dop soos ’n skilpad.

Jesus vertel sy volgelinge dat dit belangrik is dat iemand die koste moet bereken voordat hy/sy besluit om Jesus te volg. Voordat ek hierop verder ingaan dink ek dit is tog belangrik om elke gelowige te vermaan om versigtig te wees as jy die boodskap aan ander bedien. Partykeer, in ons gretigheid om ander vir Christus te “wen”, probeer ons die deur so wyd as moontlik oopmaak om so veel moontlik mense te laat deurgaan. Jesus het dit nooit gedoen nie. In hierdie oproep aan die skare dat hulle die prys moes bereken sien ons dat Lukas aan ons meedeel dat dit ’n “groot menigte” was wat Hom gevolg het. Lukas 14:25. Dit is tog interessant hoe, baie keer, Jesus se sterkste teregwysings en die hoë kostes aan sy volgelinge verkondig is, sodra die skares groot geword het. In Johannes 8 roep Jesus die skare op om in Sy Woord te bly as hulle werklik sy dissipels wil wees. Die skare daarenteen wys duidelik dat hulle hul redding sien a.g.v. hulle verwantskap aan Abraham. Hierop antwoord Jesus hulle dat hulle enigste vader die duiwel is. Johannes 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Die kanse is baie goed dat mense die evangelie verkeerd hoor as jy sien dat baie dit te maklik aanvaar. Baie verlaat Jesus elke keer na een van sy velle teregwysing. Tog bly die ware gelowiges elke keer agter. Hulle is soos Petrus wat, nadat Jesus hulle vra of hulle Hom nie ook wou verlaat nie, bely: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe”. Lukas 6:68. Bly by God se Woord, die suiwer saad, en moenie dit meng met jou eie opinies en standaarde om mense se ore te streel nie. Die werk om te laat groei is God s’n en jy net die saaier.

Indien jy die uitnodiging aanvaar en dan tog nie na die bruilof gaan nie, om watter rede jy ook al mag aanvoer, mis jy die fees. Indien jy die boodskap van die Lewendmakende Evangelie aanvaar, met ander woorde, jy glo dit, maar jy rig nie jou lewe daarvolgens in en volg Jesus nie, mis jy die Fees! Hiervoor lê die skuld by jou en by jou alleen.

Uitverkorenes – ware bekering

Teenoor hierdie groep is die wat uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld. Efesiers 1:4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees. Die skuld van die een wat geroep word, maar nie tot bekering kom nie lê by sy eie deur. In teenstelling daarmee, is God die een wat verantwoordelik is vir diegene wat wel hulself bekeer. Geen mens, aan homself oorgelaat, sal ooit vir God kies nie, daarvoor is ons te deurtrek van sonde. Daar is, soos die Bybel sê, niks goed in enige mens nie. Selfs mense wat sogenaamd “goeie dinge” in mense se oë doen, voldoen nie aan God se heilige standaard nie. Slegs dade wat Hom verheerlik kan goed genoem word. Jou verkiesing was uitsluitlik die besluit van God. As Hy, soos baie beweer, in die tonnel van tyd afkyk en sien wie Hóm sou kies en op grond daarvan húlle kies, moet die gelowige, vanuit wat die Skrif ons leer, bely dat Hy niemand sou vind wat Hom op hulle eie sou kies nie. Pelagius het geglo dat mense kan kies of hulle die goeie of die slegte wil doen. Hierop het die Kerk, van die vroegste tye af, geantwoord deur te bely dat selfs die mens se wil verdorwe is na die sondeval. In die tuin van Eden het die mense die wil gehad om te kon kies tussen goed en kwaad, maar na die sondeval is die enigste keuse wat die mens wil uitoefen vir die verkeerde. Ons wil nie God se wil doen nie. Soos die gelykenis van die saaier sal baie die Here volg solank as dit vir hulle goed is en vir hulle tot voordeel geskied.

Hierteenoor staan die man en vrou wat deur God gekies is. Hulle harte word verander en dus ook hulle begeertes. Ewe skielik wil hulle nou die regte doen. Dit behaag hulle om die gebooie van God na te kom. Hulle wil sy Woord bewaar. Daarom sê Jesus dat die kenteken van iemand wat Hom lief het, is dat hy/sy Sy Woord bewaar. Johannes 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Die gelowige is dus ’n persoon wat verstaan dat alles in God Sy begin het, my lewe sowel as my wedergeboorte. Daarom word die gelowige se lewe gekenmerk deur dankbaarheid. Dankbaar vir God se werk in jou wat niks daarvan verdien nie. Daar is niks wat jy kan doen om vir God se geskenk te betaal nie. Hy vra ook nie jou betaling nie – net jou lewe van “dankie”.

Slot

As jy die uitnodiging nie aanvaar nie, is dit jou eie skuld. As jy dit egter wel aanvaar is jy nie beter as ander en kan jy nie roem in jou keuse vir God nie. Nee, God het jou eerste gekies. Hoewel hierdie sekerlik vir baie na ’n paradoks klink, is dit wat God in Sy almag in sy Woord aan ons openbaar het. Jou keuse vir God en Sy uitverkiesing is twee kante van dieselfde muntstuk en onlosmaaklik deel van mekaar. Daar bestaan geen muntstukke van waarde, waar die een kant sonder ‘n afdruk is nie. Indien jy deur God gekies is, sal jy Hom kies. Indien jy Hom gekies het, is jy deur Hom eerste gekies. Dit beteken dat jy sal vrug dra in sy Koninkryk, omdat jy gewortel is in Hom. Sy Gees verskaf die krag en maak jou gewillig en stel jou in staat om God te dien. God se wil word ook jou wil. Verder word jy iemand wat nou die begeerte het om ander van die Here te vertel. Aangesien jy verander en vernuwe is word jou grootste liefde God. Jy het die Here God lief met jou hele hart en siel en al jou kragte. Dit is die werking van God in jou lewe. Dit is die Fees waarna jy gekom het. Net soos Paulus kan jy bely: Filippense 1:21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.