Almal word op dieselfde manier gered.

8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, en nie ómdat ons alreeds so was nie.

Inleiding

Ons hou van keuses. Ons maak keuses elke dag op grond van verskillende kriteria en moontlike uitkomste. Soms is ons keuses reg en soms verkeerd kragtens voorspoed, vriendskap, beroep ens.  God het ons as gelowiges uitverkies om tot geloof in Hom te kom, om deur Hom geregverdig en geheilig te word. Wat sou God se kriteria vir Sy keuse wees? Sekerlik moet hy weet wie  “tot die goeie geneig” sal wees as hulle net die regte leiding en hupstootjies kry en wie nie? Daar is mos maar altyd diegene waaraan daar geen salf te smeer is nie en sekerlik moet God dit weet. Dit is sekerlik die wat dan nie gekies word nie. Dit is hoe ons met ons menslike beperking probeer om God te verstaan. Niks kan egter vêrder van die waarheid wees nie.

Net een bron van redding

Daar was nog altyd en van ewigheid net een plan vir Verlossing. Hierdie plan het vereis dat Jesus Christus moes sterwe vir die Nuwe sowel as Ou-Testamentiese mens. God het nêrens besluit om een plan van redding vir die Ou-Testamentiese mens en ’n ander plan vir die Nuwe-Testamentiese mense te hê nie. Jy kan maklik vra hoe dit moontlik is aangesien die mense van die Ou Testament gered is voor Christus aan die kruis gesterf het. In die Ou Testament was daar oral skaduwees van die werklikheid wat sou kom. Van die eerste daad van sonde deur Adam en Eva, wys God hulle daarop daar Een sal kom … Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. Genesis 3:15. Aan Noag gee Hy die opdrag om ’n ark van hout te maak. Hierdie ark word die plek van bewaring van agt siele in getal. Die wonderlike van hierdie verhaal is dat God hulle laat ingaan en dat Hy die ark sluit, iets wat geen mens kon doen nie. Genesis 7:16  En die wat ingaan, het gegaan as mannetjie en wyfie van alle vlees soos God hom beveel het. En die HERE het agter hom toegesluit. Die redding van die straf van God, sou alleen bewerk kon word deur God. Hy sou dit bewerk deur Christus – ons ark, die houtkruis by Golgotha.

Nog ‘n heenwysing na Christus is die ram wat voorsien word in Isak se plek, nadat Abraham die opdrag van God gekry het om hom te gaan offer. Op daardie stadium het Abraham twee seuns gehad. Die eerste was Ismael by die Egiptiese slavin. Ismael is gebore omdat Abraham en Sara nie God vertrou het aangaande sy belofte aan hulle, nl.  dat hulle nasate soos die sterre van die hemel sou wees nie. Die tweede seun was die seun van die belofte, Isak. Die seun van sy vrou Sara in ooreenstemming met God se belofte. Dit sou vir Abraham seker makliker gewees het om vir  Ismael te offer, maar God maak dit duidelik dat Isak geoffer moes word. Genesis 22:2  Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. Jou enigste wat jy lief het, is die opdrag. God tree in op die berg Moria, met ’n ram wat Hy voorsien. Abraham noem die plek Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word. Genesis 22:14. Hierdie selfde plek word die plek waar Jerusalem en die tempel later gebou sou word. En net buite hierdie dorp op ’n koppie sou Jesus die lam van die belofte, die een sonder sonde, sterwe.

Miskien sou jy vir my kon sê dat jy dit alles verstaan en sien, maar hoe sou hulle gered word terwyl dit nog nie plaasgevind het nie? Die Ou-Testamentiese persoon moes vashou aan die belofte en glo dat die belofte sou plaasvind. Dit sou nooit sy offers wees wat hom/haar sou kon skoonwas nie. As dit so was, sou daar net een offer vir elke persoon gebring kon word en dit sou genoeg wees. Tog sien ons dat die hoëpriester elke jaar ’n offer moes bring vir die volk en dat daar daagliks offers gebring is namens individue vir hulle sondes. Daarom sê Hebreërs tereg: Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling. Hebreërs 9:9-10. Christus sou die vervulling wees, deurdat ..Hy met sy eie bloed ingegaan het en ’n ewige verlossing teweeggebring het. Hebreërs 9:12. Elke persoon wat in die Ou Testament uit geloof tot God genader het en ’n offer vir sy/haar sonde gebring het, is ten volle vrygespreek en verlos deur Christus  se sterwe aan die kruis.

God se keuse – wanneer, waarom en hoekom juis ek?

God het gekies. Wanneer en waarom? Elke persoon wat deur Christus gered is, is gered omdat God van ewigheid af dit so bepaal het. Die Ou- en Nuwe-Testamentiese persoon is deur God van ewigheid af uitverkies tot hierdie redding. Ons is verder uitverkies en geheilig, sodat ons sonder gebrek voor Hom kan wees. Efesiërs 1:4  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees. En dit alles na die welbehae van Sy wil. Efesiërs 1:5  deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.

Dit is belangrik om dit te benadruk dat hierdie uitverkiesing nie was omdat God in die gange van die toekoms afgekyk het en gesien het dat jy geloof sou hê om vir Hom te kies of omdat jy iemand besonders was wat Hy sou wou kies nie. Nee, God maak dit duidelik dat daar nooit iets besonders in enige persoon of volk was wat Hy gekies het nie. Luister hoe beskryf God vir Israel voordat Hy met hom bemoeienis gemaak het. Esegiël 16:5-6  Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is. En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef! Was Israel iets besonders of was hulle daarna iets om oor huis toe te skryf. Ons kan ook na Dawid kyk. Wat as God in die gange van die tyd afgekyk het, soos sommige beweer. Sou God Dawid, die man van moord en owerspel, gesien het en hom nog steeds kies? Ja, Dawid sou in Psalm 51 God se aangesig om vergifnis smeek vir sy sonde, maar nooit sou sy redding ooit van hom afhang nie. Ja, God ken die toekoms – Hy is in beheer daarvan. Hy kies jou omdat Hy wil. Dit is die rede. Dit is onbegryplik en onveranderlik – ‘n vaste fondament.

Slot

Die Dortse leerreëls maak dit duidelik dat hierdie uitverkiesing die fontein is waaruit al die ander seëninge na die uitverkorenes vloei. Die Een wat ons uitverkies het, is ook die Een waardeur ons geheilig word en deur die Gees heilig gemaak word. Ja, ons is heilig voor God by wedergeboorte op grond van Christus se geregtigheid, maar ons word ook verder heilig gemaak deur die werking van die Heilige Gees. Ek word dit wat ek alreeds is. Selfs die godsvrug in my lewe word moontlik gemaak deur God. Efesiërs 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Hy het die goeie werke alreeds voorberei sodat ek daarin kan wandel in gehoorsaamheid.

God verander nie van opinie nie. Hy het jou en my geken voor die grondlegging van die aarde en omdat Hy wou het Hy ons gekies om Sy kinders te wees.

Loof die Here!