Artikel 30 DIE REGERING VAN DIE KERK

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee.

Inleiding

Die regering van God se kerk is van kardinale belang. Die kerk het ’n getuienis taak na buite en daarom is dit nodig dat die kerk moet lyk soos wat God in Sy Woord dit beskryf. God het bepaalde riglyne neergelê van hoe sy kerk geestelik en fisies versorg en regeer moet word. Hierdie riglyne moet uitgevoer word deur manne wat deur God geroep is tot die taak en as geesvervulde manne geken word.  Die ampte van ouderling en diaken is deur God ingestel waar die geestelike versorging hoofsaaklik deur die ouderlinge behartig en die fisiese behoeftes deur die diakens behartig word.

Leierskap

Ons weet dat sommige mense gebore leiers is in hoe hul ander kan lei en oortuig om te volg. Die leiers in God se kerk word egter nie op grond van hul leierseienskappe aangestel nie, maar op grond van hul godsvrug. God verskaf die regeringstyl en beleid van sy kerk en al wat van die leiers gevra word, is om dit in gehoorsaamheid uit te voer. Die riglyne vir die funksionering van die plaaslike kerk is baie duidelik vanuit die Skrif. Die kerk word nie bestuur deur die gedagtes van mense, nuut of oud, nie. Ons onderwerp ons gedagtes aan God se opdragte, wat duidelik aan ons geopenbaar word vanuit die Skrif. Regering style van die wêreld werk nie in die kerk nie. Die kerk is nie ’n demokrasie nie. Alhoewel ons sekerlik kan stem oor waar om diens te hou en wanneer die volgende gemeente braai gehou gaan word, stem ons nie oor die beginsels en toepassing van God se Woord nie. Ons doen wat God in sy Woord sê, hoe en waar en wanneer Hy dit bepaal. Hoe tragies dat daar soveel kerke is wat hulle laat lei deur wêreldse bestuurstyle en wat wêreldse mense van die kerk verwag, eerder as wat God in Sy Woord vra.

Die regte leiers

Wie mag leiers in God se kerk wees en hoe kies ons hulle? Ons moet vooraf vir mekaar sê dat ons nie mense se harte mag beoordeel nie en daar is so sekerlik al foute gemaak in die verkiesing van ouderlinge en diakens. Dit kom egter altyd aan die lig en dan het die kerk ’n verantwoordelikheid om teenoor valse leiers op te tree. Daar is egter sekere eienskappe waaraan voldoen moet word voordat iemand vir so ’n belangrike taak verkiesbaar is en dit kan en moet beoordeel word.

As ons kom by die bestuurders van die Kerk het ons nodig om hulle te kies in ooreenstemming met wat die Woord vra. Leierskap in die Bybel is nie soos wat die mens daarna sou soek nie. Die voorbeeld van die eerste koning in die Ou Testament is ’n voorbeeld waar God vir die volk en vir ons vandag wys wat gebeur as jy iemand kies volgens hulle uiterlike. Die man se naam was Saul. Die Bybel vertel ons dat hy ’n kop langer as enige iemand anders in die volk was. 1Samuel 9:2  En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk. Elke uiterlike eienskap verwys na ’n man wat mense sou kies. Tog sien ons al in die begin van sy roeping dat hierdie man ’n patetiese figuur is. As Samuel hom soek om hom aan die volk bekend te stel, dan kruip hy weg. 1Samuel 10:22  En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip. Hierteenoor wys God Dawid, die tweede koning, aan as ’n man na Sy hart. As Samuel weer wil kies kyk hy weer na Dawid se groter broers en hoe hulle fisies lyk. God moet Samuel teregwys in dat hy nie na die uiterlike nie, maar na die innerlike moet kyk. 1Samuel 16:7  Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan. Die teenstelling word op die spits gedryf as daar ’n reus uit die Filistyne opstaan en die Israeliete uitdaag om iemand te stuur wat teen hom kon veg. Aan die een kant het ons Saul, ’n man wat “skouers af boontoe” langer as almal was, met die beste wapenrusting en aan die ander kant het ons Dawid, ’n jong seun gewapen met ’n slingervel. Saul bewe van vrees, maar Dawid ken nie vrees nie. Hy ken die God wat Hy aanbid en die reus lyk baie klein in vergelyking met die grootte van sy God. Saul is ’n man wat sonder God in Sy lewe is en vir Hom is die reus ’n enorme bedreiging. In die kerk het ons nie manne soos Saul nodig nie, maar wel manne soos Dawid. Ons soek nie leiers soos die wêreld leiers soek nie. Ons kyk nie na hulle akademiese kwalifikasies, hoe ryk hulle is of hoeveel aanhang hulle het nie. Nee ons wil hulle meet aan God se standaard. Ons wil hê dat hulle bereid moet wees om vreesloos te veg en soos Dawid te lei in God se weermag.

God se standaard

Die standaard vir ’n ouderling en diaken is in 1 Timoteus 3 en Titus 1. Voordat ons na ’n paar van hierdie vereistes kyk is dit nodig om vir mekaar te sê dat elke gelowige hierdie riglyne moet nastreef, alhoewel dit hier spesifieke vereistes vir diakens en ouderlinge is.

Die begeerte van ’n man in die gemeente om ’n ouderling te word, is ’n goeie begeerte. Die Bybel is duidelik dat ’n ouderling se gedrag so moet wees dat ander hom nie sou kon teregwys a.g.v. sonde waaraan hy vashou in sy lewe nie. As hy getroud is, moet dit net met een vrou wees. Poligamie word dus nie toegelaat nie. Die res van die vereistes wys na ’n goddelike man, wat onder beheer van die Here lewe in alles wat hy doen. 1Timotheus 3:2-3  ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie.

