Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel. Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim. 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.
Inleiding
Ons stem elke verkiesing vir die regeerders wat ons wil hê oor ons moet regeer. Ons doen dit omdat ons glo dat hulle ons regte sal beskerm en die land se sake tot ons, en alle inwoners, se voordeel sal bestuur. Dit is egter nie ons wat hulle aanstel of afdank nie – dit is God. Alle regerings kry hulle gesag van God. Ja, selfs die wreedste regerings deur die geskiedenis het hulle gesag van God ontvang. Ons het soms die gedagte dat omdat dit God is wat hulle aanstel, al hul besluite goddelik sal wees, maar ons weet uit ondervinding dat dit nie die geval is nie. Deur die eeue, net soos vandag, sien ons manne en vroue wat hul godgegewe gesag misbruik en korrup word, dronk van mag. Het God dan nou beheer verloor? Kan dit wees dat ’n kommunistiese regering van Lenin waarin meer as 100 miljoen mense vermoor is hulle gesag van God ontvang het. Of wat van Hitler of Mao wat ook miljoene mense vermoor het gedurende hulle regerings? Is God selfs in beheer van hierdie regerings?
God laat toe en God weerhou
Kan ons saam met Spreuke stem dat “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”? Spreuke 21:1. Hoe tragies dat baie gelowiges, deur die geskiedenis, en nog steeds, nie glo dat die God wat ons aanbid soewerein is nie.Spreuke 8:15-16 Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde. Dit moet vreesaanjaend wees om te glo dat God beheer verloor het. Hoe skrikwekkend dat die God van baie Christene so “klein” is dat Hy maar net Sy beste probeer, maar dat die mens se vrye wil baie keer sy planne in die wiele ry.
Jesus se eie dood is sekerlik die beste voorbeeld dat God selfs in beheer is, wanneer mense goddeloos optree. Jesus se eie dood is beplan deur wrede en ongevoelige mense. Dit was die enigste moord in mens se heugenis waarin ’n totaal regverdige mens skuldig verklaar en vermoor is. Elke menslike owerheid in die gebied was betrokke in hierdie sameswering en vermoording van ’n onskuldige man. En tog weet ons wat die Skrif ons leer aangaande Christus se vermoording. Handelinge 4:27-28 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. Alles in die Hemel en op aarde word bestuur deur die Lewende God se raadsplan. Niks is buite sy beheer nie. Hy laat mense en regerings toe om hul eie wil te volg om sy raadsplan te vervul en Hy weerhou mense en regerings daarvan om hul eie wil uit te voer, om Sy raadsplan te vervul.
’n Voorbeeld hiervan sien ons in die verhaal van Abraham en Sara wat as vreemdelinge gaan woon het in Gerar. Die koning van Gerar was Abimeleg. Voor Abraham en Sara daar gearriveer het, het Abraham vir Sara gesê dat sy haarself moet voordoen as sy suster. Dit is natuurlik die tweede keer dat dit gebeur het. Die eerste keer was dit in Genesis 12 met die Egiptiese koning vir wie Abraham gelieg het rakende Sara. Hier, net soos die eerste keer hou God hulle en die mense van die area terug sodat hulle nie aan Sara geraak het nie. Luister na God se antwoord aan Abimeleg: “Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.” Genesis 20:6. Is dit die God wat jou God is. Die een wat absolute beheer uitoefen oor alles. Kolossense 1:15-17 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
Wees onderdanig
Waarom het ons regerings nodig? Die regering is daargestel sodat hulle kan toesien dat die mens in orde en veiligheid kan leef en floreer. Selfs al is die regering nie goddelik nie, is daar sekere morele wette in elkeen wat maak dat mense op grond daarvan kan toesien dat ander in relatiewe vrede met mekaar kan saamleef. Ons behoort dankbaar te wees dat God regeerders daarstel om toe te sien dat mense nie net kan doen wat hulle wil nie. Die meerderheid regerings en wette, deur die geskiedenis, het mense se luste en drifte intoom gehou. 1Petrus 2:13-14 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Selfs in lande waarin Christene erg vervolg is, is misdadigers nog steeds intoom gehou. So kan ons dink aan die Pax Romana waarin daar ’n tyd van meer as 150 jaar vrede was. Die soldate het die paaie beskerm en mense kon besigheid doen en rondreis sonder ’n vrees om op pad vermoor te word. Die Christene self het baie voordeel getrek deur al hierdie roetes wat beveilig was, sodat hulle die evangelie kon versprei deur groot areas wat onder Romeinse beheer was. Die ironie is dat selfs ongeredde, en partykeer tot vyandig gesinde regerings, tot voordeel van die kerk was. Hiervan is Paulus se lewe ’n voorbeeld. As hy uit die tempel gesleep word en die Jode hom wou doodmaak, dan is dit juis die Romeinse regering wat tot sy hulp kon kom en hom uit die kloue van hierdie mense kon verlos. Later in Handelinge kon hy hom selfs beroep op die keiser en onder die keiserlike beskerm ’n verhoor hê. Dus kan ons saamstem met Romeine 13:4want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede.
