Sonde net jou skuld?!

6- Deur hul eie skuld sterf mense wat Christus verwerp, in ongeloof. Nie weens die Kruis se gebrek nie Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.

Inleiding

Ons het reeds in die vorige blog gesê hoe belangrik dit is dat die evangelie na elke volk en taal en nasie moet gaan. Elke gelowige word soos die apostels van ouds opgeroep om hierdie taak te vervul. Jy kan nie ’n gelowige wees sonder dat jy ook iemand is wat met jou mond bely dat Jesus die Here is nie. Romeine 10:9-10  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Hierdie boodskap moet uitgaan na die wêreld.

‘n Kragtige boodskap

Elke gelowige besef dat die Evangelie van Jesus Christus ‘n blye boodskap is. Nie net is dit ‘n blye boodskap nie, dit is ‘n kragtige boodskap. Romeine 1:16  Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Die Heilige Gees bevestig die Woord met krag en ons sien hoe geestelike dooie mense lewendig gemaak word. Daar is dus geen gebrek kragtens die boodskap nie. Die boodskap van die kruis skiet nie te kort nie. Daar is niks ekstra wat dit nodig het om sogenaamd te ‘’werk’’ nie. So baie wil in hulle verkondiging van die evangelie, die boodskap van die kruis so bietjie aanhelp – asof dit nie genoegsaam is om mense te red nie. Hoeveel predikers aanvaar onomwonde die stelling dat mense gered word deur die dwaasheid van prediking.

‘n Dwase boodskap

1Korintiers 1:21  Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. Vir meeste kerke is die prediking nie genoegsaam nie en hulle wil allerhande programme en dinge probeer om die boodskap net so ’n bietjie van ’n hupstoot te gee. Onthou, as ons praat van prediking sluit dit elke individu wat in sy werksplek, skool of huis die evangelie uitdra in. Dit is vir baie mense dom om iemand te hê wat op ‘n Sondagoggend vir ‘n uur ander uit die Woord leer. So die metode, om te preek, is vir baie dwaas. Vir baie mense is selfs die boodskap ’n dwaasheid. Die boodskap wat aan die wêreld verkondiging word van die Seun van God wat aan ’n kruishout ons sonde gedra het. Elke keer as ek voor ongelowiges praat is ek terdeë bewus van hoe vêr my woorde te kort skiet in ’n wêreld wat niks te doen wil hê met Jesus Christus nie.

‘n Uitnodiging

Vir die wêreld is die boodskap van die kruis dwaas. 1Korintiers 1:23  maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke. Baie sal dus hierdie boodskap hoor en nie daarop ag gee nie. Jesus vertel die gelykenis van ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun hou en hoe hy diensknegte uitstuur om mense te nooi om na die bruilof te kom. Die verhaal skok jou as Jesus vertel dat die mense wat die uitnodiging ontvang allerhande swak verskoning het hoekom hulle nie kan kom nie, ja en erger nog, dat hulle sy diensknegte mishandel en doodmaak. Mattheus 22:6  En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Was daar iets fout met die boodskap? Het die diensknegte dit nie reg oorgedra nie? Hoe kan jy die uitnodiging kry, “Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof, “ en nie wil kom nie. Mattheus 22:4. Jesus sluit die gelykenis af “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Mattheus 22:14. Baie sal geroep word en die boodskap wat uitgaan sal ’n blye boodskap wees, maar mense se harte is boos en sleg.

Die Israeliete was dieselfde. Hulle het die belofte van die beloofde land ontvang en die uitnodiging om God te volg en tog het hulle hul harte teen God se opdrag verhard. Daarom het God ’n hele nasie, van twintig jaar en ouer, uitgewis in die woestyn. Ps 95:11 sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie! Die Hebreërs-skrywer haal hierdie gebeurtenis ook aan as hy mense waarsku om ag te gee om die boodskap wat aan hulle verkondig word. Hebreërs 4:6 Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie.

‘n Keuse

Die boodskap nooi jou uit. Jy kan dit aanvaar of nie en indien jy dit nie aanvaar nie is dit hoegenaamd nie die skuld van die Een wat jou uitnooi of die een wat die uitnodiging aan jou bring nie. As die uitnodiging nie vir jou aanloklik genoeg is nie, is dit omdat jy jou hart verhard daarteen en nie omdat die boodskapper dit nie goed genoeg aan jou oorgedra het nie. Dit gaan nie help om ‘n beter uitnodigingskaartjie te maak nie.  Die skuld vir die nie-aanvaarding van die boodskap van die kruis is dus nie by God se Woord nie en ook nie by die een wat dit verkondig nie, maar by die mens wat nie wil ag gee op hierdie blye boodskap nie.

Is dit dan nie God wat harte verander sodat mense in Hom glo nie? As iemand dan nie glo nie is dit mos omdat God nie sy hart verander het nie?

So dink baie wat die eerste keer van die uitverkiesing hoor. Hulle plaas die blaam van ’n harde hart op God. Dit veronderstel dat mense se harde harte God se fout is, asof God die sonde gedoen het. Nee die Bybel leer ons dat die mens deur en deur sleg is. Psalm 14:1  Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Dit verstom my dat gelowiges wat die Bybel behoort te ken die idee het dat die wêreld en die wêreld se leiers die goeie in gedagte het. Asof hulle die beste en edelste ingedagte het met alles wat hulle doen. Ja, dit is waar dat God die hart van ’n persoon wat alreeds hard is verder kan verhard om sy plan uit te voer soos in die geval van Farao. Romeine 9:17-18  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. Farao was nie ’n wonderlike man wat God verhard het nie. Nee hy was deur en deur boos. God het egter sy hart wat alreeds hard was nog meer verhard sodat Hy al sy wonderwerke voor die Egiptenare se oë kon uitvoer.

Die mens kies dus uit sy eie teen God se verlossingsplan sonder enige aanmoediging van buite. Selfs in die tuin sien ons hoe hierdie keuse teen God se opdrag afspeel. Nêrens forseer die slang vir Eva of Adam om van die vrug te eet nie. Dit is duidelik wat hulle oortuig het om die vrug te neem en te eet. Genesis 3:6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. Dit was haar hartsbegeertes! In stryd met God se waarskuwings glo ons altyd dat die sonde vir ons heerlik en goed sal wees. ‘’Ek sal beter daaraan toe wees as ek dit doen.’’ ‘’Hierdie ding sal my gelukkig maak.’’ Die duiwel is die vader van die leuen en sy lekkernye is gevul met gif. Ons harte begeer die verkeerde. Elke mens sonder God is ’n sondige worsmasjien. Die sonde kom net sonder enige stryd na vore. Die hart haat God en wil niks met Hom te doen hê nie. Daarom as die hart verander moet die verandering van God kom. Esegiël 36:26  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.

Slot

Is dit God se skuld dat ons Hom nie kies nie? Nee, dit is die mens se eie sonde waarin hy/sy wil volhard. Die Kruis is nie die probleem nie. Die verkondiger daarvan is ook nie die probleem nie. Die mens is. Ons doen wat ons wil. Die mens bal sy vuis teen God en Sy gebod. God is egter die Een wat ons wil kan verander na Sy wil en daarom is die kruis genoegsaam. God doen nie sonde nie en Hy lei niemand in versoeking nie. Nee, maar Hy roep almal en maak diegene wat Hy uitverkies het se oë oop, en gee hul ‘n nuwe hart van vlees. ‘n Hart wat met blydskap sy boodskap aanneem en met vreugde sy Naam verder verkondig en bely. Loof Sy naam.