Die wet wys tereg!

5- Die Wet vlek die sonde oop, maar bied geen uitweg nie. Net soos met die lig van die natuur, so is dit ook gesteld met die Tien Gebooie wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die wet vlek wél die grootheid van die sonde oop en oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Die wet het dus, omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, die oortreder onder die vloek laat bly. Daarom kan die mens nie deur die wet die saligmakende genade verkry nie.

Inleiding

Die wet is soos die ontvangsdame by die dokter se spreekkamer wat jou inlig dat jy kanker het. Na ’n tyd van skok kom jy terug om advies te ontvang van die dokter. Weer word jy ingelig dat jy kanker het en verder dat dit baie erger is as wat jy ooit gedink het. Geen oplossing. Geen kans op herstel. Verdoeming is al wat jy ontvang. Dit is nie asof die ontvangsdame enigsins lieg nie, alles wat sy sê is die waarheid. Die probleem is nie by haar nie, maar wel by jou. Jy het egter nodig om jou toestand te erken en by die dokter uit te vind: wat nou? Net so het ons nodig om uit die wet ons toestand te besef en dan by die Dokter uit te vind: wat nou?

Die wet is nie sleg nie – jy is.

As ons na die wet kyk is dit belangrik om te erken dat die wet nie sleg is nie. Die wet is nie sondig nie. Romeine 7:12  Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word. Die wet is dus die hulpmiddel om my te laat insien hoe vêr ek te kort skiet aan die heerlikheid van God. Sonder die wet sou ek myself net kon oordeel op grond van my eie moraliteit. In hierdie beoordeling sal ek nooit myself sien soos ek werklik is nie. Ons het altyd die idee dat ons beter is as wat ons werklik is. Ons sien nooit hoe deurtrek van die dood ons waarlik is nie. Ons eerste instink is om ons te vergelyk met ander en dan op so ’n manier dat ons elke keer as die beter persoon na vore kom. Selfs die persoon wat hard op hom/haarself is, doen dit met die hoop dat ander sal dink dat hulle wonderlik nederig is of hul sal reg help, met “Jy is regtig te hard op jouself.”

Ek gaan harder probeer

Wat daarvan as ek regtig my bes probeer om beter te doen? Wat daarvan as ek probeer om al die wette na te kom? Hierop is die antwoord vanuit die Skrif duidelik. “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed.” Jesaja 64:6. Die wet kla jou aan. Dit maak dit elke keer nog erger as wat jy gedink het dit is. Al probeer ek om alles te onderhou en ek oortree net een keer is ek skuldig voor die hele wet en is die oordeel duidelik – die ewige hel. Jakobus 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. 

Die wet as aanklaer

As jy vir die wet kon vra wat nou die oplossing sou wees vir hierdie groot dilemma, sou die antwoord wees dat jy beslis nie verstaan hoe sleg jy werklik is nie. Die wet kan jou dus nie regverdig maak nie. Romeine 3:19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Asof dit nie genoeg is nie het ons ook nog die Satan wat ons aankla. Ons is soos Josua, die hoëpriester, in Sagaria wat voor die Engel van die Here staan met die Satan wat ons aankla. Die hoëpriester wat sekerlik die beste af moet wees as daar geoordeel sou word. Josua staan voor die Engel van die Here, wat altyd dui op die tweede persoon van die Drie-eenheid, met vuil klere aan, net soos jy eendag. Daar is geen manier om weg te kom nie en jy besef dat alles wat die Satan van jou sê die waarheid is. Jy is totaal ontbloot. Vir elke mens wat eerlik voor die aanklag van die wet staan, is hierdie ‘n vreesaanjaende gedagte. Jy is skuldig. Hierdie verhaal bied egter ‘n wonderlike vertroosting. In hierdie verhaal, inplaas daarvan dat Josua gestraf word vir sy absolute tekortkominge, word die Satan tereggewys. Sagaria 3:2 Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?

Wet is die tugmeester na Christus

In teenstelling met die aanklag van die wet, word Josua, die hoëpriester, nie bloot in sy aangeklaagde toestand gelaat nie. Die Een wat met Hom praat spreek woorde wat vertroos en woorde van herstel en vernuwing. Sagaria 3:4-5 Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. Daarop sê ek: Laat hulle ‘n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek, terwyl die Engel van die HERE daarby staan. Wat is die simboliek hiervan? Ons weet beslis dat geen offer so kan vrymaak nie. Die offer word elke jaar gebring en wys daarop dat dit nooit ten volle kan genees of versoen nie. Dit was juis die argument van die Hebreërs-skrywer. Hebreërs 10:1  Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. Dus is die vraag hoe het dit plaasgevind dat Josua se skuld weggeneem is, dat hy feesklere en ’n rein tulband kon ontvang? Die antwoord is in vers 8. Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom! Sagaria 3:8. Die Kneg en Spruit verwys na Christus. Hy is die een wat die vuilheid sou kom wegneem. God laat Josua verder weet dat Hy ook die finale tempel sou wees. Die steen wat sou kom. Sagaria 3:9a  Want kyk, die steen wat Ek voor Josua neergelê het—op die een steen is daar sewe oë; kyk, Ek sal sy graveersel graveer, spreek die HERE van die leërskare…” Hierdie steen sou die struikelblok word wat elke persoon sou vernietig wat op die wet sou wou staatmaak vir hulle regverdigheid. Galasiërs 5:4. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Die vers in Sagaria gaan ook vêrder om aan te kondig dat hierdie steen die sondes in een dag sou wegneem. Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg. Sagaria 3:9b. Kan jy nou verstaan waarom Josua feesklere sou ontvang. Dit is ’n vreugdefees wat die gelowige nou sal kan vier. Daarom sluit die hoofstuk in Sagaria af met “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom.” Sagaria 3:10. Ons is in Christus vrygemaak van die wet se oordeel. Ons kan nou in gehoorsaamheid aan God lewe sonder die vrees van ewige oordeel.

Slot

Ons elkeen hou daarvan om onsself teen ander te meet. Ons is darem beter as die moordenaar, die dronkaard, die dief. Die wet kom egter en wys vir ons ‘n spieël – ‘n beeld van jou hart. Baie het egter ook al hierdie spieël so verdof dat hulle nie meer hulself daarin sien nie, maar ander. Net soos die Ryk Jongman hoor ons die wet en dink ons ons kom dit na. Dan toets Jesus hom deur te sê dat hy alles moet gaan verkoop en hom moet volg. Hy toets hom dus om te kyk of hy die Here werklik bo alles liefhet en hy faal sommer al by die eerste gebod.

Wanneer die Heilige Gees jou oë oopmaak en die wet jou wys wie jy werklik is, is daar niks wat jy kan doen, behalwe om op jou knieë neer te val en te roep “Here, help my” nie. Jesus Christus is die enigste een wat jou skuld kan wegneem. Deur Sy bloed word ons bevry van die aanklag van die wet en word onderhouding daarvan ‘n vreugdefees – liefde wat lei tot gehoorsaamheid. Galasiërs 5:6 “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees.