6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Efesiërs 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.
7. Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik.
Inleiding
Die uitverkiesingsleer is vir baie ongelowiges ‘n bewys dat God onregverdig is. Iemand wat regverdig is deel aan almal ewe veel uit, of dan ten minste volgens hul verdienste. Sommige gelowiges verstaan ook die uitverkiesing as iets waaroor hulle God moet verdedig. Asof dit een of ander gebrek in Sy karakter is en hulle dit moet verbloem. Die uitverkiesing is die hele Bybel vol – van die kies van Abraham tot by Openbaring, waar vertel word dat jou naam (indien jy ‘n gelowige is) in die Boek van die Lewe opgeskryf is voor die grondlegging van die wêreld. God is regverdig en volgens sy regverdige oordeel behoort elke mens, soos wat ons in die vorige hoofstukke gesien het, uitgewis en in die hel gegooi te word. God is egter ook genadig en uit Sy genade besluit Hy om sommige te red. Die vraag moet dus by elke gelowige, wat uit Sy groot genade tot geloof gekom het, wees: “Hoekom ek?”
Aan God alle eer
Die hele leër van die Skrif maak die gelowige nederig. Oor en oor leer ons dat God alles doen wat Hom behaag en dat daar niks in ons is waarop ons kan roem nie. Dit is nie omdat jy God gekies het nie (alhoewel jy verseker daardie keuse moes maak), maar omdat God jou eerste gekies het, toe jy nog ‘n sondaar was, en jou in staat gestel het om Hom te kies. Paulus begin sy brief aan ’n gemeente wat vol was van hulleself en hul wonderlike vermoëns, om hulle te laat let op hulle roeping. Wie is hierdie groepie Korintiërs wat God uitverkies het. 1Korintiers 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Ek kan net dink dat hierdie vermaning nie goed moes afgegaan het by die gemeente in Korintiërs nie. Om stil te raak en vrae te vra soos: “Wie is ek nou eintlik dat God in my ’n behae moes gehad het. Wat maak my so besonders? Wat kan ek bydrae tot God se Koninkryk noudat ek gekies is?” Elke gelowige wat sy lewe in oënskou neem en introspeksie doen, kan nie anders as om te besef dat daar geen roem in hom/haar kan wees nie.2Korintiërs 10:17 Maar wie roem, moet in die Here roem. In die Ou Testament was God die Roem van Israel genoem. Hy was die een wat hulle moes eer en verheerlik, want in hulleself was daar nie ’n rede vir roem nie.
Almal is geroep, maar min is uitverkies
Enige prediker wat voor ‘n groep mense staan en preek weet dat sommige hoor, sommige luister en sommige gee gehoor. Die boodskap is dieselfde, maar vir sommige is dit by die een oor in en by die ander een uit. Die prediker het hieroor geen beheer nie – jy kan so goed voorbereid, relevant en charismaties wees soos wat jy wil. God is die een wat ore en oë oopmaak. Daar kan geen verandering in ’n mens wees as God dit nie inisieer het nie. Daarom kan Paulus ook vêrder aan die Korintiër gemeente skryf en hulle inlig dat dit nie gaan oor die prediker nie, maar wel oor die Een wat die groei teweegbring. 1Korintiers 3:5-6 Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. Die enigste rede vir hierdie verandering is omdat God besluit het om hierdie verandering in sekere individue teweeg te bring terwyl Hy besluit het om ander verby te gaan. God moet dooies lewendig maak en harte wat kliphard is verander. Die eerste fisiese hartoorplanting is deur dr. Chris Barnard gedoen, maar God doen al van die vroegste tye af geestelike hartoorplantings. Esegiël 36:26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. Net so min as wat ’n individu op homself ’n hartoorplanting kan doen, kan ’n persoon op hom/haarself ’n geestelike hartoorplanting doen.