Goddelike kinders

Die Woord is ook duidelik dat ’n bewys van sy goddelike leierskap eerstens sigbaar moet wees in sy eie huis. Of hy ’n Goddelike leier is, sal gesien kan word in hoe hy sy huis regeer. Dit veronderstel dat hy die hoof van die huis moet wees. As jy nie jou huis regeer en jou kinders grootmaak om vir die Here te lewe en lief te wees nie, kan jy nie ’n ouderling wees nie. 1Timotheus 3:4-5  een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?  Hoe dikwels sien ons egter dat hierdie riglyn geïgnoreer word. Predikante, ouderlinge en diakens het kinders wat ongehoorsaam, losbandig en vêr van God af lewe. Die Bybel is baie duidelik dat enige persoon wat in die leierskap van die kerk is en ongehoorsame kinders het nie in die diens kan staan nie. Dus veronderstel dit dat die manier wat jy regeer ’n absolute bepalende faktor is in hoe jou kinders sal leef. Natuurlik moet ons byvoeg dat God die gelowige ouers toerus en dat dit sy genade is dat jou kinders vir die Here lewe. Tog moet ons nie dit wat die Woord ons rakende hierdie saak leer en beveel ligtelik opneem nie.

Elke ouer wat ‘n gelowige is, moet weet dat jou gedrag en dissiplinering deur God gebruik sal word om jou kind te vorm. Baie ouers wil nie hulle kinders dissiplineer soos wat God vra in Sy Woord nie en dink dat die nuwe sielkundige manier om kinders groot te maak meer effektief is. As jy ’n leier in God se kerk wil wees kan jy nie iemand wees wat dink dat jy of enige iemand anders beter as God oor enige saak weet nie. In Hebreërs word God se dissipline met die van ’n Vader sin vergelyk. Hy sê dat ’n vader sy kind tug en kasty. Kasty is pak slae soos waartoe Spreuke ook die ouer oproep. Die Hebreërs-skrywer vra dan die retoriese vraag of daar ’n vader is wat sy kind nie tug nie. Die antwoord is duidelik dat dit nie moontlik is dat iemand ’n vader kan wees en vir sy kinders kan lief wees en dit nie doen nie. Moenie ooit wegdraai van God se manier van ouerskap in die huis of leierskap in die kerk nie, dit sal jou duur te staan kom.

Ons maak almal foute, maar as jy vashou aan God se manier van leef en jou kinders so grootmaak sal God jou ouerskap seën. Moet nooit vir God die skuld gee vir jou kinders se gedrag, asof jy dit nie kon bepaal nie. Nee, as jou kinders in jou huis weg van die Here leef, is dit jou skuld en jy sal verantwoording doen voor God. Bely jou sonde voor die Here.

Baie ouers kom laat in hulle lewens tot inkeer en hulle het hul kinders al op ’n bepaalde manier onderrig om soos die wêreld te dink en te leef. Hier is dit dan die taak van die ouers om vir hulle kinders se redding by God in te tree. Hierdie ouers, wie se kinders nog in hul huis is en nie vir die Here leef nie, kan egter volgens God se Woord nie ouderlinge of diakens wees nie.

Pasgebore babas

Die Bybel is ook duidelik dat niemand wat onlangs weergebore is, ‘n leier in die kerk mag wees nie. Die rede hiervoor is voor die hand liggend, aangesien hy eerstens nie ander sal kan onderrig in die Woord nie. Hy is nog ’n baba in die geloof en moet nog groei na volwassenheid. Die ouderdom van die persoon is nie van belang nie, maar wel sy volwassenheid. Paulus skrywe dan ook vir Timotheus as leier, dat hy nie moet toelaat dat mense op sy jonkheid neersien nie. 1Timotheus 4:12  Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. n Leier word nie wys met fisiese lewensjare nie, maar met geestelike lewensjare, m.a.w. met die jare wat hy in die Woord spandeer het. Hoe meer ’n gelowige tyd in die Woord spandeer hoe meer kom hy/sy tot die bewustheid van sy eie gebrekkige insig en die wysheid wat alleenlik in God se Woord gevind kan word. God soek ’n leier van bewe voor sy Woord. Jesaja 66:2  Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord. 

Slot

‘n Goeie regering benodig goeie leiers. Hierdie leiers moet aan God se standaard voldoen en ons het nie die reg om God se standaarde te verlaag of bevraagteken nie. Hoewel baie sal voel hulle word onregverdig deur van hierdie riglyne uitgesluit om as leier in God se kerk te dien, moet hulle onthou dat leierskap in die kerk ’n oproep tot diens is. As jy dit wil doen om mag en gesag oor ander te hê, of om jou natuurlike leierskap ten toon te stel, dan is dit dalk goed dat jy juis deur God se standaard onbevoeg verklaar word, want leiers in God se kerk is diensknegte. As jy voel jy het soveel kennis as leier op ander gebiede, waarby die plaaslike kerk kan baat, moet jy juis nog besef dat jy nederig moet word en dat daar ander maniere is waarop jy jou natuurlike talente tot uitbreiding van God se kerk en koninkryk kan gebruik. As jy gehoorsaam aan Hom lewe sal Hy vir jou wys presies waar Hy jou wil gebruik.

Indien jou huis egter in orde is en jy godsvrugtig lewe, wil God hê dat jy jouself moet aanmeld om te lei en te dien in Sy kerk. God vra nie perfekte mense nie, maar geesvervulde manne wat in gehoorsaamheid wil leef en dien. Bid daaroor en wees soos Dawid, vreesloos en nederig in wat God deur jou kan doen.