12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts.
13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel.
Inleiding
Wanneer word iemand uitverkies? Ons weet vanuit die Skrif dat ons uitverkies is voor die grondlegging van die aarde. Nog voordat jy enigsins van jou uitverkiesing bewus is, ken God al jou naam. Terwyl ons nog sondaars was, het Christus alreeds vir ons sondes betaal. Voor jou geboorte is jy in jou ma se baarmoeder salig onbewus van die werklike wêreld daarbuite. Alles vind plaas met wedergeboorte. Alles vind plaas op God se tyd, soos deur Hom bepaal. Ons kan nie in die diep geheimenisse van God insien sonder dat Hy dit aan ons openbaar maak nie. Prediker 3:11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind. Hierdie wederbaring is, soos alreeds genoem in vorige blog inskrywings, die werking van die Heilige Gees. Daarom sê Jesus in vir Nikodemus” …Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Johannes 3:3. Die woord in die Grieks vir “weer” is “van bo”. God maak ons lewendig op die tyd deur Hom bepaal. Die tyd van nuwe lewe breek aan die oomblik dat jy die eerste asem teug neem.
Verkiesing
Hoe lyk ‘n uitverkorene? Kan ons hom/haar uitken op grond van gedrag of voorkoms, ouers of herkoms, beroep of talent? Watter eienskappe sal iemand, wat deur die God van die heelal as Sy kind verkies is, hê? Dalk ‘n bogemiddelde intellek of dan ‘n uitsonderlike nuuskierigheid oor bo natuurlike dinge, geestelike dinge, spirituele dinge. Dalk is dit mense wat in voeling is met hul dieper gevoelens en emosies – abstrakte-selfstandige-naamwoord-mense. Nee, net God weet en ken en sal dit bekend maak op Sy tyd, aan die uitverkorene, sowel as aan ander wat die persoon ken. Net so min as wat ons weet wie deur God uitverkies is, net so min het die uitverkorene enige benul van sy/haar status as uitverkorene voordat God hom/haar nie wederbaar nie. Met wedergeboorte open God jou oë vir wie Hy is en gee jou die geestelike vermoë om op Sy roepstem “Ja” te antwoord. Jy is op daardie stadium, as ’n baba in die geloof, van min dinge ten volle seker of weet werklik watter werking plaasgevind het sodat jy lewe kan hê. Tog is jy van hierdie een ding seker; iets het plaasgevind – iets wonderliks!
Versekering
Hoe kan ek seker wees ek is uitverkies? Is dit ‘n gevoel? Hierop is die antwoord onomwonde “Nee.” Indien jy jou sekerheid in jou gevoelens gaan plaas, gaan jy dikwels twyfel. Party dae voel ons goed en sterk, maar ander dae voel ons soms siek of moeg en ja, dit kan verband hou met fisiese gesondheid. Die gelowige word egter verseker van sy/haar uitverkiesing met die godsvrug wat plaasvind in hulle lewens.
Ons weet dat ons nie op grond van werke gered word nie, maar op grond van God se barmhartigheid en genade. Die Heiligmaking wat egter na wedergeboorte volg is die versekering wat ons ontvang dat die Heilige Gees werklik die Een is wat ons lewendig gemaak het en verder besig is om ons te verander. Mense wat bely dat hulle gelowige is en nie vrugte dra nie is op ’n dwaal. Hulle is ook gewoonlik die individue in die kerk wat gereeld onsekerheid het oor hulle redding. Daar moet ook vrug wees, aangesien die Skrif ons verseker dat Hy wat ons wederbaar dieselfde persoon is wat ons ook in staat stel om vrug te dra. Filippense 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Die gelowige werk sy eie heil uit deur sy lewe in oënskou te neem in vrees en bewing. Dit beteken dat hy nie hoogmoedig word en selfversekerd word in sy eie goeie werke of gehoorsaamheid aan die Woord nie, maar sien wat God besig is om in sy/haar lewe te doen. Johannes 15:10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. God se werking in my lewe, nl. om vrug te produseer, is dus die versekering wat die gelowige kan hê dat hy/sy uitverkies is. Een van die mooiste voorbeelde hiervan vind ons in die verhaal wat Jesus aan sy volgelinge vertel aangaande die ware wynstok in Johannes 15. Hier leer Hy ons dat die enigste manier wat ons kan vrug dra is as ons in Hom geplant is. Johannes 15:4-5 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Ons kan niks doen sonder Hom nie. Dit is die sappe wat uit Hom vloei en deur ons geestelike are vloei wat vrugte in ons lewens teweegbring. Elke vrug in my lewe is ten volle afhanklik van Sy werk in my.
