10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het.
11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.
Inleiding
Hierdie twee hoofstukke verwoord sekerlik die kern van Calvinisme – diegene wat glo dat God slegs vir Sy uitverkorenes gesterf het en versoening vir hulle bewerk het. Arminianisme, hierteenoor, glo dat God vir die hele mensdom gesterf het en dat die mens die soeker na God is. Alhoewel eersgenoemde denkwyse aan Calvyn gekoppel word, is dit die leer van Paulus in Romeine. Voordat jy hierdie inskrywing verder lees, wil ek jou aanmoedig om Romeine 8 en 9 eers goed deur te lees.
Verlossingsleer
As ons Romeine lees sien ons dat dit ’n deeglike uitlegging het van die Verlossingsleer. In die brief word die Drie-eenheid se betrokkenheid in die Verlossingsplan uitgelig. In Hoofstuk agt vertel Paulus aan die gemeente dat hulle nou lewe in ooreenstemming met die werking van die Heilige Gees. Romeine 8:2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Hy vertel hulle ook van die Gees se werking in hulle lewens en dat Hy in hulle swakheid vir hulle intree met versugtinge. Rom 8:26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. Aan hulle word bevestig dat die Vader sy seun gestuur het en oorgegee het vir ons en dat in Hom ons geregverdig word. Verder is dit ook die Seun wat vir die waarvoor Hy gesterf het intree. Romeine 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Hier is dit baie duidelik dat Christus nie vir almal gesterf het nie, want dit veronderstel dat Hy ook vir almal moet intree. Ons weet verseker dat alle mense nie gered word nie. Daar is mense wat in die hel gaan beland. As Jesus egter vir almal intree en die meerderheid mense gaan nie gered word nie, wat beteken Sy intree dan enigsins? Wat beteken Sy sterwe as Hy vir almal versoening gedoen het, maar die meerderheid word nie met God versoen nie? Dan was die verlossingsplan ’n mislukking. Nee! Hierdie gedeelte is ’n versekering wat aan die gelowige gegee word van God se werking tot verlossing in diegene wat Hy uitverkies het. Hoe anders sal ons kan amen sê op die laaste verse van hoofstuk 8 wat aan ons bevestig dat niks ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus nie. Rom 8:38-39 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Die oomblik as jy hoofstuk 8 verstaan, verstaan jy die argument in hoofstuk 9; ‘n argument wat die Dortse Leerreëls wil bevestig. God is die Een wat kies en roep en red! Hy sal nie sy keuse herroep of verander nie. Hy sal nie Sy uitverkorenes verwerp nie!
Wie is uitverkore?
As God die Een is wat sy uitverkorenes vashou, hoe is dit moontlik dat so baie Jode, wat as sy uitverkore volk bekend staan, verlore gegaan het en die boodskap van Christus nie aanvaar het, en steeds nie aanvaar nie?
In Romeine 9 vertel Paulus aan die gemeente en aan ons, dat alle Jode nie deel van die uitverkore volk van God was nie. Daar was altyd maar net ’n klein gedeelte van die Israeliete wat werklik deel was van Sy uitverkore volk. Hy verduidelik dit eers aan die hand van die seuns van Abraham. Die een volgens die belofte was Isak, en die ander een, Ismael, was volgens die vlees. Net Isak was deur God gereken as Abraham se nageslag. Romeine 9:8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Verder word daar gekyk na die twee seuns van Rebekka, Jakob en Isak. Voor hulle geboorte het God al vir Rebekka ingelig dat die oudste die jongste sal dien. Jy mag vra waarom? Die antwoord word onomwonde gestel dat dit nie uit die werke is nie, maar a.g.v. die Een wat roep. Dit is dus nie omdat Jakob “beter” was as Esau nie, maar omdat God dit so besluit het, nog voordat hulle gebore is, nog voordat hulle enige iets gedoen het.
