7- Ware geloof en verlossing is ontvang uit die genade van God van ewigheid af in Christus Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.
Inleiding
Weet ons werklik nog wat genade is? Ons gebruik die term, maar eintlik voel ons ons is geregtig op dit wat God ons gee. Óf ons verwag dit omdat ons dink dat ons sekere dinge verdien, óf omdat ons ‘n sekere denkwyse aangaande God en sy genade het. Hy is soos daardie onderwyser by wie ons geweet het ons kan wegkom sonder om ons huiswerk te doen. Hy is nie so streng nie en sal ons maklik nog ‘n kans gee of sommer net oorsien. So baie gelowiges praat dus oor genade sonder dat hulle werklik verstaan wat opgesluit is in hierdie woord. Ons het alreeds in die vorige inskrywings oor God se regverdigheid gepraat en ons weet dus dat hy niemand ‘’oorsien’’ nie. Tog ontvang sommige genade.
Wat beteken genade?
Die Bybel leer ons dat genade is om iets te ontvang wat jy nie verdien nie. Rut is hier ’n voorbeeld. Nadat sy uit Moab saam met haar skoonma Naomi in Betlehem aangekom het, het sy vir haar skoonma gesê: “Laat ek tog die land ingaan en are optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind.”Rut2:2. Waarvoor het sy gehoop? Dat iemand moes besef hoe wonderlik sy was? Nee, sy het geweet dat indien enige iemand haar sou help dit absoluut uit genade sou wees. Daar sou geen rede wees hoekom iemand vir haar as ‘’ ’n weduwee en ’n Moabiet’’ sou help nie. Daar is niks wat sy sou kon terugbetaal en geen manier waarop sy sou kon vergoed vir enige weldaad nie. Net so min as wat Rut kon aanspraak maak op iemand se hulp kan enige persoon aanspraak maak op God se genade. Daar is niemand wat iets vir God kan gee of doen wat Hom in die skuld teenoor die mens sou plaas nie. Luister wat skrywe Dawid: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.”Psalm24:1. Of wat van Psalm 51 wat ons leer dat God geen behoefte het wat ons kan vervul nie. Psalm 50:8-12 Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My. Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Dit word ook bevestig in Paulus se preek in Athene teenoor die heidene wat baie afgode gemaak het. Handelinge 17:25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. Verder weet ons ook dat elke geskenk en gawe van die Here afkom. Jakobus 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.
Verstaan ons dat God ons nie nodig het nie? Verstaan ons dat alles wat ons het Syne is? Ja, ons gee vir die Here, maar ons moet besef dat dit is soos ‘n kindjie wat met sy sakgeld vir sy pappa of mamma ‘n geskenk koop. Van wie af kom die sakgeld in die eerste plek? Ja, God maak bemoeienis met ons en wil ‘n verhouding met ons hê, maar dit is omdat ons Hom nodig het. God kies ons, omdat Hy wil en nie omdat hy moet nie. God kies ons, nie omdat ons iets het om vir Hom te gee nie, maar omdat Hy alles het om vir ons te gee. As ons verstaan wat genade is, kan ons werklik besef hoe wonderlik hierdie daad is wat God aan ons bewys.
Genade is van ewigheid af in Christus
So baie bely dat redding ’n absolute daad van genade is net om in dieselfde asem aanspraak daarop te maak dat die mens die keuse vir God moet maak of dat hierdie genade aan almal bewys is. Daar is net geen manier waarop ons kan dink dat genade aan almal op dieselfde manier bewys is nie. Die definisie van die woord impliseer dat sommige dit ontvang en ander nie. Jesus maak dit baie duidelik wanneer Hy vir die mense van sy tyd die volgende boodskap gee: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Mattheus 11:21. Jesus maak dit duidelik aan Gorasin en Betsaida dat aan hulle meer gegee is as aan Tirus en Sidon. Verder sê Hy dat indien Tirus en Sidon dieselfde as hulle sou ontvang het, hulle hul sou bekeer het. Alhoewel Hy nie hier praat van Sy reddende genade nie, spreek die gedeelte alreeds boekdele.
