Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom. 10:4), deur sy bloed te stort ‘n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat ‘n mens tot versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot ‘n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt. 28:19). Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word, en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel deur die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament dit wat sigbaar is, maar ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke. Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle ‘n lam te offer, wat ‘n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol. 2:11).
Inleiding
Gelowiges kan aangaande die doop in twee groepe verdeel word. Die een groep wat glo in die doop van volwassenes alleenlik, teenoor diegene wat glo dat volwassenes wat gelowig word, sowel as hulle kinders, gedoop kan word. Hierdie laaste groep is die groep wat glo in die verbondsdoop. Dit is belangrik om vir mekaar te sê dat ongeag in watter groep jy jouself aangaande die doop bevind, jy aanvaar dat die doop die betekenis het wat die Bybel daaraan koppel; die betekenis soos uiteengesit in Artikel 34. Al verskil die twee groepe is hulle tog eens oor die betekenis van die doop en beskou elke groep die ander as ware gelowiges waarmee ons die pad saam kan loop. Ons verskil dus in liefde.
Ou-Testamentiese verbond – Nuwe-Testamentiese sakrament
As ons dink aan die doop en God se verbondswerk kan ons nie anders as om te gaan kyk hoe God deur die geskiedenis van die Woord met Sy volgelinge werk nie. Net so min as wat ons die nagmaal kan losmaak van die Pasga (wat daarin vervul is) kan ons nie die Ou Testament losmaak van die Nuwe Testament as ons praat van die doop nie. Die beelde van die Ou Testament gee net soveel meer helderheid en betekenis aan dit wat in die Nuwe Testament gebeur het en help ons die Nuwe Testament werklik verstaan. Met die sakrament van die doop is dit interessant dat die Nuwe Testament, in verwysing, Ou-Testamentiese beelde gebruik om dieper betekenis daaraan te gee. Hier volg ’n paar voorbeelde hiervan.
Kom ons begin by die oudste verhaal in die Ou Testament waarna in die Nuwe-Testamentiese doop verwys word. Die aanhaling vind ons in 1 Petrus 3:20-22. … wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus. God het die water gebruik om die sondige wêreld van Noag se tyd te verwoes, terwyl Noag en sy familie gered is sonder dat hulle aan die water geraak het. Die ark, wat ook simbolies verwys na Christus, was vir hom en sy huisgesin die verlossing. As jy die verhaal van Noag ken, weet jy dat God vir Noag geroep het voor die vloed en vir hom gesê het “Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag”. Genesis 7:1. God bevind Noag as regverdig en Hy red Hom en sy gesin. 1 Petrus bevestig aan ons dat dit ‘n heenwysing is na die doop.
Die volgende vergelyking van die doop met ‘n Ou-Testamentiese simbool vind ons in Kolossense met die vergelyking van die doop met die besnydenis. Kolossense 2:9 Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. Die besnydenis wat God van Sy volk gesoek het, was altyd ’n besnydenis van die hart en nie ‘n uitwendige een nie. Alreeds in Deuteronomium word die volk opgeroep om hulle harte te laat besny. Deuteronomium 10:16 Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie. Dit is natuurlik ook die gevaar van die doop, dat dit vir mense meer gaan oor die emosionele ervaring, die water wat vloei en waar die water vandaan kom, as oor die ware betekenis van die doop – die innerlike werking soos dit in God se Woord uitgelig word. Die doop vertel ons dat ons dan saam met Christus begrawe is en saam met Hom opgestaan het, maar dit vertel ons ook dat ons ons sondige vlees moet aflê in die besnydenis van Christus. Die doop het dus ’n sterk ooreenkoms met die besnydenis se betekenis. Die besnydenis is ook deur Abraham ontvang as teken van sy geloof in God, net soos wat die gelowige as teken van Sy geloof in Christus se verlossing, die teken van die doop ontvang.
