Is ek goed?

3- Alle mense word gebore, onwillig om hul totaal verdorwe natuur te verbeter Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.

4- Die oorblywende lig van die natuur in die mens, is nie in staat om hom te red nie Ná die sondeval het daar in die mens tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in sekere mate ‘n strewe na deug en openbare gedissiplineerdheid. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit heeltemal op verskillende maniere en bedek dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar voor God vir hom geen verontskuldiging nie.

Inleiding

Die teologie van Calvyn, een van die vaders van die Gereformeerde teologie, kan saamgevat word in die akroniem TULIP. Die T staan vir “total depravity”. Dit is dan hierdie punt wat die twee punte in die Dortse Leerreëls bevestig: die totale afvalligheid van elke individu en hul dade wat ontoereikend is. Spurgeon het hierop gesê dat die sondaar net so min die vermoë het om te glo en te bekeer sonder die werking van die heilige Gees as wat hy het om die wêreld te skep. Hierdie gedagte is die grootste struikelblok vir mense om na God te kom. Hoe erken ek dat ekself die rede vir die toestand is waarin ek verkeer? Hoe erken ek dat ek tot niks goeds in staat is nie, veral as ek dink dat ek eintlik soveel goeie dinge elke dag doen?

“Ek is ’n goeie mens”

Daar was ’n man in die tyd van Jesus se prediking, wat homself aan Jesus voorgehou het met: “Ek is ‘’n goeie mens”. Hy verteenwoordig baie in die kerk wat glo hulle kan deur hulle goeie dade in die Hemel kom. Hulle ontken alles wat die Woord rakende die mens se ellendige toestand sê. Hy was ’n ryk jongman – ons ken hom as “dié Ryk Jongman” en hy verteenwoordig elkeen wat dink dat hy/sy OK is. Die hele ontmoeting illustreer sy groot probleem. Hy kom na Jesus en die eerste woorde aan Jesus is: “Goeie Meester.” Jesus se vraag hierop is waarom hy hom goed noem. Daar is vir die leser ’n ironie wat uitgelig word, vir ons wat weet wie Jesus is – die volmaakte lam van God. Dit is asof die vraag gevra word: “Weet jy wat goed is?” en tweedens: “Weet jy verklik wie Ek is?”  Jesus wys die jongman daarop dat “niemand goed is nie behalwe een, naamlik God”. Mattheus 19:17. Glo jy dit. Hoe kan mense bely dat die Woord waar is en tog ontken hulle die stelling dat niemand goed is behalwe God nie? Wat is jou antwoord op die vraag of iemand, buiten die gelowige wat deur die Heilige Gees getransformeer word, goed is. Wat Jesus dan doen, is skitterend. Hy bring hom voor die spieël van die wet. U mag vra wat is die bedoeling hiermee? Kyk wat sê die Skrif: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.” Galasiërs 3:24. Die oomblik as ek myself aan die wet meet behoort ek terdeë my absolute verlorenheid te besef. As die wet die teiken is besef ek dat ek dit nie naastenby maak nie. Daarom beteken die woord sonde in die oorspronklike taal “om die merk te mis.” Ek mis waarvoor ek gemaak is. Ek is gemaak om God te verheerlik en my lewe spreek die teendeel. Tog is hierdie jongman glad nie ontsenu deur hierdie vraag nie. Sy antwoord is dat hy dit van sy jeug af nakom. Die interessante van Jesus se vraag oor die onderhouding van die wet is dat Jesus nie die man vra oor die eerste gebooie wat handel oor die liefde vir God nie en ook nie oor die laaste gebod wat sê  jy mag nie begeer nie. Jesus kombineer die twee as Hy vir die jongman sê om alles te gaan verkoop en dit aan die armes te gee en dan hom te kom volg. Jesus vra dus vir hom met die opdrag of hy die Here liewer het as al sy besitting en of God die grootste begeerte in sy lewe is. Die jongman is ontbloot. Sy brawade is in een oomblik ontbloot voor die God waarby daar geen geheime is nie. Hy het bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Mattheus 19:22.

