In Hom is Rus en Vrede

Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns beloof Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, die rus vir hulle siele en die ewige lewe.

Inleiding

Wat beteken om “in alle erns” geroep te word? Daar is tye wanneer jy dalk geroep word vir ete (nie so ernstig nie) of jy word opgeroep om jou land te gaan verdedig (ernstiger) en dan is daar die oproep van die evangelie (baie ernstig). In die eerste voorbeeld kan jy dalk iemand kwaad maak as jy nie antwoord nie, die tweede kan jy dalk jou fisiese lewe verloor terwyl jy ander se fisiese lewe beskerm, maar die laaste oproep gaan oor die Ewige lewe – jóú ewige lewe. Hierdie is nie onderhandelbaar nie. Daar is nie ‘n alternatief nie, jy moet antwoord. Elke persoon in die wêreld antwoord – of ja of nee. Jy kan nie op die draad sit of buite stemming bly nie.

Wat is die oproep?

Die oproep gaan die hele wêreld in vir mense om te kom drink van die Lewende water. So lui die profesie: o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Jesaja 55:1. Jy sal op geen ander plek van jou dors geles word nie. Dit is duidelik die boodskap wat moet uitgaan in die wêreld. Hierdie boodskap gaan nie gemeet kan word aan sy materiële waarde nie en daarom kan jy dit nie koop met materiële dinge nie. Van die rykste tot die armste persoon betaal dieselfde prys, nl.  alles. “Neem jou kruis op en volg My”. Die geroepenes moet, net soos die man wat opsoek was na die pêrel, alles verkoop om die pêrel te koop of soos die man wat oor die skat struikel, alles verkoop om die skat te kry. Enige iets minder gaan nie bevredig nie. Dit is alles of niks.

Die vrou by die put is vir elke persoon in hierdie wêreld ’n toepaslike voorbeeld van wat die oproep behels. Sy is op pad na die put in die hitte van die dag. Sy is op pad om haar fisiese dors te les. Jesus kyk egter dieper na ’n vrou wat nood het om haar geestelike dors te les. Hy bied haar water aan wat haar nooit weer sal laat dors kry nie. Johannes 4:13-14  Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.  Sy stel onmiddellik belang om van hierdie water te kry wat sal veroorsaak dat sy nooit weer dors sal kry nie. Haar enigste probleem is dat dit vir haar gaan oor haar fisiese behoeftes. Hoe tragies dat baie vandag ’n soeke het na Christus om in hul fisiese behoeftes te voorsien. Siekte en finansies is gewoonlik die eerste dinge wat mense na ‘n valse Jesus laat soek. Binne elke persoon is daar ’n geestelike dors wat niks fisies kan les nie, maar nog stééds dink en evalueer hulle alles kragtens die fisiese. Jesus sit sy vinger op haar soeke na vervulling as hy haar vra om haar man te gaan haal. Haar antwoord is dat sy nie ’n man het nie. Hierop antwoord Jesus: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. Johannes 4:17-18. Haar dors is ontbloot. Is jou lewe leeg en sonder enige betekenis? Hierdie wêreld stel nie tevrede nie. Die oproep kom na jou, net soos Jesus weer na die Jode roep op die laaste dag van die huttefees. Johannes 7:37  En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! 

Wat is die belofte?

Die uitnodiging word gemaak met ’n belofte aan diegene wat dit sou aanvaar, Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. Johannes 7:38. Ken jy hierdie ervaring? Weet jy wat dit beteken om deur die Heilige Gees vervul te word en onder sy onderwysing te leef? Ten spyte van aanvegtinge en moeilike omstandighede is daar nog stééds ’n stroom lewende water wat uit my binneste vloei wat ek aan niemand kan verduidelik nie. Dit is die vrede wat van God afkom en die rus vir jou siel wat belowe word vir elkeen wat die Evangelie van Jesus Christus glo en aanvaar. Dieselfde uitnodiging word deur Jesus op ‘n ander plek verduidelik as ’n man wat sy diensknegte uitstuur met die boodskap: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Mattheus 22:4. Om saam met Christus te wandel en gevul met die Heilige Gees te wees is ’n fees. Dit vul soos niks anders in hierdie wêreld kan vul nie. Die psalmdigter sê dat God sy hoof vet maak met olie en dat sy beker oorloop. Dan sluit hy die psalm af soos volg: Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. Psalm 23:6. Wat bedoel die digter met “net” goedheid en guns. Ons het te vinnig gegaan en vers vier oorgeslaan waarin hy verduidelik waardeur hy gaan: Psalm 23:4-5 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstandersIn die moeilikste tye kon hy ervaar dat hy nie hoef te vrees nie. God se stok en staf is sy vertroosting. Daar is vir my beskerming en Hy hou my op die regte pad omdat hy “tug die wat hy lief het” volgens Hebreërs. Al was daar teenstanders het God sy hoof vet gemaak met olie en het hy ervaar dat sy beker oorloop. Ons ervaar God se seën die beste in die moeilikste tye. Dit is die lewe waarheen jy uitgenooi word. Dit is die belofte wat deel uitmaak van die oproep om Hom te volg.

Slot

As jy kom weet verseker dat jy kom omdat die Vader jou gegee het vir die Seun. Jy kom omdat die Heilige Gees jou lewend gemaak het en jy jou leegheid begryp en die beloftes van God begeer. Hiermee saam is daar ook ’n rus dat ons wat kom nooit uitgewerp sal word nie. Johannes 6:37  Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Watter blye versekering is dit nie, ons kan die ou Halleluja lied hoor ego: Blye versekering Jesus is myn. Die wat kom ervaar ’n onbeskryflike rus in Christus. Mattheus 11:28-30  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. Augustinus skrywe dat God ons gemaak het vir Homself, daarom is ons harte rusteloos totdat dit rus in Hom vind. Van die Skepping is ons gemaak om met God te kommunikeer. Dit was waarvoor ons gemaak is. God in sy almag en liefde wou die mens deel maak van die Drie-eenheid se liefdesverhouding. Hierin lê jou betekenis. Net soos die vis alleenlik sy “visheid” kan ervaar in die water en spartel as hy daarúít geneem is, net so die mens na die sondeval spartel en smag na asem totdat ons weer in God geplaas word deur die bloed van Jesus Christus. Ek het gearriveer, tuis waar ek behoort. My lewe maak sin en is volledig.