Skyn U lig in my lewe!

16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie – ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk – moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.

Inleiding

Een van die belangrikste kenmerke van ’n gelowige is die begeerte om God se wil te doen. As hierdie begeerte by jou teenwoordig is, kan jy seker wees dat die lewendmakingsproses by jou plaasgevind het. Ons leer van gehoorsaamheid en Godsvrug in ons lewens en weet dat dit tekens van ‘n ware kind van die Here is. Hoewel hierdie vir ons die versekering moet gee van ons uitverkiesing, is die feit dat ons so dikwels struikel en so dikwels ten spyte van ons voornemens misluk en God teleurstel, dit wat ons soms laat twyfel. Is ons werklik kinders van God? Het Hy ons werklik as sy eie uitverkies? Dit wat vir ons moet versterk, raak die bron van kommer en vrees. Die verhouding met God wat ‘n bron van vreugde en vrede moet wees, word een van onsekerheid en twyfel. 

Sekerheid is nie ‘n gevoel nie

Net so min as wat ’n blinde persoon ’n roos kan waarneem of ‘n dowe persoon na ’n Mozart komposisie kan luister, net so min kan iemand wat nie deur die Gees lewendig gemaak is nie, dit wat geestelik is verstaan of geniet. 1Korintiers 2:13-14  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Wêreldse mense wat nog in die vlees lewe, sal na die Skrif kom en dinge vir hulle uithaal waarvan hulle hou en wat hulle dink sinvol is, maar alles gaan oor hoe dit hulle laat voel. Hulle is baie soos Saul wat God wou dien op sy eie manier. Hy is ongehoorsaam aan die Here en wag nie vir Samuel om die offer aan die Here te bring nie. Slegs ’n priester kon offer aan die Here, maar Saul offer omdat sy manne hom verlaat in sy tyd van nood terwyl die vyande rondom hom is. Hy besluit dan om ’n offer te bring om die seën van die Here oor hom en sy manne te ontvang, sodat hulle die vyand sal kan oorwin. Wat dink hy sal hy ontvang as hy in ongehoorsaamheid aan God se opdrag ’n offer vir Hom bring? In sy soeke na ‘n gevoel of sekerheid, doen Saul die verkeerde. Soms is mense op soek na ‘n sekere gevoel in die kerk. Ons wil veilig voel, gevrywaar van aardse gevaar, ons wil gelief voel deur ‘n sondige wêreld, ons wil vrede ervaar met mense wat geen vrede met God het nie. Omdat ons na die verkeerde dinge soek, en dit dan nie vind nie, begin ons twyfel en voel dit asof die Here vêr weg is.  Die dinge waarvan ons verseker kan wees is nie gevoelens nie, maar ‘n vaste wete van geestelike veiligheid, goddelike liefde en vrede met God. God se wil sal in ons lewens geskied en omdat ons weet wie Hy is, kan ons daarin rus. Ons wil egter ons eie wil laat geskied en daarom sukkel ons in ons geestelike lewe. In Saul se kop het hy gedink dat God soos ’n lamp van ’n genie is wat jy moet vryf op ’n seker manier en dan sal Hy vir jou gee wat jy begeer. Ek kan seker wees ek is God se kind indien ek elke dag die begeerte het om Hom, in dankbaarheid vir my redding, te volg. Daardie begeerte kom nie uit jouself nie en is ‘n teken van die Heilige Gees se werking in jou.

Nie goed genoeg nie

Wat moet ek doen as ek ervaar dat ek nie daar is waar ek behoort te wees of wil wees in my geestelike lewe nie? Wel, eerstens is dit belangrik om te besef dat dit die karaktertrek van ’n gelowige is om ’n strewe te hê na ’n heiliger lewe. Elke gelowige, ongeag hul geestelike volwassenheid, wil nog meer geestelik groei. Geen ongelowige is egter bekommerd oor sy geestelike groei nie. Die persoon wat elke Sondag kerk toe gaan en sonder Christus is kyk na die groei van sy lewe en dink hoeveel beter hy/sy as ander mense is. Hy/sy gaan immers kerk toe. Hierteenoor kyk die gelowige na sy lewe en hoe vêr hy/sy nog te kort skiet aan God se standaard. Die gelowige is bewus van die vrug wat God verlang en hoe sy/haar vrugte nie opweeg teenoor die standaard wat God bepaal het nie. Die gelowige moet nooit moedeloos raak oor hul eie tekortkominge nie. Nee, elke keer as ek sien hoe vêr ek te kort skiet kan ek vlug na God se genade troon en by Hom pleit dat Hy my nog meer sal snoei, sodat ek nog meer vrug sal dra. Johannes 15:2  Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Hoe meer die gelowige geestelik groei op pad na geestelike volwassenheid, hoe meer kom sy tekortkominge na vore. Dit is asof die Heilige Gees in die begin van ons wandeling met God die lig soos ’n dimmer skakelaar net effens aandraai en veroorsaak dat ons net sekere van ons sondes kan raaksien. Hoe meer ons groei hoe meer word die dimmer gedraai en hoe helderder word die lig op ons lewens. Totdat dit soos ’n sprei lig op ons lewens skyn. Hoe meer ’n gelowige groei hoe meer word hy/sy dankbaar vir die genade wat God aan hom/haar bewys. Die sonde se pyn word al meer ’n realiteit en die felheid van die stryd teen die sonde neem toe. Hebreërs 12:4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. Hierin moet die gelowige nooit moedeloos word of moed opgee nie. Die gelowige moet besef dat hierdie stryd ’n teken en versekering is van sy/haar verlossing. In plaas daarvan dat dit jou moedeloos maak, moed dit jou geloof versterk met die wete dat God met jou besig is. Dit moet jou die versekering gee dat die Heilige Gees besig is om jou skerp te maak, deur jou te oortuig van sonde, sodat jy dit kan bely. Dit is daar om jou nader aan God te bring, omdat jy jou totale afhanklikheid van Sy werking in jou lewe meer en meer besef. Verder moet dit veroorsaak dat ons dankbaarheid toeneem teenoor ’n God wat ons so lief het en soveel genade aan ons bewys het.

