Totaal Verlos!?

8- Dit was God se wil dat net deur Sy Seun mense uit alle volke met God versoen, reinig van sonde en bewaar word vir Hom Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader, dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis-waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal húlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee, wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder, dat Hy hulle van al hulle sondes,-sowel die erfsonde as die daadsonde wat ná en vóór die geloof begaan is-deur sy bloed sal reinig. Ten slotte, dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar, en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem

Inleiding

Dit is nodig dat die Kerk oor en oor aan die wêreld dit duidelik maak dat daar net een manier tot saligheid is. Hierdie boodskap was deur Petrus aan die Joodse volk by die tempel verkondig. Aan ’n groep mense wat gedink het dat hulle volks etnisiteit hulle sou red. Handelinge 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. Dit is die boodskap wat die wêreld haat. Die eksklusiwiteit van die evangelie. Net een manier. Jesus het hierdie boodskap ook aan sy volgelinge duidelik gemaak. Thomas vra Jesus “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” Johannes 14:5. Jesus gee aan Thomas die volgende antwoord: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Johannes 14:6. Thomas jy moet my volg. Thomas ek alleen gee Lewe met die hoofletter “L”.

Verlof van die erfsonde

Elke persoon op aarde, van diegene wat al dood is, tot diegene wat nog gebore moet word, het nodig om gered te word. Ons moet bevry word van ons erfsonde sowel as ons sondes wat ons elke dag doen of dit nou voor ons wedergeboorte plaasgevind het of na wedergeboorte plaasvind. Elke mens het die dood gesmaak a.g.v. Adam se sonde. Romeine 5:12  Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Jy is nie ’n sondaar omdat jy sonde doen nie, nee, jy doen sonde omdat jy ’n sondaar is. Miskien moet jy die vorige sin weer lees. ’n persoon kan maklik beswaar maak en sê dat hy/sy beslis nie onder die sonde van Adam val nie. Wel, die maklikste om te bewys dat ons almal onder Adam se sonde val is om die vraag te antwoord of iemand kwytgeskel sal word van die fisiese dood? Die dood het tot alle mense deurgedring a.g.v. Adam se sonde. Of dit ’n baba in die moederskoot of ’n ou man/vrou aan die einde van hul leeftyd is, albei is skuldig voor God a.g.v. Adam se sonde. Baie mense hou nie van wat die Bybel hier sê nie en voel dat dit onregverdig is dat almal oor dieselfde kam geskeer word as Adam. Wel, die eerste vraag wat jy moet beantwoord is of jy dit beter as Adam sou kon doen? As jy ook net soos Adam sonder sonde was, sou jy die sonde kon teenstaan? Die antwoord is duidelik dat net Christus, die volmaakte tweede Adam, die sonde kon oorwin. Ons sou beslis net soos Adam oortree het. Die tweede vraag wat jy sal moet antwoord is of jy die versoening van een man vir baie aanvaar? Is dit regverdig dat een vir baie moes ly? Dat Christus vir jou sonde versoening moes maak, is dit volgens jou regverdig? Jy aanvaar nie die vloek deur een persoon nie, maar die versoening wel?

Verlossingsplan – vir Sy uitverkorenes

God het uit vrye wil, van ewigheid af, besluit om Sy uitverkorenes deur die kosbare bloed van sy Seun te red. God het nie nodig gehad om die mens te skep of om die mens in sy sondige toestand te red nie. Die vrye keuse wat God uitoefen kan gesien word in die Seun se bereidwilligheid om kruis toe te gaan. Johannes 10:18  Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. Jesus was van die begin tot die einde in beheer en niemand kon sy lewe selfs met een dag verkort nie, al het hulle probeer. Lukas 4:28-30  En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Ons sien in die Nuwe Testament hoe mense Hom probeer doodmaak, maar elke poging misluk, totdat die dag vir Sy kruisiging aanbreek, soos deur God bepaal. Op hierdie dag, sou sy dood tot voordeel strek vir al Sy uitverkorenes. Sy kruisiging en Sy intrede by die Vader is vir Sy uitverkorenes. Johannes 17:9  Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Hy kon dit nie duideliker gemaak het as in die volgende gedeelte nie: Johannes 10:15  Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. 

Wie is Sy uitverkorenes?

Indien jy dalk nou nog twyfel oor wie hierdie uitverkorenes is, maak Jesus dit in Johannes 10 baie duidelik. Hierdie groep is die groep wat die Vader aan Sy Seun gegee het. Hulle is die groep waarvoor die herder sy lewe aflê. In hierdie hoofstuk maak Jesus dit bekend dat hierdie skape nie net uit een volk, die Jode, sou kom nie. Johannes 10:16  Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. Daar sou ’n groep opstaan uit elke volk en taal en nasie wat ook deel sou word van hierdie “skape” van God. Openbaring 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie. Hierdie groep word gereinig en volkome heilig gemaak. Efesiërs 5:25-27  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. 

‘n Nuwe volk

Jesus verlos ons van ons sonde. Hy kies jou, koop jou, verander jou en hou jou. Wat ’n wonderlike verlossing! Ons is volkome versoen. Geen vlek of rimpel. Geen klad teen ons name. Niemand wat ’n vinger na my kan wys nie. Ek is volkome heilig gemaak in Hom. My identiteit in Christus verander en kan nooit weer terug verander na wat dit was nie. Een maal ‘n ware kind van God, altyd ’n ware kind van God. Ongelukkig moet die “ware” ingevoeg word, omdat so baie vandag hierdie stelling as ’n leuen wil verklaar uit voorbeelde van mense wat sogenaamd weer afvallig geword het, nadat hulle tot bekering gekom het. Dit was valse bekerings, wat uitloop op ’n nuttelose godsdiens sonder enige ware Godsvrug. God belowe dat die werk wat Hy in ons, Sy kinders, begin het, Hy eind uit sal voer. Hy sal ook sorg dat ek in hierdie toestand, die toestand van volkome verlossing, bly totdat Hy my kom haal. Hy is die Een wat ons vashou en beskerm. Joh 10:28-29 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

Slot

Ons is so dankbaar vir hierdie blye boodskap. Nou het ons dit nie net gehoor nie, maar het ook die geleentheid om daarop te reageer. Die geloof om hierdie soenverdienste te aanvaar kom van God. Geen geloof kom uit onsself nie. Die geloof het nooit sy ontstaan in die mens nie. Enige geloof wat ons het kom van God, in Christus Jesus, deur die werking van die Heilige Gees. Filippense 1:29  omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly. Hy gee ons die geloof.

Die Blye Boodskap kan in ’n neutedop deur hierdie inskrywing saamgevat word. Voor die grondlegging van die aarde, het God Drie-enig, besluit om vir Hom ’n volk te kies, wat Hy sou vrykoop van die sonde. Hierdie volk sou kom uit elke volk en taal en nasie op aarde. Hy kies jou alreeds voor jy gemaak is, Hy koop jou terug uit die slawe bande van die sonde deur die bloed van Christus, Hy maak jou lewend deur geloof aan jou te skenk deur die Heilige Gees en beskerm jou vêrder as Goeie Herder, totdat Hy terugkom as Heerser van Sy gekoopte volk.

Hy kies jou, koop jou, verander jou en hou jou – tot in Ewigheid.