Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van ‘n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en die heilige nagmaal van Jesus Christus.
Inleiding
Mense hou van simbole. Ons dink in prentjies. Dit is dan hoekom grafiese kunstenaars en logo ontwerpers soveel kennis inwin oor presies hoe die mens dink en redeneer. Waaraan laat sekere dinge jou onmiddellik dink? Hierdie dinge word dan deel gemaak van ‘n advertensie veldtog of die logo van ‘n maatskappy om juis dit voor te stel wat die kern van die maatskappy se produk of motto is. Dit waarvoor dit staan en waarmee dit geassosieer wil word. Dit is voorwaar ‘n studieveld op sy eie. God het die mens gemaak en weet presies hoe ons dink. Hy weet dat ons die beste kan onthou wanneer al ons sintuie iets in herinnering kan roep. Daarom stel hy die sakramente in om ons te laat onthou wie Hy is en wat Hy in ons lewens kom doen het.
Die mens is swak
Die mens is vergeetagtig. Van die begin af gee God tekens aan die mens sodat hulle kan onthou. Na die vloed gee God vir Noag ’n teken in die lug, ’n reënboog, om hom en sy nageslag te herinner dat Hy nooit weer die wêreld sal uitwis met ’n vloed nie. Genesis 9:13 …my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Hoe baie keer wys God sy grootheid net om weer deur sy volgelinge betwyfel te word. As God vir Moses openbaar dat Hy vir die volk vleis sal voorsien in die woestyn, is Moses se eerste gedagte: “Waar gaan God al die vleis vandaan kry? Hoe gaan dit moontlik wees?” Numeri 11:21-22 Toe sê Moses: Ses honderd duisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ‘n hele maand lank eet! Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is? Het Moses nie al voor hierdie gebeurtenis, male sonder tal, God se almag aanskou nie? Net so die verhaal van die dissipels in die Nuwe Testament waar God die brood vermeerder en meer as 5000, net die getal van die mans, genoeg eet en twaalf mandjies kos oor los van net vyf brode en twee visse. Asof dit nie genoeg was nie gee Jesus weer vir 4000, net die getal van die mans, kos en sewe mandjies kos word volgemaak van net 7 brode. Sou dit genoeg wees dat die dissipels nooit weer sou twyfel dat Jesus sal voorsien nie? Net hierna lees ons dat Jesus vir die dissipels leer dat hulle moet oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en hulle eerste gedagte is dat Jesus dit sê omdat hulle “geen brode saamgeneem het nie.” Mattheus 16:7. As gevolg hiervan maak Jesus die volgende opmerking: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie? Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyf duisend, en hoeveel mandjies vol julle opgetel het nie? Of die sewe brode van die vier duisend, en hoeveel mandjies vol julle opgetel het nie? Mattheus 16:9-10.
Hoe baie keer in jou eie lewe het God nie al vir jou en jou gesin voorsien nie en tog met die eerste krises twyfel jy weer of is jy weer in sak en as. Daarom begin die belydenis om vir ons in te lig dat God aan ons die sakramente juis om hierdie rede gegee het. Dit is daar sodat ons geloof versterk kan word elke keer as die sakramente bedien word – as ons aan die brood kan vat en eet en die sap kan drink.
Die betekenis – nie die teken
Dit gaan nie oor die sap of die brood nie, maar dit wat dit voorstel en na wys. In ’n gevangenis het ’n paar gelowiges die nagmaal gevier en al wat hulle gehad het om dit te vier was ’n appel en water. Het dit enigsins iets van die nagmaal verander of die nagmaal se betekenis vernietig? Beslis nie! Net so min as wat bietjie of baie water, die Jordaanrivier of die Vaalrivier se water, die doop se betekenis kan wysig of verbeter. Dit gaan nie oor die teken nie, maar wel die betekenis. Die man langs Jesus word meegedeel: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Lukas 23:43. Was hy gedoop? Tog het hy alles waarna die doop wys ontvang. Romeine 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Paulus vertel aan ons dat die Israeliete in Moses gedoop was deur hulle deurtog deur die Rooisee. 1Korintiers 10:1-2 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see. Hoe is hulle gedoop aangesien geen water aan hulle geraak het nie? Doop beteken om te “identifiseer” of te “vereenselwig met.” Hulle het met hulle navolg van Moses hulself identifiseer met hom en is sodoende droogvoets deur die Rooisee. Verder vertel die verse wat daarop volg dat hulle geestelike spys geëet het en geestelike drank gedrink het, want hulle het uit die geestelike rots wat gevolg het gedrink. 1Korintiers 10:3-4 en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Hierdie rots was Christus! Watter geheel vorm die Bybel nie. Net so word ons in die doop met Christus geïdentifiseer en eet en drink ons van Hom van wie ons geestelike voedsel kom.
God se simbole is voldoende
Net soos die Jode elke jaar die Pasga, hulle verlossing van slawerny, en dit wat God vir hulle gedoen het, gevier het as herinnering, word die gelowige ook opgeroep om wat Christus vir ons gedoen het in herinnering te bring. Die doop en die nagmaal is ’n werk van God en moet nooit iets gemaak word wat ek doen wat daaraan ’n betekenis gee nie. Baie keer word die doop bedien meer as iets wat die persoon wat gedoop word gedoen het as dit wat Christus gedoen het om die doop moontlik te maak. Die sakramente gaan nie oor jou nie, maar oor Christus. Die sakramente verheerlik nie die mens nie, maar Christus. Die sakramente is nie daar sodat jy die besluit of stap wat jy geneem het kan herdenk nie, maar die plan van God voor die grondlegging van die wêreld. Sonder Christus is die sakramente sonder enige betekenis. Verder is dit belangrik om te sien hoe die sigbare tekens in die Ou Testament ’n dieper betekenis aan ons wil gee oor wat Christus vir ons kom doen het en wat die sakramente aan ons wil verkondig. 1Korintiers 5:7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Hier sien ons dat die paaslam, wie se bloed ook aan die deurkosyn van die Joodse familie gesmeer is, ’n heenwysing is na Christus en Sy sterwe wat nou uitgebeeld word deur die nagmaal. Hier word die gemeente ook opgeroep om mense wat in sonde volhard, ou suurdeeg, te verwyder. Die ou beelde kry dus nuwer en dieper betekenis met die lees van die Nuwe Testament.
Slot
Die belangrikste gebeure in die Christen se lewe is die feit dat Jesus Christus ons deur sy offer met God versoen het en wedergeboorte wat deur die Gees van God plaasvind in die wat uitverkies is. Hierdie gebeure moet gereeld deur Christene herroep en gevier word
