Die God van wraak en genade!

2. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

3. Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Inleiding

Ons lewe in ’n tyd wat die gedagte aan straf min gewig dra. As kind het ons nog pak slae gekry as ons stout was en op skool het ons sovêr moontlik uit die moeilikheid probeer bly. Enige kwaaddoener het die polisie gevrees en die tronk was ‘n sekere bestemming vir enige een wat dit durf waag  het om die wet te oortree. Vandag gee ouers nie meer pak nie, skole se hande is basies afgekap as dit by dissiplinering van leerders kom en kriminele kom weg en word selfs in belangrike posisies aangestel. Die mens het geen vrees meer vir straf nie en ongelukkig het hierdie ligsinnige vreesloosheid ook ons denke rondom God en God se toorn en straf beïnvloed.

God se toorn

Niemand hou daarvan om oor God se toorn te praat of preek nie. Dit is nie een van daardie “lekker” voel onderwerpe nie en word deur die meerderheid van predikante vermy. Die fokus is God se liefde en genade en ons kry tot vandag sekere sektes wat as hyper Calviniste bekend staan. Hierdie kerke preek genade bo enige iets anders en die woord sonde bestaan nie in hul eredienste nie. God se liefde en genade is oor almal en vir almal, ongeag wat hulle doen of glo. Jy hoef nooit weer om vergifnis vir sonde te vra nie, want dit is reeds betaal deur Christus en daarom is die mens nou vry om te doen wat hy/sy wil.

Mense kyk jou snaaks aan as jy praat oor God wat toornig is. Tog is die Skrif baie duidelik aangaande God se toorn. Psalm 7:12  God is ‘n regverdige regter, en ‘n God wat elke dag toornig is. Dit is ’n gedeelte waaroor sekerlik min gepreek word, indien ooit. Wil die Psalm sê dat God elke oomblik van die dag kwaad is? Hoe is dit moontlik? Wat van die gedeeltes van sy liefde en genade? Hierdie tipe vrae sou nooit gedurende die Reformasie gevra geword het nie, omdat die mens van daardie tyd ongelooflik bewus was van hul sonde en tekortkominge ten opsigte van God se standaard van Heiligheid. Die mens van die 21 ste eeu sien nie meer sonde, soos hulle dit behoort te sien, nl. iets wat God haat, nie. Volgens die moderne mense is die woord sonde ‘n hiperbool. Die taal wat gebruik moet word, is “per ongeluk”,  ’n “glips” of ’n “ou foutjie” of een of ander soortgelyke eufemisme.  Wat hiermee saamgaan is die verskuiwing van blaam. Niks is meer jou skuld nie – nee, dit is jou ouers of omstandighede of jou werksplek of jou gene se skuld – enige iets of iemand s’n behalwe joune. Ons hoor gereeld woorde soos: “Dit is nou maar hoe ek gemaak is.” Die feit is ons is almal in sonde gebore – juis daarom het ons ’n Redder nodig en juis daarom het ons die hulp van die Heilige Gees nodig om ons te verander en te vernuwe. Jy is dalk so gemaak, maar jy hoef en mag nie so bly nie. Die psalmdigter sê God se woede is elke dag daar oor die sonde van die wêreld en ja, oor elke mens sonder Christus. Sonde is nie ’n ligtelike saak nie.

God haat die sondaar

Geen persoon wat ’n gelowige is, kan na sonde kyk, in sy eie lewe sowel as die lewe van ander,  en dit as iets ligtelik afskrywe nie. Ons verstaan dat God die sonde haat. Psalm 5:6  Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid of Psalm 11:5 Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Ja, God haat mense wat ongeregtigheid doen. Die Bybel is duidelik dat elke persoon in hierdie wêreld sonder Christus in ongeregtigheid vasgevang is. Daar is dus nie ’n oomblik wat verbygaan dat God nie die mens in hierdie wêreld haat en dat Sy toorn of woede op hulle rus nie. Miskien is dit ook belangrik om hier te noem dat enige persoon sonder die wederbaring van die Heilige Gees ook vir God haat. Baie mense het die idee dat as Christus vandag geleef het die meerderheid Hom sou aanvaar en dat Hy verseker nie in ons dag gekruisig sou word nie. Enige persoon wat dit dink is totaal naïef. Die rede hoekom baie wêreldse mense, in die kerk en rondom ons, van Jesus hou is omdat ons Jesus nie korrek aan hulle verkondig het nie. ’n Jesus wat jou maatjie is, al jou sonde oorsien, jou lief het soos jy is en jou nog boonop seën met voorspoed en gesondheid, is die Jesus wat die wêreld soek. Die Jesus wat mense oproep om hul kruis te dra en Hom te volg, hul lewens in hierdie wêreld op te gee en te sterwe in alles wat vir hulle belangrik is, is onbekend aan menige mense,  selfs sommige in die kerk. Markus 8:34-35  En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. Verder is dit belangrik om vir mekaar te sê dat God nie net toornig is oor die mens se sonde nie, maar oor die individu. Partykeer hoor jy mense sê dat God lief is vir die mens maar sy/haar sonde haat. Dit is ’n absolute valse stelling met geen Bybelse verwysing nie. Daar moet onmiddellik gevra word of die persoon wat dit dink besef dat dit nie die sonde is wat in die hel vir ewig gaan brand nie, maar wel die individu.

Bevry van God se toorn

Elke persoon staan onder die toorn van God. Paulus skrywe aan die Efesiër gemeente dat elke persoon wat in sonde wandel, net soos die gelowiges voor hulle wedergeboorte, onder die toorn van God staan. Efesiërs 2:1-3  En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. As hierdie gedagte ‘n realiteit in jou lewe is, is dit wat Christus in ons as gelowiges se plek kom doen het, die Blye Boodskap. Die Blye Boodskap dat Christus ons sonde en God se toorn kom dra het, dit is waaroor die profete geprofeteer het. Jesaja 61:1  Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos. Jesus haal hierdie gedeelte aan as Hy in die sinagoge in Nasaret is. Hy het die profeet Jesaja oopgemaak en hierdie gedeelte gelees en nadat Hy dit gelees het die volgende gesê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Lukas 4:21. Die twee opsies is duidelik: óf die verbinding van die gebroke harte óf die wraak van God. Hy het aan die kruis die wraak van God gedra, sodat ons kan vry kom van God se wraak. Die Psalmdigter beeld dit so mooi uit as Hy God beskrywe as die rots by wie ek skuil. Psalm 18:3  Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting. Net in Christus is daar skuiling en verlossing. In Hom word ons bewaar en is ons vry van die wraak van God. In Hom is daar vrede met God en kan ons ten volle die liefde, waarop so baie alleenlik wil fokus, ervaar.

Slot

Christus is God self. Hy is die tweede Persoon van die Drie-eenheid. Omdat Hy God is kon Hy die sonde, wat ’n sonde teen God en dus ewig is, betaal met ’n ewige prys. Hy het nie nodig gehad om ewig te ly nie, want Hy is ewig. In Hom is die wraak van God opgehef ten opsigte van Sy kinders. As jy die wraak van God verstaan, verstaan jy die kruis. As jy die kruis verstaan, verstaan jy die genade en barmhartigheid van God in Christus Jesus. As jy hierin jou skuiling kom vind het, is dit die mees Blye Boodskap wat jou totale lewe transformeer. Galasiërs 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 

Ek hoef as gelowige geen vrees vir God se straf en oordeel meer te hê nie, omdat Christus dit vir my gedra het. Nou leef ek vir Hom uit dankbaarheid met ‘n heilige lewe soos wat die Gees my lei. Wat ’n voorreg en vreugde.