Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.
Inleiding
Waar ook al ’n groep mense gereeld bymekaarkom vir ‘n spesifieke doel volg dit natuurlik dat daar sekere orde reelings sal wees. Bv. die tyd, plek en orde van die erediens sal deur die leiers van ‘n gemeente vasgestel word en daar sal van gemeentelede verwag word om daarby te hou. Stel jou voor gemeentelede kom laat en ontwrig die prediking elke keer as hulle inkom? Net so is daar reëls rondom die toepassing van finansies, onderhoud van geboue ens. wat sal geld net soos wat dit sal geld vir enige wêreldse klub waaraan iemand behoort. Die grootste gevaar is egter dat sommige kerke hierdie orde reelings kan verander in Goddelike reëls/wette. Die gevaar is tweeledig. Eerstens omdat dit ‘n onnodige las op mense kan plaas en tweedens omdat hierdie reëls wêreldse mense kan laat dink dat indien hulle dit nakom, hulle saak met die Here reg is. Hier kan ons getuig van mense wat dink dat om op die basaar komitee te dien of die voorsang te lei hulle redding is. Ons praat nie hier van mense wat dink dat hulle deur goeie werke gered word nie, alhoewel dit verseker ook verkeerd is. Goeie dade is tog iets wat elke Christen sal wil doen uit dankbaarheid aan Christus. Dit gaan hier oor uiterlike pligte wat deur leiers in die kerk op mense gelê word, wat niks te make het met wat Christus van gelowiges vereis nie.
Die vroeë kerk
In die vroeë kerk het individue die kerk binnegedring wat op gelowiges vereistes gelê het wat nie van God gekom het nie. So was daar ’n groep wat rondgegaan het onder diegene wat vanuit die heidene tot geloof in Christus gekom het, en hulle verplig het om hulle te laat besny. Vroeg het die leiers in Jerusalem al hieroor ’n uitspraak gemaak. Die apostels en ouderlinge skrywe ’n brief waarin hulle die gemeente gerusstel dat hulle nie hulself hoef te besny nie.Handelinge 15:24 Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou… en die daaropvolgende verse. In Korintiërs bevestig Paulus hierdie besluit deur aan die gemeente te skryf dat hulle uiterlik moet bly soos wat die Here hulle geroep het. 1Korintiers 7:17-18 Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes. Is iemand as ‘n besnedene geroep—hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep—hy moet hom nie laat besny nie. In Galasiërs word dieselfde aangeleentheid aangespreek as Paulus die gemeente ten sterkste berispe omdat hulle weer wil teruggaan na die besnydenis en sodoende ’n streep trek deur Christus se versoening en verlossing.
Skynheilige vertoon
Die vlees hou daarvan om uiterlike dinge te doen sodat ander ons hoër sal ag. Dit was dan ook waarom die Jode deur die eeue al meer wette by die Sabbatdag gevoeg het. Hierdeur kon hulle hul eie vroomheid meer en meer ten toon stel. Die Fariseërs was die een groep wat deur Jesus male sonder tal aangespreek is juis a.g.v. hulle begeerte om uiterlik mooi te lyk. Mattheus 23:25 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Enige persoon kan homself geestelike laat voorkom as die maatstaf uiterlike gebruike is. Hoe maklik kan iemand geestelik voorkom as die vereiste ’n pak klere of ’n netjiese rok is? Hoe maklik om op Sondae ’n klomp menslike reëls na te kom om te wys dat jy geestelik is? Daar is ’n groot gevaar as leiers in die kerk enige iets van die gelowiges in die gemeente vereis wat nie in die Skrif beveel word nie. Dit maak die kerk dan net meer en meer wetties en veroorsaak dat ongeredde individue net so goed sal inpas.
