4– God se toorn bly op ongelowiges; Hy verlos gelowiges. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Johannes 3:36; Markus 16:16 ).
5– Die oorsaak of skuld vir ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God” (Efesiërs 2:8). En so ook: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Filippense 1:29).
Inleiding
Daar is soveel valse boodskappe wat in die wêreld verkondig word rakende God se liefde en die toestand van die mens voor wedergeboorte. Dit is asof God sy seun gestuur het na ’n wêreld vol mense wat so wonderlik is dat Hy bevoorreg was om vir hulle te sterf. Ons hoor die mantras van die valse profete: “Julle is wonderlik, God het julle lief net soos julle is. Jy is spesiaal en uniek en daarom het God ’n spesiale plek vir jou in sy hart.” Die eerste boodskap wat uitgaan na ’n verlore wêreld het meer te make met hoe lief God hulle het en hoe wonderlik hulle is, as met ’n Heilige God en Sy toorn en ewige straf wat voorlê vir ‘n sondige wêreld. Baie mense kom na die Skrif en gebruik beloftes wat vir die gelowiges bedoel word as beloftes wat geld vir elke individu. Tog is daar geen manier om verby God se toorn en haat vir die sonde en ja, vir die sondaar, te kom nie. Ons eerste vraag moet altyd wees wat leer die Woord ons.
Oorsprong en gevolge van sonde
Adam en Eva is die oorsprong van erfsonde en hul ongehoorsaamheid bevlek elke mens wat gebore word. Die gevolg van hul sonde was inderdaad, soos wat God hulle gewaarsku het, die dood. Daar was die fisiese dood wat elke mens se voorland sou wees en ‘n veel erger straf, nl. ‘n geestelike dood en verwydering van God. Adam en Eva verloor hulle intieme wandeling met God, hulle verloor die tuin en sy beskerming en hulle word blootgestel aan ’n wêreld wat vervloek is deur God. Hierdie vervloekte wêreld bring pyn en ellende voort en laat dorings en dissels uit die aarde voortspruit. Tydens Noag se leeftyd stuur God ‘n vloed en word die wêreld uitgewis, behalwe vir Noag en sy gesin. Hier kom ‘n belangrike botsing met die gewilde leer van “God-het-die-hele-wêreld onvoorwaardelik-lief” Waar is God se liefde wanneer hy mense, groot en klein, oud en jonk, laat verdrink? Is dit nie so dat Hy die sonde haat en die sondaar lief het nie? As dit waar is hoekom vernietig hy die mense? Hierdie is natuurlik nie die enigste voorbeeld waar die Skrif met die valse liefde-bo-alles boodskap bots nie. God tref volke met die banvloek op ’n gereëlde basis regdeur die Skrif. Hiervan is die Kanaäniete ’n voorbeeld.Numeri 2:3 En die HERE het gehoor na die stem van Israel en die Kanaäniete oorgegee. En hy het hulle en hul stede met die banvloek getref en die plek Horma genoem. Saam met die Kanaäniete moes hulle ook al die ander volke in die beloofde land uitwis. Deuteronomium 20:17 Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het. God openbaar verder dat Hy die een is wat dit so bestuur het dat hierdie volke teen Israel sou veg sodat daar geen genade vir hulle sal wees nie. Josua 11:20 Want die HERE het dit so bestier dat hulle hul hardnekkig voorgeneem het om Israel te bestry, sodat dié hulle met die banvloek sou tref, dat daar vir hulle geen genade sou wees nie; maar dat dié hulle sou verdelg, soos die HERE Moses beveel het. Waarom is hulle verwoes? Hierop maak die Skrif dit duidelik dat die land hulle uitgespoeg het a.g.v. hulle sonde. Levitikus 18:28 Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was. Voordat ons dus die gevolgtrekking maak dat hul straf onregverdig was, omdat God hulle “hardnekkig” gemaak het, gee die Skrif ons duidelik die rede vir God se optrede. Hulle het volhard in sonde. Was God die outeur van hul sonde? Nee.