God se genade

Kan ek so droogmaak dat God se genade “opraak”?  Ja, soms wonder mens hoe dit moontlik is dat God, nadat ons Hom soveel keer teleurstel, nog steeds vir ons kan lief bly. In ons menslike denke, vergelyk ons God met onsself en hoe ons teenoor mense optree wat ons herhaaldelik in die rug steek of teleurstel. God is egter genadig en barmhartig en Sy genade is altyd genoeg. Dit is juis in tye wat ek op my swakste voel wat ek juis die sterkste is. Paulus kon dit ervaar in sy eie lewe. Hy skrywe aan die Korintiër gemeente dat hy ervaar het dat ’n engel van die Satan hom met die vuiste slaan. Hoe het Hy nie gebid dat die Here dit moes wegneem nie. God se antwoord was anders as wat hy verwag nie. 2Korintiers 12:9  En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Baie keer in ons lewe, wanneer ons selfversekerd is in ons eie “goedheid” en geestelike volwassenheid, val ons die hardste vir die versoekings. Wanneer ons dink ons is geestelik sterk en dat ons maklik die sonde sal oorwin vergeet ons dikwels om versigtig te wees vir die Satan wat rondsluip soos ‘’n brullende leeu”. 1Corintiers 10:12  Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. God sal met my besig bly tot die einde, daardie dag wat Hy my kom haal,  daarvan kan ek seker wees. Hy sal die lig wat in my brand verhelder, sodat ek alle vuilheid kan bring na my Verlosser, Jesus Christus.

Waarskuwing

Baie mense gaan elke Sondag kerk toe en lees selfs hul Bybel. Hulle gebruik, soos wat die Dortse Leerreëls vir ons sê, die middele wat God vir die gelowige gegee het om gehoorsaamheid in ons te bewerk en om ons vertroosting en gewetensrus te gee, maar hulle luister nie daarna nie. Hulle neem die beloftes gemoedelik aan en gebruik dit om hulle gerus te stel dat God hulle genadig sal wees. Die verskil tussen hierdie mense en ware gelowiges is die feit dat hulle eerstens geen begeerte het om aan God gehoorsaam te wees nie en tweedens dat hulle geen berou het indien hulle God teleurstel nie. In plaas van ’n strewe na heiligheid, voel hulle hulself “goed genoeg.” Vir so ’n persoon geld die waarskuwing van die verwerping van God, die waarskuwing dat as jy sonde in jou lewe ligtelik bejeën, jy verseker kan wees dat jy nie aan God behoort nie en dat die hel jou voorland sal wees. Niemand wat aanhou sonde doen en in sy/haar sonde volhard is ’n kind van die Here nie.

Slot

God se genade is genoeg vir Sy kinders. Hy sal jou vashou en jou bystaan. Hy ken jou swakheid en sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie. Indien sonde in jou lewe jou hartseer maak, jy telkens terug kyk op jou dag en teleurgesteld is oor hoe jy al weer die Here gefaal het, moet dit jou geloof versterk met die wete dat jy alleenlik so voel, omdat die Heilige Gees in jou lewe aan die werk is. Geen ongelowige is teleurgesteld omdat hulle nie aan God se standaard voldoen nie. Jy voel so omdat jy aan God gehoorsaam wil wees. Dit is ’n teken dat jy God se kind is. Daar is ‘n skare gelowiges langs die baan wat jou sal aanmoedig en help om die wedloop te voltooi. Dit moet jou dring om nog meer te bid, te werk, te leer en te stry, nie omdat jy dit uit jouself kan doen nie, maar omdat jy kan weet dat met God by jou, jy die wenpaal kan en sal behaal.