Net God kan dooies lewendig maak!

Hoofstuk: 1 Paragraaf: 1

Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God en: Die loon van die sonde is die dood.

Hoofstuk: 1 Paragraaf: 2.

Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Hoofstuk: 1 Paragraaf: 3.

Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?

Verdorwe

Hoofstuk 1 van die Dortse Leerreëls handel oor die mens se totale verdorwenheid. Hierdie boodskap is in stryd met die mens van vandag se denke rakende hom/haarself. Die oomblik wanneer jy hierdie boodskap van verdorwenheid verkondig sal jy gou agterkom hoe opstandig mense sonder Christus raak. In Johannes 6, nadat mense vêr gereis het op soek na Jesus, nadat hy die brood vermeerder het, gee Jesus hulle ’n boodskap wat hulle tot in hulle wese ruk. Hy vertel aan hierdie mense, mense wat volgens die teks in Jesus “glo”, dat hulle nie werklik glo nie, omdat hulle Hom nie gehoorsaam nie. Hy lig hulle in: En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. Johannes 6:39. Aan die einde van die gesprek herhaal Hy weer dat net die wat die Vader trek, na Hom toe kan kom. Johannes 6:65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Na hierdie woorde verlaat hulle Hom. Baie van ons sal dalk vra, wat het Jesus dan gesê wat hulle so ontstel het? Jesus se woorde was vir hulle ‘n steun des aanstoots, omdat dit hulle daarop gewys het dat hulle totaal afhanklik is van God. Hulle hou nie van die idee dat hulle sonder God totaal verlore is en nie instaat is om hul eie redding te bewerk nie. Die mens se grootste stryd is om te erken hoe absoluut hulpeloos hy/sy is sonder God se ingrype. Wie wil hoor dat daar niks goeds in jou is nie, dat jou beste dade voor God onrein is? Jesaja 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Elke mens staan skuldig voor God in sy/haar sonde. Romeine 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. In hierdie sonde is ons ontvang en gebore. As ons in hierdie toestand bly sal ons sterwe in ons sonde en vir ewig verlore wees, verwyder van God.

Verlos

Die oomblik wanneer ons hierdie toestand waarin ons ons bevind erken, word die evangelie, die Blye Boodskap. Die evangelie is die boodskap dat God sy eniggebore seun na ’n wêreld gestuur het, sodat hulle in en deur Hom gered kan word. 1Johannes 4:9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Geen mens wat nie sy/haar totale verdorwenheid verstaan sal vreugde hê as hulle hierdie boodskap hoor nie. Die Heilige Gees moet die individu eers oortuig van hulle toestand deur hulle geestelik lewendig te maak, voordat hulle hierdie boodskap met albei  hande sal aangryp. Johannes 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Hierdie vers is in die konteks van die gesprek wat Jesus met Nikodemus het waarin Hy aan hom verduidelik dat iemand deur die Gees gebore moet word om gered te word. Die Heilige Gees maak ons geestelike oë oop deurdat ons ons eie sonde raaksien en terselfdertyd die heiligheid van God ontdek. Dit wek in ons ‘n soeke na die antwoord op ons sondigheid en onvermoë om by God uit te kom.

Verkondig

Ons kan uit bogenoemde sien hoe die Drie-eenheid in ooreenstemming is en saamwerk in die redding van die mens. Tog maak God die gelowige deel van hierdie reddingswerk deurdat Hy aan elke gelowige die opdrag gee om hierdie blye boodskap te gaan verkondig aan ’n wêreld wat verlore gaan. God kon Engele gebruik het om die boodskap uit te dra. Hy kon, soos in Bileam se verhaal, selfs ’n donkie gebruik het en tog gebruik Hy mense wat in Hom wederbaar is. Elke gelowige is ’n prediker wat, in absolute dwaasheid in die wêreld se oë, mense oproep tot bekering. 1Korintiers 1:21  Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. Hierdie opdrag is nie ‘n keuse nie. Jou redding gaan saam met jou getuienis. Lukas 12:8  En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.

 Verder weet ons ook dat die Here ons die krag sal gee en die woorde in ons monde sal lê, sodat ons kan sê en antwoord as mense ons vra oor die hoop wat in ons is. Hiervan is die lewe van Moses ’n voorbeeld. As hy kla by God dat hy nie kan praat nie is God se antwoord soos volg:

Exo 4:11-12  En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê. Ons verkondig hierdie boodskap aan geestelike dooie mense, net soos wat Esegiël moes doen aan die doodsbeendere in Esegiël 37. Ons verstaan dat as die Gees nie beweeg en die lewe in mense blaas nie, hulle nooit geestelik lewendig sal word nie. Esegiël 37:9-10  Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan—’n ontsaglike groot leër! 

Verantwoordelik

Watter voorreg en watter verantwoordelikheid! Ek ontvang hierdie opdrag om Sy boodskap te verkondig. Romeine 10:14  Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? Jy kan nie bely dat jy ’n gelowige is as jy nie met jou mond die Here bely nie. Jy moet uitgaan by die werk, die huis en die skool en mense oproep om hulle sonde te laat staan en Jesus Christus se verlossing te aanvaar. Elke persoon wat hierdie boodskap ontvang is bevoorreg en sal verantwoording moet doen met wat hy/sy daarmee gedoen het. Nie net is wedergeboorte ’n daad van God nie, maar ook die voorreg om hierdie boodskap te hoor. Jesus vertel sy volgelinge dat daar plekke was in die Ou Testament wat hulle sou bekeer het as hulle gehoor en gesien het wat die mense van Sy tyd gesien het. Hierdie plekke het nie die voorreg gehad om die boodskap te ontvang nie, omdat God dit so bepaal het in Sy almag en soewereiniteit. Lukas 12:47-48  En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis. 

Slot

Die Dortse leerreëls wil begin deur ‘n oorsig te gee van die gelowige se reis: Verdorwe, verlos, verkondig, verantwoordelik. Daar is natuurlik baie subtitels wat in elke hoofstuk gevind sal word en ons het net aan enkeles geraak. Die Blye Boodskap is egter dit: al was ons verlore, deur God se genade is ons in Jesus Christus verlos, al was ons lewe op aarde doelloos, is ons deur God se genade nie net gered nie, maar gee Hy ook aan ons lewe ‘n hemelse, ewige doel, nl. om ander te vertel van hierdie wonderlike verlossing. As ons dalk dink dat hierdie opdrag vir ons te groot is, gee Hy die Gees om ons toe te rus en gee Hy deur die Woord vir ons die versekering en gemoedsrus dat Hy die Een is wat redding bring en dat ons net ons verantwoordelikheid moet nakom.

God maak jou deel van Sy reddingsplan. God wil jou gebruik. Gaan vertel vandag hierdie wonderlike, Blye Boodskap, aan ‘n wêreld wat verlore gaan.