“Ek kan myself red”

Hierna maak Jesus dit bekend aan sy volgelinge, wat almal onder die indruk was dat as jy ryk was jy ’n groter potensiaal gehad het om gered te word, dat dit onmoontlik is dat jy jouself kan red. Hy vergelyk dit met ’n kameel wat deur die oog van ’n naald moet gaan. Is daar enige moontlikheid? Het die mens ’n kans tot redding in hom/haarself? Daarom sê Jesus redding is die geboorte wat van Bo moet plaasvind. Hierdie geboorte kan alleenlik plaasvind deur die werking van die Heilige Gees wat dooie mense lewendig maak. Efesiërs 2:1-3  En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.  Dit is ‘’n gawe van God, sodat niemand kan roem in hulself nie. Dit is nie jou eie goedheid wat jou red nie. Dankie, tog dit is nie jy nie, want jou beste is nie goed genoeg nie.

Slegs in Christus

Die jongman het na die regte plek gekom, maar met ’n verkeerde ingesteldheid. Dit was die regte plek aangesien geen mens by God kan kom sonder om in te gaan deur Jesus Christus nie. Hy is die deur waardeur ons moet ingaan volgens Johannes 10. Luister wat se Jesus van homself. Johannes 10:9  Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Hy is ook die Hoëpriester wat vir ons intree by die Vader en die Lam wat ons sonde gedra het en ons versoen het met die Vader.

Algemene lig – morele waardes

Die belydenis gaan vêrder om die mens in te lig dat al is dit onmoontlik  dat hy/sy gered kan word sonder die ingryping van God dat die mens hom/haarself nog vêrder onder die oordeel bring aangesien hul nie die algemene openbaring, wat selfs na die ongelowige kom, aanvaar nie. Die algemene openbaring waaraan elke individu blootgestel word, is God se handewerk. Elke persoon wat na God se natuur kyk moet erken dat iemand dit gemaak het. Niemand wat in ’n grot stap en tekeninge teen ’n rots waarneem stap uit met die idee dat dit net ontstaan het nie. Nee, die eerste vraag is wie dit sou geteken het? Niemand lees ’n boek en wonder hoe dit moontlik is dat al hierdie letters net bymekaar gekom het en nou sin kan maak nie. In die mens se DNA is daar letters wat geskrywe is wat as jy dit vorentoe of agtertoe lees sin maak. Hierdie DNA is die kode van lewe. Daar is dus geen persoon wat voor enige lewe staan en kan dink dat dit net ontstaan het nie. Baie wetenskaplikes wat die vraag na lewe wil systap probeer om die antwoord net verder uit te skuif en redeneer dat lewe van ’n ander planeet gekom het. Hierdie is egter nie ’n antwoord nie, maar net ’n ontduiking wat weereens geantwoord moet word. Ons verskuif net die vraag na ‘n ander planeet. Die Bybel beskrywe tereg mense wat God ontken as dwase. Psalm 14:1 Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Omdat die mens God se skeppingswerk ontken staan hulle onder sy toorn. Rom 1:18-20  Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie. Behalwe die fisiese skepping is daar ook in elke mens se siege ‘n morele wet van reg en verkeerd. Sommige kies om hierdie morele wette net eenvoudig te verontagsaam en sommige probeer darem ten opsigte van een of ander morele kode “reg” leef. Ons sal dan ook van laasgenoemde groep praat as “goeie mense”. Hierdie morele wette word egter gevolg nie om God te verheerlik nie, maar om Self, en dalk ander mense, te dien. God is nêrens in die prentjie nie. “Goed” in God se oë het ‘n naam – en dit is Jesus Christus.

Slot

Die Skrif is duidelik, dat al is daar ’n mate van erkenning dat God alles geskape het en al volg mense vir sovêr hulle kan God se morele wette, kan hierdie individue nogsteeds nie op hulle eie tot God kom sodat hulle gered kan word nie. Titus 3:4-5 Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het— nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.  Die mense is totaal verdorwe sonder Christus. Daarom is die belangrikste taak van die Kerk om Christus en Hom as gekruisigde, aan mense te verkondig. Ons probeer nie met allerhande reëls mense “beter” mense maak nie, maar ons wil hulle oë rig op die een wat ons “geredde” mense maak.