Artikel 35 DIE HEILIGE NAGMAAL

Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle ‘n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as ‘n teken van sy liggaam en wyn as ‘n teken van sy bloed ingestel. Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof – dit is die hand en mond van ons siel – die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser. Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie. Hierdie feesmaal is ‘n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink. Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee. Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging ‘n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor. 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as ontheiliging daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.

Inleiding

Net soos met die doop is die nagmaal ingestel deur Christus vir die Kerk. Ons wat aan Sy huisgesin behoort is lewendig gemaak deur ’n geestelike geboorte in Christus en net soos ‘n fisiese liggaam kos nodig het om te groei, het die nuwe geestelike “liggaam” ook voedsel nodig om te groei.  Hierdie voedsel is die brood van die lewe – Christus self. Hy onderhou en voed ons geestelike lewe wanneer ons Hom in geloof aanvaar as Koning van ons lewens en daagliks die Woord bestudeer en in gehoorsaamheid doen. Die nagmaal is ’n sigbare teken van hierdie voeding wat in gelowiges plaasvind, wanneer ons die brood eet as teken van Sy liggaam wat vir ons gebreek is en Sy bloed drink as teken van die finale offer wat Hy vir ons afgelê het. Die nagmaal is Heilig – ons eet en drink geestelik Jesus Christus se liggaam en bloed en word geestelik so deur Hom gevoed, vertroos en versterk.

Fisies teenoor geestelik

Die duiwel versoek vir Jesus in die woestyn as Hy na veertig dae en nagte van niks eet nie, honger is. Hy versoek Jesus om van die klippe brood te maak. Jesus se antwoord is “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Mattheus 4:4. Jesus haal hierdie woorde aan uit Deuteronomium 8:3. Die konteks van die vers is dat God die volk inlig dat Hy hulle deur die woestyn gelei het vir veertig jaar om hulle te verootmoedig en te beproef.  Hy wou hulle harte openbaar en kyk of hulle Sy gebooie sou onderhou. Jesus wys die Satan daarop dat Hy op geen ander manier kos wou hê as uit Sy Vader se hand nie. Om God te gehoorsaam is belangriker as enige fisiese behoefte. Die wêreld het net een begeerte en dit is na fisiese bevrediging. Soos Simson is die wêreld deur hulle begeertes verblind en maal hulle koring al in die rondte, vasgevang in hulle sondes. Net so het die Jode wat in die woestyn was nog steeds terug gehunker na hulle ou lewe. Eksodus 16:3  En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe. Waar was hulle begeerte? Die hele tyd het hulle gekla en gemurmureer oor alles. Nooit tevrede nie.

God het fisies vir hulle in die woestyn gesorg en daardie fisiese versorging wys heen na die volmaakte geestelike versorging wat sou kom deur Christus. Alles wat God in die woestyn vir hulle gegee het, was ’n heenwysing na Christus, die enigste een wat die mens kan voed wat uit slawerny bevry is. Hy was die manna wat uit die hemel neergedaal het. Johannes 6:49-51  Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. Hy was die klip wat geslaan is sodat water uit Hom hulle dors kon les. 1Korintiers 10:4  en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. 

Net so is Jesus vir ons geslaan aan die kruis sodat, in Hom, ons die lewende water kon drink wat ons dors sou les. As Moses die tweede keer die rots slaan, terwyl God aan hom die opdrag gegee het om slegs met die rots te praat, word Moses gestraf en kon hy nie in die beloofde land ingaan nie. Christus sou net een maal ly en daardeur vir ons die lewe gee.

Lewe en dit in oorvloed

Dus wys elkeen van hierdie metafore na dit wat geestelik in ons as gelowiges plaasvind. Die gelowige is lewendig gemaak in sy gees. Johannes 3:6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Dus is die gelowige se grootste begeerte na die geestelike voedsel waardeur ons kan opgroei. Ons word nie meer rondgesleep deur ons vleeslike begeertes nie. Ons kan nie, soos Israel, die fontein van lewe verlaat, om terug te gaan na die dinge wat nooit ons dors kan les nie. Jeremia 2:13  Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie. Dit is hoe die wêreld lyk en ongelukkig ook baie mense wat in die kerk sit. Mense besef nie hulle eie wanvoeding nie. Baie mense in kerke het geen verhouding met Christus nie en sodoende geen toegang tot die ware voedsel nie. Hulle lees dagstukkies en luister sedesprekies en dink dat hulle daarmee hul geestelike honger en dors kan stil. Hulle is soos die vrou by die put wat in haar fisiese lewe op verskeie maniere al probeer het om haar geestelike dors te les. Johannes 4:16-18  Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. Hy deel die vrou mee dat die water wat Hy haar sal gee water is wat opspring en die ewige lewe sal gee. In Hom alleen is lewe en oorvloed van lewe. Johannes 10:10  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Die gelowige wat geestelik lewend gemaak is se begeerte is nou na Hom. Hy alleen kan Lewe met ’n hoofletter L gee. Johannes 6:35  En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Waarna honger en dors jy? Het jou soeke in die wêreld om jou honger en dors te bevredig jou gelukkig of net nog meer honger en dors gemaak? Die wêreld is soos iemand wat soutwater drink net om uit te vind dat die dors net erger word.

Slot

Met die kruisiging van Jesus, sien die kind van die Here egter die mees grusame toneel as die wonderlikste ding wat ooit kon gebeur. Daardeur het daar vir ons geestelike lewe gekom. In die nagmaal erken ons dat Hy vir ons lewe kom gee het deur Sy sterwe aan die kruis. Ons erken dat daar slegs lewe in Hom is en dat net Hy ons waarlik kan voed. Ons smag na die Lewende Woord wat uit sy mond stroom en drink dááruit tot versadiging van die gees. Wat ongelooflik is, is dat terwyl ons die geestelike lewe voed, ons honger na vleeslike dinge al hoe minder en minder raak. Ons word met elke nagmaal geleentheid sigbaar herinner aan die Rots wat vir ons geslaan is en die Lewende Water wat ons uit Hom kan drink. Hy is deur die Vader gestuur, uit die Hemel neergedaal, die ware brood.Nou sien ons uit na die dag wanneer ons totaal verlos sal wees van hierdie ou vlees wat ons elke dag moet doodmaak. Romeine 8:23  En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Watter dag sal dit nie wees nie?