3/4.1. Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.
2. Net soos die mens ná die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Net Christus is hierin ‘n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens ontstaan dus nie deur navolging, soos die Pelagiane vroeër beweer het nie, maar deur die voortplanting van die verdorwe natuur.
Inleiding
Die oorsprong van die mens se verdorwenheid is nie in God nie. Al het God van die begin geweet dat die mens sou sondig en al is die Verlossing voor die sondeval alreeds beplan, is die oorsprong van die sonde nie by God nie. Die mens is na die beeld van God geskape. Genesis 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. Die mense is geskape sonder enige sonde of tekortkoming. As ons na Genesis 1 gaan kyk vind ons dat God na elke dag van Skepping verklaar: “Dit was goed”. Die interessante is dat God, nadat hy die mens gemaak het op die sesde dag , verklaar dat hierdie dag se skepping baie goed was. Genesis 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag. Die mens is die kroon van sy skepping.
Die mens as God
Die Sondeval het plaas gevind omdat die mens die begeerte gehad het om soos God te wees. Net so vind ons daaglikse val in sonde plaas omdat ons ons eie god wil wees. As die duiwel die vrug aan Eva en Adam wys beklemtoon hy dit aan hulle, dat die enigste rede waarom God hulle weerhou van die vrug, is omdat God hulle wil verhinder om soos Hy te wees. God wil jou vreugde steel. Hy wil jou daarvan weerhou om soos Hy te kan wees. Niemand hoef vir Adam en Eva te forseer om die vrug te eet nie. Nee, Eva kyk na die vrug en toe sien “… die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.” Genesis 3:6. Hier verklaar die mens vir die eerste keer die slegte as goed. Dit is vandag nog steeds die probleem met die mens, hy wil sonde as goed verklaar. Dit wat God sleg noem, noem die wêreld goed. Die mens kan nie sonder God die werklike waarde van dinge bepaal nie.
Waardeverandering
Die mens van vandag wil God se orde omvêrwerp, hulle wil dit verander. Dinge wat moreel as reg en verkeerd in mense se harte geskryf staan, as deel van die algemene openbaring van God, word vandag verander en bevraagteken. Standvastigheid, dissipline, eerlikheid, respek, deugsaamheid, integriteit – al hierdie dinge wat deel is van die vesel van die samelewing, word vandag bespot. God kondig ’n vloek oor sulke mense. Jesaja 5:20 Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Die samelewing kan vergelyk word met iemand wat in ’n winkel ingaan en die pryse van al die items verander. Dit wat waardevol is sit hy ’n goedkoop prys op terwyl items van geen waarde nie, gemerk word met baie duur pryse. Die sondeval het die mens se waardebepaling verander.
In gebrokenheid gebore
Na die sondeval het die mens eerstens geestelik gesterf soos God beloof het. Die bloed wat nou deur sy are vloei voed die begeerte na die verkeerde. Daar is nie meer ‘n smagting na God en dit wat heerlik/waardevol is nie. Van toon tot kroon is hy/sy deurtrek van die sonde. Baie mense het vandag die idee, a.g.v. baie sielkundiges en die sogenaamde kenners van ons tyd, dat jy ’n sielkundige probleem het a.g.v. dinge wat met jou gebeur het. Sogenaamde leiers in die kerk beweer dat jy in die toestand waarin jy jou bevind is a.g.v. iets wat deur jou omgewing op jou oorgedra is. Jy verloor jou humeur a.g.v. jou pa wat jou pak slae gegee het toe jy klein was, jy eet te veel, want jy het nie genoeg liefde ontvang nie, jy is depressief, want jy is sleg behandel. Sonde se skuld word altyd voor die deur van iemand anders geplaas en baie keer selfs voor God se voete geplaas asof Hy my so gemaak het. Jakobus 1:13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. God is heilig en hy haat sonde. Jy is verantwoordelik vir die sonde wat jy doen en niemand anders nie. Elke persoon doen die verkeerde omdat hy/sy die verkeerde wil doen. Die mens in sy gebroke toestand smag daarna. Daarom word ons opgeroep om as gelowiges nie te wandel soos die res van die wêreld nie. Efesiërs 4:17-19 Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie— mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.
Die rede hoekom ek sonde doen, is omdat ek as sondaar in hierdie wêreld arriveer. Elke persoon wat gebore word, is deurtrek van sonde van voor geboorte. Psalm 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Deur Adam se sonde is ons almal deurtrek van sonde by geboorte. Sonder Christus is elke persoon tot in sy diepste wese verrot en sy dade is verrot. Job 14:4 Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine—nie een nie! Net God kan aan my openbaar hoe sleg ek werklik is. Hier word die Pelagiane verkeerd bewys. Hulle het beweer dat jy verkeerde dinge doen a.g.v. omstandighede. Hulle het beweer dat elke mens wat gebore word in die toestand van Adam is voor sy sonde en daarom kan kies tussen wat goed en kwaad is. Die mens hou nie daarvan as hy/sy vertel word dat hy/sy nie goed is nie en nie in staat is om hom/haarself aan hulle eie skoenrieme op te trek nie. Die Pelagiaan se lese is: “Ek kan dit doen op my eie.” Hierteenoor sê die Bybel niemand is tot die goeie in staat nie. In Adam het ons almal gesondig. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.
Wedergebore tot volmaaktheid
Daar is net een persoon sonder sonde na Adam gebore en dit is ons Verlosser Jesus Christus. Jesus is gebore sonder die hulp van ’n aardse vader. Die engel het dit duidelik aan Maria gemaak. Lukas 1:35 En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. Daarom was net Hy van begin tot einde sondeloos. Hebreërs 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
Wanneer ons nou in ons gebrokenheid, ons sondige Adamsgewaad, naak en kaal, voor God staan, is daar vir ons net een middel tot redding – die sondelose Seun van God, Jesus Christus. Met sy bloed betaal Hy vir ons sonde en word ons geklee in Sy kleed van geregtigheid – nou nie meer as slaaf van die sonde nie, maar ’n mede-erfgenaam en broer.
Slot
Daar is ’n wonderlike bevryding wanneer jy besef wie jy is, wanneer jy ophou verskonings soek vir jou sonde en verantwoordelikheid vir jou dade aanvaar. Jy doen sonde omdat jou drang na die verkeerde groter is as jou liefde vir God. Wanneer jy hierdie swakheid in jou lewe erken, vind jy die genade troon van God. Dan en slegs dan kan jy die wonderlike liefde van God ervaar, wanneer Jesus, die sondelose Adam, in jou plek kom sterf, om jou te klee in Sy lewe van geregtigheid. Die sondelose lewe wat Christus op aarde geleef het, word dan jóú lewe. Sy Vader, word jóú Vader.
