4. Hierdie dood het daarom so ‘n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen ‘n ware en volkome heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so ‘n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het.
5. Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.
Inleiding
Hoe maklik hoor ons nie deesdae die verhaal van die kruisiging as net ’n blote soetsappige storie nie. Dit het ‘n verhaal geword, wat selfs min mense in die kerk werklik diep raak. Miskien is die grootste rede hiervoor die manier wat die kerk in die algemeen sonde bejeën. Een van my professors het een keer ’n artikel geskrywe waarin hy gesê het “dit was nie heuning wat gedrup het van die kruis nie, maar bloed”. Die kruis is nie iets wat om jou nek moet hang as bloot ’n ornament nie, maar meer as ’n gewig wat jou dryf na jou knieë. Die kruis was sekerlik een van die wreedste manière waarop iemand doodgemaak kon word. Nie net was dit fisies ongelooflik wreed nie, maar dit was ook geestelik ongenaakbaar, as vloek en vernedering. Jesus het dit uit vrye wil op Homself geneem. Johannes 10:17-18 Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. Waarom is hierdie enkele daad die bron van al ons hoop?
Waarde van die kruis
Sy kruisiging is vir die gelowige van onskatbare waarde. Die oomblik as jy die kruisiging verstaan is jy soos die man wat die pêrel kry en alles verkoop om hierdie pêrel in die hande te kry. Dit is nie iets wat met ‘n verkooptegniek of smeking aan jou verkoop hoef te word nie. Niemand hoef vir jou te vra om net asseblief die pêrel ’n kans te gee nie. Jy hoef nie ‘’n ‘’free trial’’ periode aangebied te word, met ‘n geld terug waarborg nie. ‘’Kyk hoe werk dit vir jou!’’. Nee, die wat die pêrel vind vind ’n skat wat hulle nooit wil prysgee nie, al kos dit hulle hul lewens.
Hoekom is hierdie kruisiging vir die mens so waardevol? Is dit die metode – die kruisiging self? Nee verseker nie, want baie mense het in die Romeinse tyd so gesterf, met geen betekenis vir ons nie. Die rede vir die onskatbare waarde van die kruis lê in die persoon wat aan die kruis gehang het. Hy is die God/mens. As mens is Hy heilig en volmaak, dus sonder enige sonde. Hebreërs 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Sy versoeking was nie net na sy doop in die woestyn nie. Van geboorte tot by sy sterwe is Hy versoek soos enige ander mens. Hy is tot die uiterste toe versoek, maar anders as ons het Hy nooit gesondig nie. Hy was die offer waarna die offerandes in die Ou Testament gewys het. Elke offer wat in die Ou Testament gebring was, moes aan sekere vereistes voldoen het. Die lam moes sonder enige liggaamsgebrek wees. Alles aan Hom moes volmaak wees. Selfs Jesus se bene aan die kruis is nie gebreek nie as beeld van ’n lam sonder gebrek. Nadat hulle die twee manne langs Jesus se bene gebreek het, wat ’n vinnige dood sou veroorsaak het, kom hulle by Jesus en vind dat Hy alreeds dood is. Hierin word ook die Psalmdigter se profesie vervul wat sê “Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.” Psalm 34:21.
‘’Koopkrag’’ van die kruis
Hy het die prys betaal wat ons nooit kon betaal nie, omdat Hy ook volkome God is. Hy is die Seun van God. 1Johannes 4:9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hy is volkome God. God wat geen begin of einde het nie. Een van die Drie-Eenheid. Omdat Hy ewig is kon Hy ook die ewige prys vir die mens se ewige skuld aan ’n ewige God betaal. Hy het die toorn van God kom dra. Aan die kruis roep Hy uit: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? Mattheus 27:46. Hierin word die feit dat Sy Vader hom verlaat het a.g.v. die toorn oor die sonde wat Hy moes dra uitgedruk. Dit verwys ook na Psalm 22 waarin Jesus se hele kruisdood voorspel en uitgebeeld is lank voor enige kruisiging nog ooit gedoen is. Die wraak van God was op Hom. Iets wat ons nooit ten volle sal verstaan nie. Ons toorn het Hy gedra. Ons straf was op Hom. Deur sy wonde het ons genesing ontvang.Jesaja 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Hoe hartseer dat hierdie teksvers so baie keer as ’n fisiese genesing gesien word. Hoe is dit moontlik dat mense fisiese genesing belangriker as geestelike genesing kan ag? Is dit nie die groot probleem hoekom die kruis vir sommige geen waarde het nie? Hul behoefte is: ‘’Here, verlig net die probleme hier en nou‘’ of ‘’Here, as dit net fisies nou met my kan goed gaan.’’ God se genesing is geestelik en sy vrede ewig. ’n Aardse vrede is egter dit waarna die meeste mense smag en so mis hulle God se ewige vrede en die waarde van die kruis. Vir Sy volgelinge het Hy dit baie duidelik gemaak dat dit nie ’n aardse vrede sou wees nie. Lukas 12:51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Die vrede wat Hy kom bring het is tussen ons en God. Die toorn is weggeneem en ons ontvang sy liefde en guns en word in Hom aangeneem as seuns en dogters.
