My Vader se plan is goed!

14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van 3 God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk.

15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.

Inleiding

Hoe baie mense wat bely dat hulle gelowiges is, is vreesbevange om God se volle raadsplan te verkondig soos wat Paulus bely het dat hy gedoen het. Handelinge20:27  Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Ons is baie keer soos kinders wat skaam raak vir ons aardse pa’s as hulle sekere klere aantrek of gewoontes het wat ons nie dink goed by ons vriende sal afgaan nie. Is jy skaam vir God se Raadsplan? Skaam oor hoe God in Sy wysheid en almag alles bestuur en beplan het? Weet jy beter as Hy? Het jy meer kennis en wysheid as Hy? Romeine 11:33-34  o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? As jy skaam is oor die leer van die uitverkiesing gaan jy groot gedeeltes in die Skrif moet uitlos om dit te vermy. Dit is soos iemand wat op ’n pad met baie gate in ry en hoop dat sy skielike uitswaai en spoedvermindering ens. geen ander persoon in die voertuig se aandag sal trek nie. Dit is dan ook waarom so min predikante en pastore, die gemeentes waar hulle bedien, vers vir vers deur die Bybel wil neem.

God is soewerein

Vanaf die eerste bladsye in die Bybel word ons geleer dat God alles gedoen het en niemand vir advies gevra het nie. Adam en Eva word geskape omdat God so besluit het. Deur die Ou Testament ontdek ons God se handel met die mense. Ons sien dat Hy individue kies om met hulle ’n verbond te maak en ander om saam met hulle te wandel soos met Henog. Tog moet ons dit met mekaar eens wees, dat die hoeveelheid kere wat God Homself aan mense openbaar, baie min is. Gestel daar was ’n miljoen mense in Abraham se tyd en tog het God net vir Abraham gekies. Miskien moet ons net weer herhaal dat hierdie verkiesing nie was omdat Abraham beter as ander mense was nie. Nee, Moses wat die eerste vyf boeke van die Bybel geskrywe het moes ontdek dat hierdie God wat hy aanbid sê: “… Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Eksodus 33:19. God is barmhartig oor ’n hardnekkige volk, soos Hy hulle noem, terwyl Hy ander volke uitwis om vir hulle plek te maak. Nêrens maak God dit aan hulle duidelik dat hulle ’n wonderlike volk is en dat dit Sy rede was dat Hy hulle gekies het nie. Deuteronomium 9:4-5  As die HERE jou God hulle voor jou uit verjaag, moet dan nie in jou hart spreek en sê: Die HERE het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE hulle voor jou uit. Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die HERE vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het. Eerstens is dit duidelik dat hierdie volk wat hulle uitwis ’n slegte en bose volk is en dat God dus nie nasies uitwis wat doen wat reg is nie. Verder is dit duidelik dat God se keuse vasgestel is, lank voor hulle geboorte in ’n belofte aan hulle vaders. Weereens is dit belangrik dat dit nie die vaders was wat na God gekom het en Hom gevra het om hierdie belofte aan hulle en hulle nageslag te maak nie, maar God wat in Homself dit voorgeneem het.

God kies tot geloof

Die profete waarsku die volk aangaande hulle sondes en volharding daarin. Tog slaan die volk nie ag daarop nie. Hy straf hulle en stuur volke om hulle aan te val en in ballingskap weg te voer en tog ten spyte hiervan gee Hy aan hulle beloftes van Sy guns aan hulle. Hy belowe dat hulle sal terugkom na die beloofde land, omdat, al is hulle ontrou, bly Hy getrou. Romeine 9:29  En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie ‘n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het. Al het God die beloftes aan ‘n Volk gemaak was dit tog nooit die hele volk wat Hy uitverkies het nie. Daar was altyd maar net ’n gedeelte; ‘n oorblyfsel. Altyd ’n klein groepie binne die groot volk wat eintlik Syne was. Aan Elia wat wonder of hy die enigste een is wat oorgebly het sê die Here “…Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.” Romeine 11:4. Hoe kan jy God se uitverkiesing mis deur die hele Skrif? As jy by die briewe van die apostels kom is jy geskok oor hoe vinnig hulle hierdie realiteit aantoon. In die openings groete word God al geprys vir  die gelowiges in die gemeentes wat Hy gekies het voor die grondlegging van die wêreld. 1Petrus 1:2  uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprinkeling met die bloed van Jesus Christus. Kyk gerus na die ander briewe ook. Die konsep van die verkiesing word telkens genoem sonder om weer in diepe te verduidelik aangesien die skrywers bewus is van die wye en diep stroom van getuienis dwarsdeur die Skrif.