Kulturele praktyke
Te reg kan iemand vra of Paulus nie tog klem gelê het op uiterlike gedrag toe hy van die vroue in die gemeente in Korintiërs verwag het om hoofbedekkings te dra as hulle die erediens bygewoon het nie? Hierdie gedeelte vind ons in 1Korintiers 11. Die klem word hier gelê op vroue wat hulle hare as ’n hoofbedekking moet hê. Hy beroep homself op die natuur om te verdedig waarom dit goed is dat ’n vrou lang hare dra. 1Korintiers 11:14-15 Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie; maar as ‘n vrou lang hare dra, dit vir haar ‘n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ‘n bedekking? Die vraag kan dan verder gevra word dat as dit so is dat as ’n man lang hare dra dit vir hom ’n oneer is, waarom was daar dan Godvresende mans in die Bybel wat lang hare gedra het? Kom ons begin om te kyk na die kultuur en godsdiens van die dag waarin Paulus hierdie brief skrywe. Die vrou speel ’n belangrike rol in godsdienstige kultusse by die heidense tempels. Hulle het offers gebring en was deel van die seksuele orgies wat by die tempels plaasgevind het. ’n Tempel prostituut het haar hare laat afsny as ’n kenmerk van haar beroep. Kan jy jou indink wat die heidene sou gedink het as hulle na ’n erediens gekom het en daar was ’n vrou wat vanuit hierdie heidense praktyk verlos is en gelowig geword het, maar wie se hare nog nie uitgegroei het nie? Sou hulle nie die idee gekry het dat hierdie ook ’n plek is waar seksuele misdrywe plaasgevind het nie? Verder was dit ’n eienskap van ’n vrou wat onder gesag van haar man staan, dat haar hare lank sou wees en nie kort nie. Ons kan verder sien dat hierdie ’n kultuur aspek was a.g.v. die verpligting dat mans kort hare moes dra terwyl die Ou Testament ons leer dat mans wat die Nasireër belofte afgelê het nie hulle hare moes sny nie. Numeri 6:5 Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan die HERE toewy, moet hy heilig wees—hy moet die hare van sy hoof vry laat groei. Hiervan was Simson in Rigters ook ’n voorbeeld. Samuel se ma belowe dat as God vir haar ’n seun sal gee “dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie.” 1Samuel 1:11. Dit is dus duidelik dat hierdie ’n aanbeveling was a.g.v. die kultuur waarin die gelowiges hulle in die eerste eeu bevind het. Die gelowige moenie in sy/haar kleredrag of uiterlike vir die wêreld enige indruk gee dat hy/sy losbandig is of leef nie. Dus moet die kerk nooit deur iets wat hulle hulself toelaat die naam van die Here laat skade lei nie. Hier behoort elke persoon onmiddellik saam te stem dat die lengte van jou hare vir niemand vandag meer enige betekenis het nie.
Bybelse wette
Die leiers in die kerk moet seker maak dat enige besluit wat hulle neem ’n duidelike Bybelse onderleg het en nie net geneem word om die vlees te stig nie. Hoewel uiterlike voorkoms nie vandag deur die kerk se orde aan mense voorgeskryf moet word nie, kan die kerk egter iemand aanspreek wat uitspattig of verleidelik aantrek, omdat daar ’n duidelike riglyn in die Bybel is dat vroue kuis moet wees en dat ons sodanig moet optree dat ons nie ander moet laat struikel nie. Die beginsel van hierdie besluit is dus geneem vanuit ’n Bybelse riglyn en nie omdat die leierskap net dwars wil wees of iets wil skep wat ’n nuwe geestelike maatstaf sal word nie. Ons wil nie besig wees met leringe van mense nie. Mattheus 15:9 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Dit wat God van die gelowige wil hê is mense wat Hom nader met ’n hart wat aan Hom toegewy is en nie deur lippetaal wat geen betekenis het nie. Jesaja 29:13 En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is.
Slot
Baie kerke het sekere menslike reëls. Sekere kerke dra die vrouens nog ‘n hoed en die mans staan wanneer daar gebid word. Hierdie reëls sê net so min oor iemand se verhouding met die Here as die kleur van sy/haar oë. Ons moet dus ook nie mense daaroor veroordeel nie, want ons het nie die reg om mense se harte te oordeel nie. Al waarop ons mense kan beoordeel is op grond van die geestelike vrug wat hulle dra. Ons is nie meer slawe van mense nie, maar van Christus. Sy juk is sag en sy las is lig……
