17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie.
Inleiding
Die Dortste leerreëls het tot dusvêr dit duidelik gemaak dat ons verstaan vanuit die Skrif dat God die een is wat kies en lewend maak. Dalk het jy tot dusvêr geen probleem hiermee gehad nie en aanvaar jy dit as die waarheid wat die Woord ons leer. Wat nou van kinders? Die Dortse leerreëls behandel juis hierdie vraag omdat dit soveel ongemak by baie veroorsaak. Ons aanvaar dat die Skrif sê dat kinders in sonde ontvang en gebore word en tog wil mense graag hê dat alle kinders, a.g.v. die feit dat hulle nog nie werklik ’n begrip van God het nie, nie oor hierdie erfsonde geoordeel word nie. Daar is dus diegene wat leer dat alle kinders (gewoonlik onder 12) gered is. Dit sou egter beteken dat daar ’n ander manier van redding bestaan as net deur die Naam van Jesus alleen. Paulus noem die kinders van ongelowiges, onrein. Ons wil egter nie hier fokus op kinders wat verlore gaan nie, maar oor wat ons glo die Skrif ons aangaande die kinders van gelowige ouers leer.
Uitverkiesing van kinders
Kinders van gelowige ouers is uitverkies omdat hulle deur God ingesluit word in die genadeverbond. Ons as Gereformeerdes glo dat God die mens gekies het voor die grondlegging van die wêreld. Efesiërs 1:4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees. Die direkte objek van die werkwoord “uitverkiesing” is ons. Ons is uitverkies. As hy skrywe van ons is hy eerstens besig om met die kerk in Efese te praat en tweedens met elke gelowige deur die geskiedenis. God se genade is aan ons bewys in Christus Jesus en nie a.g.v. iets wat ons sou doen nie. Dit is dus ’n geskenk wat die gelowige bely dat hy/sy ontvang het. Dit is so belangrik dat elke gelowige dit moet bely. Hierdie feit van genade sonder verdienste was deur die geskiedenis ‘n steen des aanstoots vir mense sonder Christus. Die Jode het in opstand gekom omdat Jesus vir hulle geleer het dat geeneen van hulle na Hom sou kom as die Vader hulle nie trek nie. Johannes 6:65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. In God alleen is dus die oorsprong van ons redding.
As ons gered word op grond van God se uitverkiesing voor die grondlegging van die wêreld en dat ons niks daarvoor kon doen nie, hoekom is dit so moeilik om te dink dat klein kindertjies en babatjies ook uitverkies is en dus gered is voor enige besluit van hulle kant af.
Lasarus
Die verhaal van Lasarus is so ’n goeie beeld van verlossing en uitverkiesing. Jesus maak dit duidelik dat die lewend making van Lasarus ‘n teken is van iets veel meer as slegs die fisiese opwekking van ’n man. Martha bely dat sy glo dat haar broer sou opstaan in die laaste dag. Hierop antwoord Jesus haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? Johannes 11:25-26. Hy is die opstanding. In Hom is daar lewe. Hy het alreeds aan Nikodemus in Hoofstuk 3 verkondig dat iemand die koninkryk van God nie sou sien as Hy nie van bo gebore word nie. Hierdie wedergeboorte is die werking van die Heilige Gees.
Hier word die eenheid van die Drie-eenheid weereens beklemtoon in die lewend making van mense. Hierdie proses van lewend making sou duidelik voor hulle oë afspeel. Jesus staan voor die graf en roep ’n man wat al vier dae dood is uit die graf. Jesus beplan om te wag tot Lasarus al vier dae dood is, voordat hy opdaag. Die rede hiervoor was dat die Jode geglo het die gees van ‘n mens die persoon drie dae na sy/haar dood verlaat. Daar is dus geen potensiële lewe in Lasarus nie. Op Jesus se bevel kom Lasarus uitgeloop met doeke om sy hande en voete. Wat wil Jesus sy volgelinge leer rakende Homself – Hy wat bely het dat Hy die opstanding en die lewe is? Het Lasarus ’n keuse gehad om dood te bly. Het Jesus vir Lasarus toestemming gevra om hom op te wek? Het Lasarus enige bydrae gelewer in die opwekking? Nee Lasarus was dood net soos elke persoon geestelik dood is. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Elke gelowige word, net soos Lasarus fisies lewendig gemaak is, geestelik lewendig gemaak. Efesiërs 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes. Hierdie lewendmakend vind plaas op die dag wat God bepaal het.
