Kan God genadig en getrou wees?

Hoofstuk 2: DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENSE DEUR SY DOOD

1. God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid – soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het – eis dat ons sondes, wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.

2. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

Inleiding

God is heilig – geen sonde kan naby hom kom nie. God is regverdig – alle sonde moet gestraf word. Sonde teen Hom vereis ewige straf. Ons is sondig – self ons beste dade is nie goed genoeg nie. Ons kan niks doen om vir ons sonde te betaal nie. Hoe verstaan ons dan dat God wel barmhartigheid aan ons betoon? Is Hy nie ten volle regverdig nie? Is Hy nie ten volle heilig nie? Kan Hy die sonde “oorsien” en anderkant toe kyk? Is dit wat sy liefde beteken – dat hy ons “oorsien” deur ons sonde ongestraf te laat bly?

Genadig en regverdig

Hierdie kwessie veroorsaak dat baie mense wonder oor God se regverdigheid? Is God se liefde vir sy kinders van so ’n aard, dat dit groter is as sy regverdigheid en dus veroorsaak dat Hy sonde ongestraf laat bly? Daar is n Psalm wat hierdie konundrum mooi vertolk. Psalm 85:11-12 Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer. Die woord vir goedertierenheid in die Hebreeus is “Gesed”. Hierdie woord word in Engels as “lovingkindness” vertaal, m.a.w. liefde en genade. Die woord vir trou, daarteenoor, beteken in die oorspronklike Grieks, getrouheid of waarheid. Die vraag is hoe “genadige liefde” saam met “waarheid” kan gaan? Hoe kan God aan ons genade bewys en tog getrou wees aan sy eie heiligheid en regverdige vereistes? Daar is tog nie ’n mens wat kan doen wat God vra nie? Dit kan net genade wees as God ons aanvaar, en steeds vereis God dat daar getrou gehandel word in lyn met Sy heiligheid. Hierdie probleem word verder geïllustreer deur die psalmdigter as hy sê: “Geregtigheid en vrede kus mekaar.” God eis dat ons in alles reg moet lewe. ‘Reg’ beteken om in ooreenstemming met sy bevele te leef – om al sy bevele 100% na te kom, nie net vir ’n sekonde of ’n oomblik nie, maar vir jou hele lewe. Dit is tog nie moontlik nie. Sê Jesaja nie dat ons geregtigheid soos ’n besoedelde kleed is nie? Jesaja 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Hoe kan daar dan vrede wees tussen God en mens? Geregtigheid en vrede wat mekaar kus is dan slegs ’n droom en net ’n lugspieëling buite ons bereik. Hierdie is die eeu oue retoriese vraag: “As God regverdig is, hoe kan hy die mens vryspreek?” Die karaktertrekke, nl. genadig en regverdig, negeer mekaar. God kan nie regverdig wees en vir enige mens, ten spyte van sy sonde, sê dat hy/sy die Hemel kan ingaan nie.

Ons verdien straf

Elke sonde hoe “klein” in menslike oë is ’n sonde teen ’n lewende God en daarom verdien elke sonde wat teen ’n ewige God gepleeg word ’n ewige straf. As ons sê dat God regverdig is beteken dit dat as Hy elke mens vir ewig in die hel straf, Hy daarom getrou is. Hy het gedoen wat ons verdien. Elke mens word van hierdie ewige straf in God se Woord gewaarsku. In Jesaja word mense, wat teen God opgestaan het, se straf beskryf. Isa 66:24  En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees. Hierdie vers word deur Jesus bevestig in Markus 9. Jesus vertel sy volgelinge dat dit beter is as hulle hul arm afgekap en oog uitgeruk word as dat hulle in die ewige hel gegooi word. Markus 9:47-48  En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. Die erns van die hel kan duidelik in Jesus se prediking gesien word aangesien hy meer oor die hel as oor die Hemel met hulle praat. Hy praat ook herhaaldelik dat dit ’n plek sal wees waar mense op hulle tande sal kners, ’n plek waar siel en liggaam, die totale mens gepynig sal word. Daar is geen manier wat ons van hierdie straf kan vrykom op ons eie nie.

Perfekte geregtigheid net in God

Die profete vertel ons dat daar ’n tyd van verlossing sal plaasvind, ’n tyd wanneer God se mense veilig sal woon. Jeremia 23:6 In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Jeremia sê dit sal veilig wees omdat die Here ons geregtigheid sal wees. So geregtigheid sal nie uit onsself wees nie, maar uit God. God sal die geregtigheid wat Hy van ons vereis, self moet bevredig. Hoekom sou God dit wou doen? Alleenlik omdat Hy barmhartig is. Daar kan nooit na hierdie weldaad van God gekyk word asof ons dit enigsins verdien nie. Niemand verdien barmhartigheid nie. God het mens geword en die geregtigheid (reg) kom doen wat ons nie kon doen nie. Daarom sê Jesus ook aan Johannes die Doper dat Hy gekom het om alle geregtigheid te vervul. Mattheus 3:15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. Nie net het Hy die geregtigheid in ons plek kom doen nie, maar ook die sonde en vervloeking aan die kruis kom dra. Die vervloeking is duidelik, aangesien God dit aan sy volk duidelik gemaak het dat enige persoon wat aan ’n boom hang, vervloek is. Deuteronomium 21:22-23 En as in iemand ‘n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ‘n paal ophang, dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik dié dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie. Daarom se Galasiërs ook “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang” Galasiërs 3:13. Hy het geword wat ons is – vervloektes, sodat ons kon word wat Hy is – seuns/dogters van God. Die straf wat ons moes ontvang het op Hom gekom. Daarom profeteer Jesaja “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Jesaja 53:5. Sy kruisdood het vir ons genees van al ons sondes. Hy het die skuld gedra en ons kon vry gaan.

Slot

God kom antwoord teoloë se probleem – deur self die straf te dra. In Hom word die konundrum dus opgelos. Is God getrou en regverdig as Hy ons vryspreek? Beslis, want Hy het die straf gedra. Is daar nou vrede tussen ons en God? Beslis, want ons het Christus se geregtigheid ontvang en ons sonde is ten volle betaal. Hy is dus ter gelyke tyd regverdig en barmhartig. Psalm 85:11-12 Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Kan jy nou die Psalmdigter verstaan? Die grootste wonder is dat die sondelose Lam van God ons sonde kom neem het en die straf gedra het asof dit sy eie was. In hierdie Goddelike ruiltransaksie ontvang God se seun ons sonde en ons ontvang sy geregtigheid. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom, sodat ons kan word – kinders van God.