Wanneer is dit reg om nie die regering te gehoorsaam nie?
Tog is daar tye wanneer ons die regering van die dag nie moet gehoorsaam nie. Net soos die opdrag daar is dat ons die gesag wat oor ons aangestel is, moet gehoorsaam, is die opdrag van God ook daar dat ons Hom meer gehoorsaam moet wees as die gesag wat bo-oor ons aangestel is. As die regering van die dag dus iets van ons verwag wat in stryd is met waartoe God ons oproep, moet God se opdrag eerder gehoorsaam word. Hoe tragies dat baie Christene die regering gehoorsaam solank dit hulle pas. Hulle sal die regering verontagsaam as dit hulle nie pas nie, maar wanneer die regering iets van hulle verwag wat hulle weet in stryd is met God se opdrag, pleit hulle Romeine 13 as verskoning om die verkeerde ding te doen. ’n Goeie voorbeeld is mense wat heel gerieflik hul belasting ontduik, oor die spoedgrens ry, selfoon in die hand, ens. maar hulle is heeltemal gedwee om die beslissing van die regering te aanvaar om nie kerk toe te gaan gedurende die Covid pandemie nie. Deur die geskiedenis van die Kerk was gelowiges bereid om hulle voorregte en hulle lewens prys te gee om aan God meer gehoorsaam te wees as die mens of enige gesag. Tog was hulle altyd bereid om selfs belastings te betaal aan regerings wat hulle mede gelowiges vermoor het. In alles wou hulle gehoorsaam wees aan God se opdragte.
Slot
Die Christen word opgeroep om aan die regering van die dag gehoorsaam te wees en ook om vir hulle te bid. Ons weet dat die wêreld al hoe erger sal raak kragtens hul rebellie teen God en dat daar nooit in die wêreld ware vrede sal wees nie, maar ons bid vir genoeg vrede om ongesteurd die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Ons bid vir geloofsvryheid, sodat ons die reg mag hê om openlik die Here te dien om sodoende die meeste mense te bereik vir Sy koninkryk. Ons bid vir ons regeerders vir wysheid om ons mense en hulpbronne so te bestuur dat ander nie ly en verarm nie. Ons probeer help en is deel van ‘n gemeenskap wat ons dien om sodoende aan God die eer te gee. Ons is egter bywoners en tydelike reisigers op pad na ons ewige tuiste en daarom is God se gesag belangriker as enige aardse heerser of regeerder. Soms gebruik God die regering om my te beskerm van misdadigers en soms word ons deur die regering vervolg om ons daaraan te herinner dat ons werklike koninkryk nie hier is nie. Soms word ek deur ’n menslike wet stelsel beskerm, sodat ek kan dankbaar wees teenoor ‘n God van wet en orde en soms word ek onregverdig benadeel, sodat ek kan weet daar is slegs Een regverdig en dit is God.
Alles my ten goede…
