Artikel 31 DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK

Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van `n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom. Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is – die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.

Inleiding

In die vorige inskrywing het ons gesien hoe ‘n man in die kerk se lewe moet lyk, voordat hy enigsins in aanmerking geneem mag word om as ampsdraer in die kerk van Christus op te tree. Daar mag egter individue wees wat aan hierdie vereistes voldoen en tog nie ‘n ampsdraer is nie. God beveel dat ‘n persoon hom moet aanmeld of verkiesbaar moet stel indien Hy jou daartoe roep en om seker te maak jy hoor die Here se stem reg is daar mede gelowiges wat ook deur die Heilige Gees gedring sal word om jou in die amp van ouderling of diaken te verkies. God ken elke persoon se hart en weet wat vir jou en Sy kerk se geestelike groei die beste is en daarom moet doodseker gemaak word dat iemand deur God tot ‘n amp verkies word en nie bloot deur mense nie.

Mag

Baie mense is in die verlede as ampsdraer verkies nie oor hul verhouding met God nie, maar oor hul verhouding met die bankbestuurder. Die Bybel maak dit egter duidelik dat jy nie om wêreldse redes as ouderling of diaken verkies mag word nie. Dit gaan nie oor jou posisie as gemeenskap leier en hoe invloedryk jy is nie, maar of jy ‘n verhouding met Jesus Christus het en bereid is om as dienskneg in Sy kerk diens te doen.

Voor God gelyk

Tussen die ouderlinge is daar geen enkele individu wat ’n hoër posisie beklee as die ander nie. Dit is vreemd om te hoor van kerke waar een van die ouderlinge die senior pastoor of predikant is. Wat maak hom die senior? Is dit sy ouderdom? Is dit sy opleiding of sy jare in diens? Volgens die Bybel is alle ouderlinge in hul amp gelyk voor God. As Petrus in sy eerste brief aan die kerk homself as skrywer bekend stel, noem hy homself die “slaaf” en die “apostel” van Christus. Hy is die slaaf van Christus en doen alles wat sy Heer en Baas hom beveel het en hy is ’n apostel, een van die gestuurdes van Christus. As Petrus in hoofstuk vyf die ouderlinge vermaan, vermaan hy hulle as mede-ouderling. 1Petrus. 5:1  Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ‘n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word.  Net so verwys Johannes, in sy briewe, na homself as ’n ouderling. Hulle eien geen rang of status aan hulself toe nie. As apostels en skrywers van God se Woord dra hulle woorde gesag vir die Kerk, maar as individue is hulle ouderlinge van die gemeente. Enige persoon wat die idee het dat hy as ouderling op ’n peristool geplaas moet word vergeet Petrus se woorde dat ons slawe van Christus is.  Elke ouderling moet besef dat dit God is wat jou wil gebruik vir die spesifieke diens waartoe Hy jou geroep het. Daar is dus geen rede vir ouderlinge om in kompetisie met mekaar te wees nie.

Alles wat ons het, het ons ontvang van die Here. 1Korintiers 4:7  Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?  Elke individu het gawes wat God aan hom/haar gegee het en net so is dit met ouderlinge. Paulus stel dit goed as hy aan die Korintiër gemeente skrywe na aanleiding van hulle denke in verband met ouderlinge wat by hulle gedien het. 1Korintiers 3:5-9  Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.  As ons wil spog oor enige iets kan dit alleenlik wees om aan God die eer te gee dat hy ’n donkie soos ek kan gebruik. Of anders gestel Hy kon ’n donkie gebruik om ’n profeet te waarsku en daarom kan hy my ook gebruik. 2Korintiers 10:17-18  Maar wie roem, moet in die Here roem. Want nie hy wat homself aanbeveel, dié is beproef nie, maar hy wat deur die Here aanbeveel word. Die enigste Hoof van die kerk is Christus en ons is sy liggaam. Efesiërs 1:22-23  En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. 

Hoë bome vang die meeste wind

Hierdie idioom mag dalk vreemd klink, aangesien ons nou net in die vorige paragraaf verduidelik het dat daar geen hiërargie tussen ampsdraers is nie. Dit is egter so dat diegene wat die leiding in die kerk neem die sigbaarste is en in die opsig is die idioom ongetwyfeld gepas.

Mense hou daarvan om na ander te kyk en hulle onder ‘n vergrootglas te plaas en in die geval van ampsdraers is dit ook goed dat dit gedoen word, want dit hou mense verantwoordelik. Dit raak egter gevaarlik indien ampsdraers nie meer ondersoek word in terme van hul verhouding met Christus of hul godsvrug nie, maar oor hul persoonlikheid waarvan lidmate dalk nie hou nie.

Tog is dit duidelik vanuit die Skrif dat ’n ouderling met die hoogste agting in liefde hanteer moet word. Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar. 1Thessalonisense 5:12-13. Die rede hiervoor volgens die teks is “ter wille van sy werk”. Jou geestelike groei en die van jou familie is afhanklik van hoe jy die persoon, wat die Woord preek en vermaning moet doen, gaan hanteer en wat jy van hom dink. Geen persoon wat minagting het vir die individu wat die Woord moet bedien gaan enigsins groei na geestelike volwassenheid nie. Nog erger is dat jou kinders, wat hoor hoe jy van die bedienaar van die Woord praat of sien hoe jy dit wat gepreek word uitleef, jou gaan navolg. Elke negatiewe uitspraak rakende die bedienaar van die Woord gaan jou en jou gesin benadeel. Indien daar ernstige dinge is waaroor jy negatief voel (en hier praat ons nie van sy Woord verkondiging nie, maar persoonlikheidsbotsings), kan jy dit met hom in privaatheid gaan uitklaar.

Die Woord roep die gelowige op om aan hulle leiers gehoorsaam en onderdanig te wees. Heb 13:17  Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie. Die ouderling het die verantwoordelikheid om oor jou siel te waak en as jy nie luister nie sal jou geestelike lewe op die rotse van die lewe vernietig word. Daar is geen groter blydskap vir die ouderling as die persone wat hy bedien, in opdrag van God, geestelik groei nie. Daarteenoor is daar geen groter hartseer as hy na mense kyk wat na jare se bediening nogsteeds op dieselfde geestelike vlak is nie. Geen boer gaan opgewonde wees as sy lammers na ’n jaar nogsteeds lammetjies is wat aan hulle mamma drink nie. Die ouderling is terdeë bewus dat hy eendag erger as ander gelowiges geoordeel gaan word en daarom sal ’n getroue ouderling sy roeping nooit as iets ligtelik beskou nie. Jakobus 3:1  Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.

Slot

Dit is duidelik dat daar sekere vereistes aan leierskap van die kerk van Christus is. Indien persone aan hierdie vereistes voldoen en deur God geroep en die gemeente verkies is in hierdie ampte, het hulle ‘n ongelooflike taak om na die kerk van Christus, Sy bruid, om te sien. Die Here vra van elke lidmaat om vir die leierskap van die kerk te bid. Predikante, ouderlinge en diakens is nie perfekte mense nie, maar mense wat in nederigheid hulself gewillig verklaar het om in diens van die kerk te staan. Hul gesag oor jou is nie die gesag van ‘n persoon nie, maar die van die Woord van God wat hulle verkondig en waaronder jy jouself vrywilliglik plaas. As lidmaat van die plaaslike kerk vra jy met jou lidmaatskap dat hulle jou moet help en begelei om aan God getrou te wees, terwyl hulle saam met jou oppad is na die wenpaal – die Ewige Lewe!