Johannes die Doper.
Johannes die Doper word geestelike “gebore” nog voor sy fisiese geboorte. God maak dit van die begin af duidelik vir sy ouers. Lukas 1:15 want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. Hoe is dit moontlik? Hoe kan hy al gevul wees met die Heilige Gees voor sy geboorte? Die antwoord is eenvoudig, God het dit so bepaal. Die bewys dat dit plaasgevind het, is duidelik vanuit die Skrif wanneer ons van sy reaksie in Elisabet se moederskoot hoor, die oomblik toe Maria, swanger met Jesus, kom kuier. Luister hoe Lukas aan ons verduidelik wat plaasgevind het by hierdie ontmoeting. Lukas 1:41-44 En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. Hierdie kindjie, Johannes, het van vreugde opgespring. Dink jy klein Johannes was bewus van wat hy gedoen het in sy ma se maag. Die werking van die Heilige Gees het ’n klein lyfie laat opspring van vreugde. God beplan en doen dinge sonder ons toestemming. Hy is God en ons sy skepsels. Hy bring lewe en bepaal hoe en wanneer dit sal plaasvind.
Kinders in ’n gelowige ouerhuis
Daarom as ons na ’n vers soos 1Korintiers 7:14 kyk, sien ons God wat aan die werk is. Die verse voor 1Korintiers 7:14 roep gelowiges op om nie van hulle ongelowige huweliksmaats te skei omdat hulle ongered is nie. Hier gaan dit oor mans of vrouens wat, nadat hulle reeds getroud was met ongelowige mans, tot geloof gekom het en dit moet dus nie gelees word as ’n weerspreking van die Skrif wat sê dat gelowiges nie met ongelowiges mag trou nie. Dit staan vas. Die vraag word dan gevra wat nou gedoen moet word, aangesien daar ’n persoon in die huis is wat onrein is. Sal hierdie onrein persoon nie veroorsaak dat my hele huis nou onrein is nie en wat van my kinders? Hierop gee die Skrif ons die versekering dat God in so ’n huis sal werk indien die gelowige in die huwelik bly. Eerstens, dat God die ongelowige man of vrou heilig a.g.v. die gelowige man of vrou. Hier word die Griekse werkwoord gebruik. Die Skrif sê aan ons dat God besig sal wees met die man en vrou wat ongelowig is en dat hulle daarom nie die huisgesin onrein maak nie. Dan word in vers 14 vir ons vertel wat met die kinders van so ’n huisgesin gebeur. 1Korintiers 7:14 Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Die woord vir heilig by die kinders is die byvoeglike naamwoord wat gebruik word. ’n Byvoeglike naamwoord beskryf die selfstandige naamwoord – kinders in hierdie geval. Hoekom is hierdie onderskeid tussen werkwoord en byvoeglike naamwoord belangrik? By die man of vrou is dit heiligmaking in werking, maar by die kinders is dit ’n beskrywing van wat hulle alreeds is. Hulle is heilig in teenstelling met onrein, wat die beskrywing van ongelowiges is. Hierdie kinders word beskryf, soos wat elke gelowige in die vroeë kerk beskryf is, as heiliges. 1Korintiers 1:2 aan die gemeente van God wat in Korinte is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here.
Slot
God verklaar my heilig en lewendig sonder enige bydrae wat ek kon of moes lewer. Die genade is Syne. Die keuse is Syne. Die werking is Syne. Waarom kan ons dit vir onsself aanvaar, maar nie vir ons kinders nie? Kinders van gelowiges word ook onder die uitverkiesing bespreek aangesien hulle, net soos hulle ouers, in Christus uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld. God het in Sy almag bepaal in watter gesin elke persoon gebore sou word en daarom sien ons God se genadige werking in sy plasing van sekere kinders in gelowige ouerhuise.
Sommige kinders is uitverkies, maar word in goddelose huise groot. God sal in Sy alwetende almag sorg dat elke uitverkore kind van Hom tot geloof in Hom kom – deur sendeling, mense, omstandighede of wat ook al Sy plan bepaal so te plaas dat Sy kind Hom kan leer ken die oomblik as die Heilige Gees sy/haar oë oopmaak vir Hom, die enigste Lewende God. Alles is God se werk.
Mag God jou gebruik in sy plan, as kollega, vriend(in) en ook as ouer of grootouer.