Esegiël 36 is die gedeelte waarna Jesus verwys as Hy met Nikodemus gesels oor ‘n nuwe geboorte. Omdat Nikodemus as ’n leermeester bekend moes wees met hierdie gedeelte vra Jesus die volgende: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? Johannes 3:10. In vers 25 is die aanhaling na die water en in vers 27 die verwysing na die Gees se werk. Esegiël 36:25 Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. Ese 36:27 En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. Lees gerus weer Johannes 3. Daarom is dit duidelik dat alle mense ewe verlore is en dat God op grond van Sy barmhartigheid sekeres vernuwe en ander los in die toestand waarin hulle hul bevind. Romeine 9:15-16 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. Die belangrike om op te let is dat die rede vir verlossing nie gevind kan word in die persoon nie. As God sou besluit om albei groepe in hulle toestand te los, sou Hy ten volle regverdig wees in Sy besluit. Dit is dus nie reg as mense God sou aankla van onregverdigheid, omdat Hy een uitkies en een verbygaan nie. Die laaste ding wat die gelowige verlang is regverdigheid, nee ons verlang genade. Genade roep uit: “Dit was sonder verdienste!”
‘n Nuwe volk
Van die begin af het God ’n geroepe mensdom gehad wat na Hom sou kom uit elke taal en stam en nasie. Hierdie groep mense se name is opgeskryf in die Boek van die Lewe. As daar vir Daniel aangetoon word wat in die Laaste tye sal plaasvind, word hy vertel dat die mense wat in daardie tyd gered sal word die sal wees wie se name in die Boek beskrywe is. Daniel 12:1 En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. Jesus verwys na hierdie tyd en sê vir sy volgelinge dat dit verkort sal word a.g.v. die uitverkorenes. Mat_24:22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. Watter wonderlike versekering is dit nie vir die gelowige nie. Hieroor sal ons ook meer gesels as ons kom by die volharding van die gelowiges.
God trek
Dit is dus baie duidelik dat God die een is wat die gelowiges trek. Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Kon Jesus dit meer duidelik stel? Jy kan nie kom op jou eie nie! Daar is niks in jouself wat sou wou kom nie. Geen vlees soek God nie. Romeine 3:11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Dit is dus God wat die mens trek. Hierdie woord in die Grieks is ’n woord wat op ander plekke gebruik word as sleep. Handelinge 16:19 En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep.
Wat word dan van die mens se vrye wil? Word ek dan teen my wil deur God forseer om te doen dit wat Hy wil hê? Hierdie is vir my ‘n vreemde gevolgtrekking en konsep indien dit deur gelowiges gevra word. As ouer weet ek wat goed is vir my kind. Ek weet dat hy/sy dit nie uit sy eie sal sien of miskien op die oomblik verstaan nie, maar omdat dit my kind is, sal ek hom/haar dwing om dit te doen wat ek weet vir hom/haar sal goed wees. Maak dit van my ‘n slegte of goeie ouer? Waarom is dit dan vir gelowiges ‘n probleem? Ek is van mening dat enige iemand wat hiermee ‘n probleem het nie ‘n gelowige is nie, want die oomblik as jy vernuwe word en jy besef wie jy is en wie God is, word jy vervul met verwondering, nederigheid en dankbaarheid dat God jou “gesleep” het om Hom te aanbid.
Die feit van die saak is dat jou wil vry is om te kies. Indien jy vir God kies is dit omdat jy wil (Iets wat jy egter nie sonder God se ingrype in jou lewe sou wou doen nie.) Indien jy God nie wil kies nie is dit ook jou keuse.
Slot
Watter dankbaarheid behoort daar nie in die gelowige te wees nie!? Sy Naam moet verheerlik word in alles wat ons sê en doen, want Hy is dit werd. Ek is gered op grond van Sy genade alleen en ek kon niks daartoe bydrae nie. Hy is die een wat die goeie werk in my begin en voleindig. God is nie onregverdig nie, maar regverdig en genadig. Indien jy vandag na Hom wil kom is Sy arms oop – niemand sal ooit weggewys word nie. Die feit dat jy wil kom is Sy genadegawe aan jou, die feit dat jy kan kom is Jesus se offergawe vir jou. Indien jy hoor en luister en gehoor gee, het God jou uitverkies om deel te word van Sy uitverkore volk.
Wat ‘n ongelooflike voorreg en roeping!