God se genade
Nou kom die ander kant van die muntstuk. As die een volk gestraf word vir hul sonde, dan word Israel seker vergoed vir hul regverdigheid. Ons vra dus: “Ontvang Israel die land omdat hulle meer regverdig as die ander nasies was?” Hierop is die antwoord van die Skrif onomwonde: “Weet dan dat die HERE jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk.” Deuteronomium 9:6. Ons sal meer aandag hieraan gee by die leer oor die uitverkiesing. Hier is dit egter belangrik om te sien dat die sondige mense uitgewis word en dat aan diegene wat God uitverkies het volgens Sy raadsplan, Hy genade bewys – nie omdat hulle “wonderlik” is nie, maar op grond van Sy groot genade.
Is daar ’n verskil tussen die Ou en Nuwe-Testamentiese God?
Baie glo dat hierdie voorbeelde die God van die Ou Testament beskryf, maar dat ons vandag onder die Nuwe Testament leef. Mense wat dit sê wys duidelik dat hulle dink dat God verander het of dat daar ’n verskil is in die karakter van God die Vader en van God die Seun. Dit is egter baie duidelik dat God nie verander nie en dat die God van die Ou Testament nogsteeds die God is van die Nuwe Testament. Dit word bevestig in die Ou en Nuwe Testament. Numeri 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? Jakobus 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Daarom sien ons in Openbaring dat Jesus, die Menseseun op die witwolk, die aarde laat afmaai, sodat “die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver.” Openbaring 14:20. Hebreërs se tereg: Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Hebreërs 13:8
Liefde en haat
Verder is die Skrif duidelik dat God die sondaar haat. Psalm 5:5-6 Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. Hiermee saam is die Skrif ook duidelik dat God se toorn oor elke sondaar is en bly solank hy/sy in die sonde volhard. Johannes 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. Romeine 1:18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk. Dit is verder ook duidelik dat selfs gelowiges, voor hulle wedergeboorte onder God se toorn gestaan het. Efesiërs 2:1-3 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
Iemand kan maklik vra wat ons dan met ’n teksvers (Ja, dit is die enigste) soos Johannes 3:16 maak wat sê dat God die wêreld liefhet. Dit is tragies hoe baie keer hierdie teksvers uit konteks aangehaal word en gebruik word asof dit alle tekste wat die teendeel sê weerspreek. Dit is duidelik dat geen teks ’n ander weerspreek nie en daarom het ons nodig om elke teks te beoordeel in konteks van die res van die Skrif en ook in konteks van die perikoop waarin dit voorkom. In Johannes 3 is Jesus besig met ’n gesprek met ’n Joodse leier met die naam van Nikodemus. Jesus leer Hom deur Ou Testamentiese aanhalings, wat hy moes geken het, dat iemand alleen die koninkryk kan sien as hy/sy van bo gebore word deur die werking van die Heilige Gees. Hiermee saam ontken Hy ook die idee wat Jode gehad het, nl. dat God net hulle as volk lief het, deur aan Nikodemus te verduidelik dat God die wêreld liefhet. Dit is beter om dus hier te verstaan dat nie van elke individu gepraat word nie, maar wel van elke volk en taal en stam en nasie – soos dit ook bevestig word in Openbaring. Johannes gebruik die woord “wêreld” op nege verskillende maniere en dus is dit belangrik om by elke gedeelte die konteks in ag te neem.
Onvoorwaardelike liefde vir Sy kinders
Sy liefde is spesifiek vir elke gelowige, wat Hy uit genade gered het, omdat Hy hulle voor die grondlegging van die wêreld uitverkies het. Hierdie liefde wat Hy op ons uitgestort het, is nie a.g.v. iets wat ons gedoen het of nog sal doen nie, maar op grond van ’n keuse in Homself om ons lief te hê. Hieroor sal ons meer breedvoerig in die volgende blog skryf. Ek wil elke gelowige laat met hierdie teksgedeelte wat voorkom in die mees intieme gesprek. ‘n Gesprek tussen God die Seun en God die Vader, waarin ons toegelaat word om te deel a.g.v. God se Woord, Sy liefdesbrief aan ons. Dit is net vir jou as gelowige. Johannes 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Dit behoort jou te laat snak na jou asem. Hoe is dit moontlik?
Genade onbeskryflik groot!