Opdrag van die kruis
Hierdie boodskap is aan elke gelowige toevertrou. Ons, net soos die apostels, word opgeroep deur Jesus om hierdie boodskap wyd en syd te verkondig. Mattheus 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Is dit nie ’n ongelooflike voorreg om toevertrou te word met so ’n heerlike en vreugdevolle boodskap nie!? So baie mense is skaam vir hierdie boodskap. ‘’Dis privaat’’ sê hulle. Hulle bêre hierdie boodskap onder ’n maatemmer i.p.v. op ’n staander te sit sodat almal dit kan sien. Hulle hanteer die boodskap soos ’n broer in die tronk. Is ons skaam vir hierdie wonderlike boodskap waardeur ons vry verklaar is? Kan iemand wat die kruisboodskap verstaan werklik skaam wees vir hierdie boodskap? Jesus wys daarop dat iemand wat hom/haar skaam vir sy woorde nooit in die koninkryk toegelaat sal word nie. Lukas 9:26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. So iemand kan beslis nie gered wees nie. Die rede hoekom baie hulle skaam is omdat hierdie boodskap nie deur die meerderheid van die wêreld aanvaar word nie.
Struikelblok van die kruis
Hierdie boodskap is ’n struikelblok vir baie. 1Korintiers 1:23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke. Die struikelblok lê daarin dat jy eers die waarde van die kruis besef as jy jou waardeloosheid daar sonder besef. Dit is die boodskap wat vertel dat daar niks goed in die mens is nie, dat daar geen manier is waarmee die mens hom/haar met God kan versoen nie en dat God se toorn oor elke individu is. Slegs deur Christus se kruisiging kan diegene wat in Hom glo vrykom van God se toorn. Hierdie boodskap klink soos dwaasheid. Die fokus word weggeneem van die mens en sy glorie en totaal geskuif na God en Sy werk van verlossing in die Drie-Eenheid. Die boodskap moet duidelik gebring word -dit is die kruis of niks. Die kruis of die hel. Dit maak ’n hemelse of helse verskil.
Slot
Die kruis het onskatbare waarde, die koopkrag – die ewige lewe. Die boodskap is blye en tog ’n struikelblok vir baie. Elke gelowige het die opdrag om hierdie boodskap aan sy wêreld te verkondig. Hierdie verkondiging is nie ’n opsie nie. Jy het nie ’n keuse hierin nie. Dit is ’n imperatief, ’n opdrag. Jy moet. Selfs die man langs Jesus aan die kruis het sy mede gekruisigde opgeroep om weer te kyk na die Een in die middel. Lukas 23:40-41 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. Watter boodskap was dit nie.! Jy behoort God te vrees. Jy is skuldig en ontvang die verdiende loën. Niks wat jy ontvang is onregverdig nie, jou straf is regverdig. Tog is daar hierdie ander Een wat anders as ons twee is. Hy is regverdig. Hy het niks verkeerd gedoen nie. Die Heilige Gees moes hierdie man se oë oopgemaak het sodat Hy dit kon sien. In die volgende oomblik neem hy sy toevlug na die enigste Verlosser, “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Lukas 23:42. Daar is geen manier dat iemand soos ek wat skuldig is in die koninkryk toegelaat sal word nie. U is die deur! Johannes 10:9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
Dankie Here dat U aan ons gedink het, toe U aan die kruis gehang het en dat U steeds aan ons dink in die Paradys.
