Niemand kan God se besluite ongedaan maak nie!

9- God se besluit word van die begin tot einde van tyd uitgevoer deur God self en die kerk moet tot dan volhou. Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig uitgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds uitgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd ‘n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet sy Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir die kerk gegee het – soos ‘n bruidegom sy lewe vir sy bruid sal gee – standvastig liefhê en Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.

Inleiding

God het ’n plan wat vasstaan van voor die grondlegging van die wêreld tot by die voleinding daarvan. Hy is soewerein bo-oor alles in die hemel en op aarde. Niks gebeur sonder sy besluit nie. God ken die toekoms en ken die verlede en weet hoekom alles moet plaasvind omdat Hy alles beplan het en sy toekoms plan tot uitvoering sal bring. Alles gebeur met ’n doel en niks wat plaasvind is sonder betekenis nie. God se plan is baie duidelik aan die gelowiges gekommunikeer. Hy sou Sy Seun na die wêreld stuur om sy geliefde uitverkorenes te red. Hierdie liefde vir die uitverkorenes is ’n ewige liefde en is op grond van God wat die keuse uitoefen om hulle lief te hê. Johannes 17:24  Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld. Hierdie liefde gee die gelowige rustigheid dat God alles mee laat werk ten goede. Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 

God  – die heerser van die geskiedenis

Ons sien God se beheer en aktiewe optrede in die geskiedenis vanuit die Skrif baie duidelik. Hy red Noag en verwoes die res van die aardbewoners. Hy keer die Farao sodat hy nie aan Sara raak nie. Gen 20:6 Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie. Dus is God die een wat ook in sekere tye mense weerhou om sonde te doen. Hy keer byvoorbeeld Josef se broers dat hulle hom nie doodmaak nie, maar laat hulle toe om hom te verkoop. Sy rede is baie duidelik. Gen 50:20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. Aan die ander kant bring hy ook Sy boodskap aan Abraham in vervulling dat Hy sy nageslag uit Egipte sal bring. Genesis 15:13-14 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. So verhard God Farao se hart sodat Hy alles kan doen in Egipte om Sy krag ten toon te stel. Hy wys, deur sy profeet Jesaja, meer as honderd jaar voor die tyd, by die naam, dat die regeerder van Mede en Perse Kores sal wees. Hierdie man word deur God aangewys as die leier wat Sy volk weer sal laat terugkeer en sal help om die tempel te herbou. Jesaja 44:28 wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.

Geen mag of krag kan God se plan verander of van stryk af bring nie. Jesaja 14:26-27  Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies; want die HERE van die leërskare het dit besluit—wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek—wie sal dit kan afkeer? Judas en al die Joodse owerhede en heidense leiers kon niks teen Jesus doen wat nie alreeds deur God bepaal is voor die grondlegging van die aarde nie. Die kruis is beplan voor die sonde. Die wyse waarop Hy sou sterf is geprofeteer in Psalm 22, lank voor die Mede en Perse kruisiging as ‘n  straf toegepas het. Die liefdesdaad van Christus vir Sy bruid was deur God self beplan en uitgevoer en die magte wat Hom gehaat het, het op die ou einde, deur hulle eie haat, presies gedoen wat God beplan het. Alhoewel dit daardie Vrydag gelyk het asof die bose magte en kragte die oorwinning behaal, is die graf leeg op die Sondagmôre!

God – heerser oor die Kerk

Net soos God in alles in beheer is weet die Kerk deur die eeue dat God, wat die uitverkorenes lief het, hulle sal bewaar tot die dag waarop Hy hulle sal kom haal. Dit maak Hy duidelik aan Petrus saam met die res van die apostels. Mattheus 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Niemand sal die Kerk se voortbestaan kan stuit nie. Geen mag sal dit kan vernietig nie. Daarom het die Kerk deur die eeue geen vrees gehad vir enige regering of mag nie. God is in beheer van regerings en magte se aanstelling – die aanvang én terminasie daarvan. Gelowiges is dus ook nie bevrees vir die toekoms nie, al lyk dit hoe duister. Christene, deur die eeue, het ook nooit die dood gevrees nie, want die wêreld was nooit hulle tuiste nie. Hulle het altyd geglo dat God hulle kan bewaar, maar as Hy besluit dat ek moet ly vir Hom of dat my lewe op aarde tot ’n einde moet kom, weet ek sy besluit is die beste vir my. Hulle was nooit bevrees om alles te verloor op aarde nie, want hulle het geglo dat alles maar net geleen is en dat hulle slegs bywoners in hierdie wêreld is. Hebreërs 10:34  Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het. Hoe wonderlik om as gelowige in hierdie wêreld te leef met geen vrees vir die toekoms nie en ook geen vrees vir ’n mens nie. Ons weet verseker dat niks ons sal kan skei van die liefde wat daar is in Christus Jesus nie. En dit is al wat vir die gelowige van waarde is.

Die Kerk is deur die eeue vervolg en tog het dit gewoonlik juis in hierdie tye die grootste groei beleef. Daar sal altyd ‘n Kerk van Christus op aarde wees, totdat God ons kom haal. Niemand kan die Kerk toemaak nie – dit is nie ’n gebou nie. Niemand kan die Kerk stilmaak nie – dit is nie ’n stem nie. Niemand kan dit beheer nie – dit behoort aan Christus en aan Hom alleen. In hierdie tye waar die relevansie van die kerk gedebatteer word en kerke gedwing word om hul deure toe te maak, is die belofte van God: “die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie’’

Die Kerk se antwoord

Die Kerk antwoord deur Christus, ons bruidegom, lief te hê bo enige iets anders. Alles wat ons ontvang het, moet ons in diens van Hom plaas. Niks behoort aan ons nie, ja alles is geleen. Die gelowige is bereid om familie, vriende besittings alles op te gee aan Hom wat ons meer lief het as die lewe self. Sê Jesus nie vir Sy volgelinge dat as hulle Hom nie bo enige iets anders lief het hulle nie sy dissipels kan wees nie. Mattheus 10:37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. Ons word opgeroep om Hom te dien en Hom te verheerlik in alles wat ons doen op aarde. As ander jou lewe dophou moet hulle ervaar dat Christus verheerlik word. Is dit jou antwoord? Is dit die kerk waaraan jy behoort se antwoord? Is jy opgewonde oor Hom? Is Hy werklik jou grootste liefde? Net soos wat die liefde van ‘n bruid vir haar bruidegom sigbaar is, moet jou liefde vir Christus sigbaar wees in al jou doen en late.

Slot

Hierdie gedeelte kan opgesom word met die gedeelte in Hebreërs: Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Hebreërs 13: 14-15. Hierdie hoop wat ons het, is ’n sekerheid op grond van God se belofte voor alle tye. Titus 1:2  in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het.