Artikel 37 DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle skepsels onbekend – en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word. Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit kon bedink nie. Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

Inleiding

Die wederkoms is ’n realiteit. Baie gelowiges lewe, net soos die wêreld, asof hier en nou al is wat werklik ’n realiteit is en wat saak maak. Hulle begeer, net soos die wêreld, vir hulle familie en gesin ’n lewe van oorvloed en genot, meer as ’n lewe wat goddelik is. Hulle meet, net soos die wêreld,  alle sukses kragtens materiële voorspoed en aardse maatstawwe. En, daarom, net soos die wêreld, is hulle ellendig en in sak en as as hul lewe nie gaan soos wat hulle begeer nie. Paulus sê tereg “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” 1Korintiers 15:19.

Die Ewige lewe – Christus ons hoop

As die hier en nou, jou aardse welvaart, vir jou die belangrikste is, sal die Ewige Lewe iets wees waaroor jy min praat en sal die geestelike dinge geen invloed op jou besluite hê nie.

Jesus se gelykenisse maak dit duidelik dat hierdie lewe geleef moet word kragtens dit wat werklik belangrik is, naamlik die ewige lewe. Jy het die man wat ’n skat vind en met blydskap alles verkoop sodat hy dit kan besit. Of die verhaal van ’n koopman met baie pêrels wat alles verkoop vir een kosbare pêrel. Wat het hierdie persone in die gelykenis gevind wat soveel waarde gehad het dat hulle bereid was om alles te verkoop om dit te bekom? Die kosbare pêrel en die skat is Christus!

Paulus skryf aan die gemeente in Filippi en vertel hulle dat as daar iemand was wat kon roem daarop wat hy in sy fisiese lewe sukses bereik het, dan is dit hy. Filippense 3:5  Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.  Hoe mooi sou so ’n Curriculum Vitae onder die Jode nie gewees het nie? En tog, wat sê Paulus hiervan? Filippense 3:7-8 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry. Al die dinge wat vir mense so belangrik is, gaan op ’n dag tot ’n einde kom. Daarom is Jesus se gelykenisse vol van verhale wat vir ons wil illustreer wat werklik van belang behoort te wees vir mense van die nuwe Koninkryk.

Ewige Lewe – bly in Hom

Ons word in die gelykenis van die saaier geleer dat dit nie gaan oor die opgewonde aanvaarding van die Evangelie of die eerste geestelike groei nie, maar wel oor die godsvrug wat elke gelowige moet dra. Hierdie vrug is bepalend van waar jy die ewigheid sal deurbring. Iemand kan maklik hierteen beswaar maak en vra of ons nie net deur Christus se genade gered sal word nie? Jesus klaar dit baie maklik op in die verhaal van die wingerd in Johannes 15. Hier word ons geleer dat lote wat nie vrug dra nie in die vuur gegooi word, maar die wat wel vrug dra, vrug dra net om een rede: Johannes 15:4-5  Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. So kan ons ook verwys na Mattheus 25 waar Jesus vertel dat Hy as koning op Sy troon sal sit en soos ’n herder die skape van die bokke sal skei. In die verhaal word dit duidelik dat hulle geskei word op grond van hulle gehoorsaamheid aan sy opdragte. Daardie dag sal daar ’n groot geween en gekerm wees van mense wat hulleself bevind aan die verkeerde kant van hierdie skeiding. Dit word ook herhaaldelik deur Christus bevestig dat die straf ’n plek van enorme pyniging sal wees. Hierteen oor sal elke gelowige, vir dit wat hy/sy in die krag van Heilige Gees verrig het, beloon word. Daniel 12:3  En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos. 

Die Ewigheid – onvermydelike en onvoorspelbaar.

Wanneer sal hierdie dag plaasvind? Jesus maak dit aan sy dissipels duidelik dat niemand die dag en uur sal weet nie. Mattheus 24:36  Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. Die kenmerk van hierdie dag sal wees dat die wêreld soos gewoonlik sal besig wees met die alledaagse dinge. Mattheus 24:38  Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het. Alles is deur God bepaal voor die grondlegging van die wêreld. Hy weet wie aan Hom behoort. 2Timotheus 2:19  Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid. Die Woord sal uitgaan en verkondig word totdat elkeen van die uitverkorenes ingekom het. Selfs die wat sal sterf a.g.v. hulle getuienis vir Christus se getal is aan God bekend en deur Hom bepaal. As die siele wat onder die altaar is by God pleit om die bewoners van die aarde te straf, word aan hulle die volgende gesê “…dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees. Alles sal afspeel soos God dit bepaal het. Hy is ten volle in beheer.

Die Ewigheid – sonder sonde in heerlikheid saam met God

Daar word ‘n nuwe Hemel en nuwe aarde geskep word waar ons as gelowiges, God se bruid, vir ewig saam met Hom sal wandel. ’n Plek sonder enige hartseer of pyn. ‘n Plek sonder enige sonde. Openbaring 21:4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. Watter dag sal dit nie wees nie?! Hierna sien die gelowige uit en hierop is die gelowige se gedagtes gerig. Kolossense 3:1-2  As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 

Slot

Glo jy nog in die Ewige Lewe? Glo jy nog dat daar ‘n dag sal aanbreek waarin alles nuut en bekend gemaak sal word? Bou jy aan ‘n tydelike verganklike koninkryk of is jou skat in die hemel. Die Woord sê dat daar waar jou hart is, daar sal jou skat wees. Hier op aarde word skatte deur mot en roes en rowers verniel. Hier op aarde is daar droefheid en dood en lyding en sonde. Hier op aarde word ons gehaat en vervolg en onregverdig behandel. Ons werk, leef en bou ‘n loopbaan en dit is ons realiteit, maar dit is nie ons eind fokus nie. Hierdie lewe is daar vir een doel en dit is om in gehoorsaamheid aan God so te leef dat Sy naam verheerlik word en ander deur ons getuienis God kan verheerlik. Pas op dat jy nie so besig is om die leer na sukses te klim dat jy met die oordeelsdag agterkom dat jou leer teen die verkeerde muur, die een van ewige verderf, gestaan het nie.  Kan jy saam bely dat jy hierdie groot dag, die dag van Jesus se wederkoms,  verwag met ’n sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet?

Lewer kommentaar