Geloof en Verlossing het hulle oorsprong in Christus. Hierdie oorsprong is van voor die skepping. Baie sal sê: ‘’Ja, die Here het aan my genade gegee, maar ek het dit aangeneem deur daarin te glo.’’ Het geloof dus sy oorsprong in die mens? Luister na 2Korintiers 5:17-18 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het. Ons is ’n nuwe skepping en alles wat plaasgevind het, is uit God. Alles het sy oorsprong in God. Daarom kan Paulus aan die gemeente in Efese sê dat hulle niks het om in te roem nie. Efese 2:8-9: 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Ek kan op enige iets waarvan die oorsprong in my is, roem. As Christus se genade aan almal bewys word en ek het vir Hom gekies en my buurman het nie, sou ek nie daarop kon roem nie? Natuurlik! Ek is dus beter, of slimmer en kan beter keuses maak as ander. Paulus skrywe egter dat niks in hul lewe, van geboorte tot sterwe, uit hulself was nie. Niks is a.g.v. die mense se goeie “werk” nie. Óf jy bely soos die Skrif dat alles uit God is óf jy moet bely dat jy iets bygedra het en dat jy dus ‘’beter’’ is as diegene wat nie gered is nie. Óf jy dink jy het iets om in te roem óf jy het nie. Die Woord sê jy het nie.
Die Dortse Leerreëls wil dit egter nog duideliker skets. Indien jy dalk nog ‘n sweempie van ‘n idee gekoester het dat jy ‘n bydrae gemaak het tot jou redding word dit verder uitgewis deur dit duidelik te maak dat hierdie genade aan ons bewys is van ewigheid af. Die besluit van my redding is dus geneem voor Adam en Eva of enige iets geskep is. Efesiërs 1:4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees – voor die grondlegging van die aarde. Alles het plaasgevind voor die Skepping. Hoe kan jy glo en bely dat jy uitverkies is voor die grondlegging en nogsteeds dink dat jy ’n bydrae gemaak het? Sommige het die idee dat God vooruit kon sien dat jy vir Hom sou kies en daarom het Hy jou gekies. Die Bybel is egter duidelik dat niemand God sal kies sonder sy ingryping nie, want ons is dood in ons sonde. Hierdie daad van uitverkiesing word nog sterker beklemtoon as ons dink aan Jesus se hoëpriester gebed. Johannes 17:6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Sommige sê dat hierdie vers net die apostels in gedagte het, maar as jy net verder lees bid Jesus “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.” Johannes 17:9. Dieselfde word beklemtoon in die gelykenis van die skape en die goeie herder in Johannes 10. Hier maak Jesus dit duidelik dat die skape diegene is wat aan Hom behoort en na Hom sal luister. Hy bevestig dat Hy sy lewe vir hierdie skape sal gee en dat hierdie die groep is wat die Vader aan Hom gegee het. Joh 10:28-29 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Die wat gegee is staan teenoor die wêreld wat nie gegee is nie. Hierdie intrede van Christus voor die Vader word verder bevestig in Hebreërs. Hebreërs 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Hy tree in vir die wat Hy red. As hy vir almal intree veronderstel dit nie dat Hy almal moet red nie? En as Hy vir almal intree en almal word nie gered nie wat sê dit vir ons aangaande die doeltreffendheid van sy intrede? Die oomblik as ons wegbeweeg van God se absolute soewereiniteit in ons redding val God van die Almagtige God wat Hy is na ‘n god wat sy beste probeer maar in die meerderheid gevalle misluk.
Slot
‘’Van ewigheid is ons aan Christus gegee’’ Wat ‘n ongelooflike gedagte? As kind van God is jy geskape om aan Hom te behoort. Hierdie kindskap is uit genade al vir jou voorberei nog voordat jy gebore is. Christus het alreeds besluit om vir jou met Sy bloed aan die kruis te betaal, wetende dat jou lewe vol sonde dit sal vereis. Was jy spesiaal en daarom het Hy dit gedoen? Nee, maar jy is nou spesiaal omdat Hy dit gedoen het. Jy het genade ontvang. Mag dit waar wees van jou lewe dat jy soos Maria sal besef hoeveel jy vergewe is. Dat jy sal besef hoeveel genade jy ontvang het en dat jou lewe sal wys dat diegene van wie baie vergewe is, baie lief het.