Baie mense hou nie van hierdie antwoord nie en wil dit graag her-skryf, her-interpreteer, her-“enige iets” net solank dit die mens meer beheer gee. Die antwoord bly egter duidelik. Hoe enige iemand hierdie argument kan misverstaan gaan my verstand te bowe. As daar dalk nog ’n twyfel is oor wat Paulus hier wil benadruk sê hy verder “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” Romeine 9:13. Baie wys daarna dit hierdie gedeelte, wat aangehaal word uit Maleagi, met die volke wat uit Jakob en Esau sou opstaan te make het, eerder as met die twee individue. Voordat ons na die gedeelte in Maleagi gaan kyk, kan daarop gewys word dat hierdie argument geen water hou nie. Die eerste teen argument is dat die Woord dit duidelik maak dat God se roeping voor hulle geboorte was. Die tweede is dat dit geen verskil maak aan die uiteindelike boodskap van Rom 9:13 nie. Die boodskap bly dieselfde, nl. dat God sekere mense haat en sommige mense lief het en dat dit nie te make het met die werke nie, maar die Een wat roep. InMaleagi is daar geen manier om verby dit te kom dat Hy eerstens oor die twee broers praat en daarna oor die volke wat uit hulle sou voortkom nie. Die gedeelte aangaande die twee broers is dan juis die gedeelte wat Paulus aanhaal in Romeine.
Regverdig en barmhartig
Verstaan ons dus reg dat God sekeres haat en ander lief het? Dit kan tog sekerlik nie wees nie en êrens verstaan ons sekerlik iets verkeerd!? Paulus voorsien egter ons reaksie en maak dit duidelik dat ons presies reg verstaan. God het Jakob liefgehad en Esau gehaat, nog voordat hulle gebore is. Hy weet die reaksie gaan wees: ”Is God dan nie onregverdig nie?” Is dit die vraag wat jy sou wou vra? Die antwoord is: Nee, daar is geen onreg by God nie! As ons vir mekaar sê dat nie Jakob of Esau God se guns verdien het nie, moet ons sê dat Esau dus regverdig behandel is en aan Jakob barmhartigheid bewys is. Hy was dus genadig teenoor die een broer en regverdig teenoor die ander een. Sê ons nie tereg dat almal die hel verdien nie? Paulus het in hoofstuk 3 van Romeine reeds verduidelik dat daar geen persoon regverdig is nie. Romeine 3:10-11 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hierdie lering is een van die grootste struikelblokke vir die mens deur alle eeue. Veral in die 21ste eeu het ons die gedagte ontwikkel dat ons God se guns verdien. Elke gelowige moet bely dat hy/sy gered is op grond van God se barmhartigheid en genade en dat daar geen roem in hom/haarself is nie. Ons redding is nie as gevolg van ons werke is nie, maar as gevolg van Sy roeping op ons lewens.
Uitverkies = Gered
Verder weet ons as gelowiges dat God getrou is en dat elke persoon wat Hy uitverkies het en wie se naam in die boek van die lewe geskrywe is tot geloof sal kom. Paulus en Barnabas is na hulle tweede preek in Antiochië met sterk nydigheid teëgegaan deur baie van die Jode en tog kon hulle aanhou preek omdat hulle verseker geweet het dat daar individue sou wees wat wel sou luister. Handelinge 13:48 En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. Kyk weer na die gedeelte wat vetgedruk is. Elke een wat daartoe verordineer is, het gelowig geword – elkeen wat daartoe bestem is. Bestem of verordineer deur wie? God het hulle daartoe bestem. Die getal gelowiges is bepaal en elke een sal inkom omdat die grootte Herder hulle sal inlei. Vir die gelowige is hierdie ’n blye boodskap, nie net ten opsigte van my sekerheid wat in Sy uitverkiesende genade is nie, maar ook ten opsigte van die versekering dat ek Sy boodskap aan die wêreld kan gaan verkondig, wetende dat daar diegene sal wees wat sal luister aangesien hulle daartoe verordineer is. As jy ’n uitverkorene is, sal jy ook iemand wees wat opgewonde hierdie boodskap sal gaan verkondig, in jou werksplek, vriendekring, skool, familie, omgewing en na die res van die wêreld.
Slot
God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing (of jy dit nou volkome verstaan of nie) nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie. Indien jy enigsins die wil het om God te dien kan jy weet dat daardie wil slegs van God af kan kom. Hy roep jou en sal jou die krag gee om meer en meer aan Sy beeld, Jesus Christus, gelyk te word.
Die Vader het jou gekies, die Seun het jou gekoop met Sy bloed en die Gees roep jou en vernuwe jou tot Kindskap.
