Die Heilige Gees en die Woord

6- God het besluit om die mens salig te maak deur die Heilige Gees met die Evangelie van die Messias Wat nie deur die lig van die natuur of deur die wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees, deur middel van die Woord of die bediening van die versoening. Dit is die evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.

7- God se reg om Sy wil te openbaar wanneer en aan wie Hy wil Hierdie verborgenheid van sy wil het God in die Ou Testament aan min mense bekend gemaak, maar in die Nuwe Testament, waar die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, het Hy dit aan meer mense geopenbaar. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so verskillend is, moet nie aan die waardigheid van die een volk bo die ander of aan die beter gebruik van die lig van die natuur toegeskryf word nie, maar aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God. Daarom moet hulle wat sonder en teen enige verdienste so ‘n groot genade deelagtig word, dit met ‘n nederige en dankbare hart erken {Rom 11:22-23}. Maar oor die ander wat hierdie genade nie ontvang nie, moet saam met die apostel die strengheid en regverdigheid van die oordele van God aanbid sonder om dit met nuuskierigheid te ondersoek.

Inleiding

Ons het alreeds gewys dat die mens nie gered kan word deur sy besef dat daar ’n God is wat alles geskep het nie. Romeine 1:20-21 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Al is hierdie wete by elke mens kan dit in sigself nie red nie. Die mens kan na die skepping kyk en a.g.v. die verharding van sy hart uitroep dat evolusie dit veroorsaak het of erken dat God dit gemaak het, maar nog steeds aangaan met sy lewe asof daar geen God is wat rekenskap van hom/haar sal eis nie. Ook die wet bring mense nie by wedergeboorte nie, maar slegs by die besef dat hulle skuldig voor God staan.

Redding deur die werking van die Heilige Gees

Die Verlossingsplan word bewerkstellig deur God, God Drie-enig. Hierdie plan of boodskap van verlossing word duidelik uiteengesit in die Evangelie van Jesus Christus. Hierdie plan kan egter nie verstaan, aanvaar en tot vrug kom sonder die werking van die Heilige Gees nie. God het in sy almag bepaal dat die mens gered sal word deur die werking van die Heilige Gees. Hiervan getuig die profete. Esegiël 36:25-27 Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. Hierdie gedeelte word deur Jesus aan Nikodemus voorgehou in Johannes 3. Omdat Nikodemus Esegiël moes ken is Jesus se opmerking aan hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?  Johannes 3:10. Kom ons kyk hoe Jesus hierdie gedeelte aanhaal. Eerstens sê God dat Hy die mens ’n nuwe hart en nuwe gees sal gee. Dit bevestig Hy in vers 3 van Johannes 3 as Hy aan Nikodemus sê dat die mens van bo gebore moet word. (Die Grieks is “van bo gebore” en nie soos in Afrikaans “weer gebore” nie) Verder bevestig Hy dat ’n mens deur water en gees gebore moet word. Dit is die aanhaling van vers 25 en vers 27 in Esegiël. Om weer gebore te word, is dus ’n werking wat van bo af kom en nie uit die wil van ’n mens nie.

Hoe werk die Heilige Gees?

Die Heilige Gees se werking gaan gepaard met profesie, die prediking van God se Woord. Daarom se Paulus dat dit God behaag het om deur prediking mense te red. 1Korintiers 1:21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. Die rede waarom Paulus prediking dwaasheid noem is omdat dit dwaasheid vir die wêreld is. 1Korintiers 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Die Woord is kragtig. Die mens het soms die idee dat ons met allerhande nuwe slim truuks of slim debattering en redenasies mense moet oortuig om te glo. Mense het nie jou opinies nodig of nodig dat jy die Woord afwater om die mens se ore te streel nie. Die Woord moet geproklameer word oral waar ons gaan of mense wil luister of nie, want dit is die krag van God. Elke gelowige weet maar te goed dat die Heilige Gees alleen die hartoorplanting kan doen sodat iemand sal glo. Die Woord is nie dit wat te kort skied nie, maar wel die boosheid van die mens wat nie die Woord wil aanvaar nie. Sonder die werking van die Heilige Gees is ons besig, soos Esegiël, om vir doodsbeendere te profeteer. Die gelowige dank die Here en sien met sy geestes oë dat as God nie die werk doen nie werk ons tevergeefs. Psalm 127:1‘n Bedevaartslied. Van Salomo. As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Dit is waar vir elke aspek van ons lewens.

Hierdie reddende werk is dieselfde onder die ou en die nuwe verbond. God het profete gestuur om sy Woord aan die mense te verkondig en deur sy Gees het Hy gewerk sodat mense Hom sou gehoorsaam. Die Heilige Gees het in die begin oor die water gesweef in gereedheid op die Vader se opdrag, die Seun se Woord. Hy was die Een wat lewe gebring het en net so is Hy, as die derde persoon van die Drie-Eenheid, nog steeds die Een wat lewe voortbring uit ’n lewe wat woes en leeg is en met duisternis gevul is. Genesis 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 

Uitverkorenes

In die Ou testament werk God in die meeste gevalle met die mense van een volk, naamlik Israel. Ja, hy bring individue in vanuit die Kanaäniete, Moabiete en ander, maar die meerderheid is vanuit een volk. God het hierdie volk gekies om die volk te wees waaraan hy sy genade sou bewys. Psalm 33:12 Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het. Miskien moet ons net herhaal dat dit nie was op grond van enige iets goeds uit hulleself nie. Deuteronomium 7:7-8 Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.  Hy kies om hulle meer lief te hê as die ander volke uit sy eie vrye keuse. In die nuwe verbond oefen hy ook sy eie keuse tot liefde uit oor individue, maar nou oor individue uit elke volk en taal en nasie. Die vraag in die Ou en Nuwe Testament is dieselfde: “Waarom stuur hy sy Gees en woord net na sekere individue en nie na almal nie? Hoekom was daar soveel volke in die Ou verbond wat nooit van God gehoor het nie.” Net so kan gevra word hoekom baie deur die geskiedenis gesterf het sonder om self net die evangelie te hoor, dan praat ons nie eers van die werking van die Heilige Gees wat eers moet lewend maak voor die Woord enige effek in ’n harde hart sal hê nie. Hierdie is alles God se besluit en volgens sy wil, volgens Sy uitverkiesing.

Slot

Die Dortse Leerreëls jou waarsku om nie jou aandag en fokus te plaas op dinge wat jy nie kan verstaan nie, soos hoekom sommige gekies is en ander nie.  My fokus moet wees op God se genade vir my wat tot geloof gekom het en wat dit beslis nie verdien het nie. Daar is dinge wat God vir ons bedek het en ons sal dit nooit verstaan nie. Deuteronomium 29:29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. Al wat ons verseker weet is dat God regverdig is in alles wat Hy doen. Romeine 9:14-15 Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Jy het ’n opdrag ontvang om hierdie daad van versoening wat God beskik het te verkondig. 2Korintiers 5:18-19 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.

Hoe meer ons fokus op God se genade, Sy opdrag en Sy wil, hoe meer sal ons vrede ervaar oor die dinge wat ons nie kan verstaan nie.