Hier kom ons dan ook by die derde metafoor vanuit die Ou Testament wat in korrelasie met die doop gebruik word. 1Korintiers 10:1-2 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see. Elkeen van die volk, sowel as van die Egiptenare wat saam met die Jode getrek het, het in geloof agter Moses aangetrek. Hulle het deur hulle saamtrek bevestig dat hulle geglo het dat God verlossing vir hulle bewerkstellig het deur die leierskap van Moses. Weer is dit interessant dat hulle droogvoets oor is net soos Noag en sy familie in die ark nie deur die water aangeraak is nie. Die water red, net soos by Noag, die volk van die sondige wêreld en slawedrywers. Hulle is in Moses gedoop (Doop beteken om geïdentifiseer te word met) net soos ons in Christus gedoop word, daarin dat ons verklaar dat ons in Hom verlos word. Jesus roep ook sy volgelinge op om hulle kruis op te neem en Hom te volg. Die ou lewe van slawerny van die sonde word agtergelaat en ons sterwe vir die oue en leef nou vir Christus. Galasiërs 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Wat is die interessante van elkeen van die metafore wat ons gebruik het vanuit die Nuwe Testament rakende die doop? Noag is regverdig verklaar en hy en sy hele huis is in die ark verlos. Abraham die Vader van die geloof het as teken die besnydenis ontvang en net so het sy seun Isak die doop ontvang op agt dae ouderdom. Die volk is in Moses gedoop en tog was daar in die volk meer as 600 duisend mans sonder vroue en kinders. Kinders van alle ouderdomme sou saam met hulle ouers geloop het en baie sou selfs gedra moes gewees het.
Die doop en die gelowige gesin
Die vraag kan gevra word of ons in die Nuwe Testament ook kan sien dat God, net soos in die Ou-Testamentiese voorbeelde, met gesinne werk? Jesus maak die volgende verklaring nadat Saggeüs bely het dat hy die helfte van alles vir die armes sal gee en as hy iemand verkul het dit vier dubbel sal terugbetaal: Lukas 19:9 Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is. Hoekom noem Jesus hom ’n seun van Abraham as Saggeüs dan ’n Jood is? Die antwoord is dat Saggeüs deur sy belydenis verklaar het dat hy ook ’n seun van geloof is. Verder kan ons na die bekerings van Kornelius, Lydia en die tronkbewaarder verwys as voorbeeld van individue wat tot redding gekom het en hoe hulle hele families saam met hulle gedoop is. ’n Verdere vers wat vir my onomwonde verklaar dat God nogsteeds die God is van die Ou Testament is 1Korintiers 7:14. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Die eerste twee woorde vir “heilig” is werkwoorde wat ’n beskrywing is van God se werking in ’n gesin met een gelowige ouer. Die woord vir “heilig” as die kinders beskrywe word, is egter ’n byvoeglike naamwoord, wat die selfstandige naamwoord “kinders” beskrywe. Dus verklaar God dat hierdie kinders nie onrein is nie, maar heilig. Dit is dieselfde woord wat Paulus gebruik as hy die gemeentes aan wie hy skrywe aanpreek as “heiliges”. As hy dus praat van heiliges praat hy dus ook van hierdie kindertjies van gelowige ouers. Wat beteken heiligheid anders as om aan Christus te behoort en saam met hom begrawe te wees en saam met hom te lewe. Hierdie kinders in Goddelike huise sal self grootword en met hul monde bely dat hul lewens aan Christus behoort. As dit nie sigbaar is nie kan jy onmoontlik die verklaring doen dat so ’n persoon gered is. Mattheus 7:16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
Slot
God is ’n Verbonds God. Hy verklaar al in Maleagi dat een van die redes waarom Hy die huwelik tussen ‘n goddelike man en vrou ingestel het, is omdat Hy ’n Goddelike nageslag wil hê. Malachi 2:15 Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. As gelowige ouers glo ons dat ons kinders reeds voor die grondlegging van die aarde deur God geken en uitverkies is en met die doop bevestig ons God se belofte sigbaar aan elkeen wat daarvan getuienis wil neem – dat God met ons kinders bemoeienis sal maak en die goeie werk wat Hy in ons begin het, sal vrugbaar maak in die Heiligmaking van ons kinders. Ons is gebroke mense en ons maak foute, maar God se belofte is vas. Die doop is vir ons ’n vaste anker, dat God sy kinders se kinders, deel maak van sy Verlossingsplan!