God laat oor in ongeloof

Hierdie gedeelte is sekerlik vir baie gelowiges problematies. Die feit dat God die res van die wêreld oorlaat in die toestand waarin hulle hulleself bevind. God het hulle nie gedwing om sonde te doen of daarin te volhard nie. Nee, elke mens doen sonde uit vrye wil en omdat hy/sy die sonde geniet. Die vlees begeer dit wat is stryd is met God. Eerstens is dit duidelik dat nie almal die voorreg het om die Woord te hoor nie. Kyk na al die volke rondom Abraham en Isak en Jakob en Israel en tog het die meerderheid van hulle baie min tot selfs geen kennis van God se openbaring aan die mens ondervind nie. Die enigste kennis wat alle mense het, is dat daar ’n Grote God is en dit kan waargeneem word uit sy algemene openbaring, sy skepping. Romeine 1:19-20  omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie. Des nie teen staande sal die algemene openbaring niemand kan red nie. Dit maak God duidelik in sy Woord. Handelinge 4:10-12  laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. Hoe baie mense deur die geskiedenis het nooit hierdie boodskap gehoor nie. Hoeveel is onbewus van Christus se kruisdood die ewigheid in? Sal hulle daarop kan aanspraak maak dat hulle onregverdig behandel is? Glad nie, hulle het elkeen ontvang dit wat hulle verdien het, beslis regverdig. Verder is dit ook duidelik dat in die feit dat God die sondaar straf, Hy ook verheerlik sal word. Romeine 9:22-23  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid. Dit dui op God se geregtigheid en regverdigheid. Elke aspek van God se Raadsplan wys sy karaktertrekke aan ons. In God se verlossingsplan en ewige oordeel word God in alles verheerlik.

Oproep tot stilswye of sendingwerk

Waar sommige gelowiges hierdie deel van die raadsplan wil wegsteek is dit duidelik vir enige een dat indien God sommige kies, ander nie gekies word nie. Hierdie moet ons dring tot ongelooflike dankbaarheid! Hoekom juis ek en jy? Hoekom het juis jy die voorreg gehad om die evangelie te hoor en om op die roepstem van God te kan Ja antwoord? Genade op genade!! Sommige gelowiges gebruik ook die uitverkiesingsleer as ‘n verskoning om nie ander te evangeliseer nie, want, “hoe weet ons of iemand uitverkies is en of ons nie net ons asem mors nie.” Dit is sekerlik waar dat indien God bestem het dat hulle Sy woord moet hoor en Hom moet aanneem dat dit SAL plaasvind. Hierdie is egter nie die redenasie van ‘n kind van die Here nie. Romeine 10:9-10  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. God gee aan ons die opdrag om Sy Woord uit te dra. Hy belowe dat Hy die werk sal doen, maar dit is Sy opdrag aan jou en my. Indien jy hierin ongehoorsaam is, het jy geen dankbaarheid teenoor die feit dat iemand die evangelie aan jou moes bring, sodat jy gered kon word nie. Ons is nie Jode nie, maar uit die Heiden nasies waarvoor God spesiaal sendelinge gestuur het. Jy is die produk van baie sendelinge se harde werk en gehoorsaamheid, in opdrag van ‘n Lewende God, wat jou deur hulle geroep het. Doen nou ook dieselfde vir ander.

Slot

GOD is wonderlik. Elke karakter eienskap van Homself  wat Hy aan ons openbaar, doen Hy met ‘n rede. Ons moet nooit dink dat enige van God se karaktertrekke nie vir ons wonderlik is nie. Ons moet nooit die idee hê dat ons sekere dinge in die Woord van mense moet wegsteek nie. Nee, God moet in Sy volheid en soos Hy Hom aan ons openbaar het, verkondig word. Die gelowige verstaan terdeë dat, as dit nie God is wat die dooie vanuit sy sonde red nie,  Hy in elk geval nooit vanuit sy eie na God sal kom nie. Indien jy sekere dele van die Woord weglaat of omseil is jy besig met ‘n ander God en om mense te mislei. Daar is verseker dinge wat ons nie verstaan nie, ons is immers nie God nie. Dit is soos dit is. Sien die wonder daarin dat, indien jy ‘n ware geloof in God het, jy uitverkies is. Niemand kan dit van jou af wegneem nie. Jy is God se kind. Dalk is daar iemand in jou vriendekring, werk of familie wat deur God geroep word en wat wag dat jy hulle na die lewende God toe sal lei. Wees gehoorsaam en verkondig aan hulle hierdie wonder van verlossing wat vir elkeen wat uitverkies is bewerkstellig is deur die kruisdood van Jesus Christus – soos bepaal voor die grondlegging van die aarde.