Verheerliking
Dit is so wonderlik om in Openbaring saam met Johannes in die Hemel geneem te word en die beeld van die ouderlinge te sien wat voor die troon van God is. Elkeen van hulle het ’n kroon op hulle kop. Die kroon is die Griekse woord “stephanos” wat oorwinningskroon beteken. Hulle belonings is op hulle koppe en dan doen hulle iets wonderliks. Elke keer as daar heerlikheid en eer en danksegging gebring word aan Hom wat op die troon sit “val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon…” Openbaring 4:10. Hulle weet dat alles wat hulle ontvang het te danke is aan die Een wat op die troon sit. Ek kan dus nie roem in my werke nie, maar wel daarin dat ek uitverkies is op grond van Sy werke en ek kan die sekerheid hê dat dit waar is op grond van die vrug in my lewe.
Vrug
Niemand sal gered word sonder vrug nie. Hiervan is die gelykenis van die saaier duidelik. Die eerste groep in die gelykenis het die woorde gehoor maar niks het in hulle lewens gebeur nie. Die volgende drie groepe is anders. By elkeen van hulle is daar ’n ontkieming wat plaasvind. Die eerste van hierdie groepe is die een op die rotsagtige plek en Jesus sê dat hierdie groep die woord met blydskap aanneem. Kan jy glo daar is blydskap? Ons weet dat hulle wegval a.g.v. vervolging en verdrukking. Hulle is bang wat mense van hulle sal sê en dink. Hulle is bang dat hulle kan ly vir Christus en daarom is daar nie vrug in hulle lewens nie. Net die laaste van hierdie groepe dra vrug. Net die laaste groep is diegene wat gered is. Die vrug wat hulle dra is in oorvloed. Mattheus 13:23 En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd, die ander sestig—, die ander dertigvoudig. 10000%, 6000% en 3000%. Die opbrengs roep uit dat dit God se werk is.
Is jy in die geloof? Sien jy die krag van God in jou lewe? 2Korintiers 13:4-5 Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God. Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie! Die gelowige se lewe is ’n teken dat God aan die werk is. Hy/sy het nou die begeerte om God se Woord ten volle te gehoorsaam al bely hulle dat hulle dit nie altyd doen nie. Romeine 7:22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens. Daar is in ons geestelike lewe ’n groei na heiligheid. Ons word elke dag meer en meer vernuwe in ons geestelike wandel. Efesiërs 4:23-24 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Gelowiges is nie mense wat in sonde volhard en daarin aanhou voortleef nie. Johannes skrywe is 1 Johannes dat iemand wat sondig nie in God is nie. 1 Johannes 3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hier sê die Skrif nie dat iemand wat ’n gelowige is nie sonde doen nie, nee, alreeds in Hoofstuk 1 het Johannes dit duidelik gemaak dat iemand wie sê dat hy nie sonde doen nie ’n leuenaar is. 1Johannes 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. Hier in hoofstuk drie, soos in die res van hierdie brief, word dit duidelik gemaak dat iemand wat volhard in sonde nie ’n gelowige is nie. As daar dus geen berou en ’n wegdraai van jou sonde op ’n daaglikse basis is nie, kan jy nooit bely dat jy ’n uitverkorene is nie. Nee, Hy wat in jou werk maak dat sonde in jou lewe ’n wrang smaak los. Jy wil dit nie meer doen nie!
Slot
Ten laaste is die uitverkorene iemand wat die Here meer en meer lief het elke dag van sy/haar lewe. Ons groei in liefde vir Hom. Ja, Hy het ons eerste liefgehad, maar hoe meer ons sy liefde, almag, genade, barmhartigheid en vergifnis, en nog so baie meer, leer ken en ervaar in ons lewens, hoe meer word ons bewus van ons liefde vir Hom. Dit is ’n liefde wat groei vir God wat ons uitverkies het en al die werk vir ons redding gedoen het. 2Korintiers 5:14 Want die liefde van Christus dring ons.
Hierdie liefde oorheers my hele lewe, elke besluit, aksie, droom, ambisie en toekomsverwagting. My Hoop is Christus – die Een aan wie ek my hele lewe te danke het.
