Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toe-eien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie. Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het. Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.
Inleiding
Die Nederlandse geloofsbelydenis is in 16de eeu geskryf, maar dit is so duidelik dat daar geen meer verduideliking nodig is nie. Ek kon amper net afsluit met ’n slot gedagte. Wat belangrik is, is om aan te dui dat ons nie hier onderskeid maak tussen die volmaakte en onvolmaakte kerk nie, maar tussen die ware en valse kerk. ‘n Ware kerk is ‘n groep onvolmaakte mense wat die volmaakte Woord van God leer en leef.
Ware kerk met ongelowige mense
Ons weet dat daar geen volmaakte kerk is nie en dat almal wat aan die plaaslike kerk behoort nie gelowiges is nie. As Jesus die gelykenisse vertel is dit baie duidelik dat daar altyd in die kerk ongelowiges sal wees. Neem die saaier as voorbeeld. Die saad wat gesaai word, is die evangelie wat verkondig word. Vier groepe luister na die Woord wat verkondig word. Die eerste drie groepe hoor die woord en al is daar twee van die drie wat lyk of hulle die boodskap hul eie maak en dit selfs met blydskap doen, is daar net een groep wat vrug dra en dus werklik gered is. Net na hierdie gelykenis in Mattheus 13 vertel Jesus verder dat in die kerk onkruid sowel as koring is en dat dit nie van mekaar geskei sal word totdat Jesus weer kom nie. Mattheus 13:30 Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur. Daar was nie fout met die saad in die gelykenis van die saaier of met die koring saad in gelykenis van die onkruid in die koringland nie. Die evangelie is suiwer, die mense is egter vals. Die interessante is dat selfs al word die tug handeling in die plaaslike kerk toegepas, sal daar party wees wat as “lidmate van die kerk” op die ou ent verlore sal wees. Hier is die voorbeeld van Judas gepas. As Jesus aan die apostels sê dat een van hulle hom gaan verraai het die ander dissipels nie onmiddellik na Judas gewys as die skuldige nie. Hulle was onbewus van die hardheid van sy hart. Jeremia 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Daar sal altyd mense in die kerk wees wat voorgee dit wat hulle nie is nie. Ons kan nie mense se harte sien en mag dit nie beoordeel nie en daarom kan ons deur valsheid gebluf word, maar God weet alles en ken alle harte deur en deur.
Kenmerke van ’n ware kerk
Die Bybel is God se Woord en gesag oor die ware kerk
Daar is volgens die Nederlandse geloofsbelydenis dus drie dinge wat in die plaaslike kerk moet wees om dit deel van die ware Kerk te maak. Die evangelie moet eerstens suiwer verkondig word. Dit beteken die hele Skrif moet verkondig word. Die valse kerk het nog altyd aan sy eie denke en besluite hoër waarde geheg as aan die Woord van God. In die tyd van die Nederlandse geloofsbelydenis was die kerk waarna hulle onmiddellik kon verwys die Rooms-Katolieke kerk. Dit was duidelik dat hierdie kerk meer waarde geheg het aan wat die Rooms-Katolieke kerk en pous deur die geskiedenis besluit het as wat die Woord van God sê. As Martin Luther homself moet verdedig by die Diet van Worms, maak hy dit duidelik dat die kerklike rade en pouse deur die geskiedenis mekaar al weerspreek het en dat Hy homself slegs onderwerp aan die Woord van God. As iemand hom dus vanuit die Woord kon oortuig sou hy sy standpunt terugtrek. Valse kerke is kerke wat jou van hul verkeerde standpunte wil oorreed, sonder die Skrif. Hulle gebruik emosie en die vleeslike begeertes van die mens – ons sogenaamde “gesonde verstand” word ook net so dikwels ingespan om nuwe interpretasies te gee wat aanpas met die tydgees. Die Skrif is egter nie hul primêre bron vir besluite nie. Ons weet wat met Aaron se seuns gebeur het omdat hulle hul eie manier van offer bygevoeg het by God se orde en reëls. Levitikus 10:1-2 En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. God beskou enige byvoeg of wegneem van Sy Woord nie ligtelik nie. Kerke wat dit doen is dus volgens die Nederlandse geloofsbelydenis se kriteria nie kerk nie. ’n Ware kerk hierteenoor word gebou op die Skrif. Efesiërs 2:19-20 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is. Die ware kerk hoor die Herder se stem en hulle volg Hom. Johannes 10:4 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
Die sakramente is heilig
Die tweede vereiste is dat die sakramente bedien word soos Christus dit ingestel het. Die nagmaal kan nie meer of minder beteken as wat God se Woord daaraan toeskryf nie. Die Rooms-Katolieke het deur die geskiedenis meer en meer dinge aan die nagmaal toegedig. Die amp van priester is ook ingestel vir die nagmaal omdat die katolieke kerk glo dat Jesus elke mis weer geoffer word deur die priester. Hierteenoor is die Bybel baie duidelik dat Christus net een maal geoffer is. Hebreërs 9:28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid. Behalwe dit glo hulle ook dat die brood en die wyn werklik die bloed en die liggaam word van Christus. Die ware kerk verstaan dat Christus dit as ’n gedagtenis maaltyd aan ons gegee het waarin ons in herinnering aan wat Hy vir ons gedoen het die nagmaal gebruik.
Hierteenoor is daar groepe wat die nagmaal nie met die erns van die Bybel vier nie. Hulle maak die nagmaal minder as wat dit werklik is. Hulle praat grappenderwys van die wyn as jou wyn lisensie en maak grappies van predikante wat dronk word van nagmaal wyn. Ander maak nie êrens om hulle eie lewens in oënskou te neem en hulle sondes te bely voor die gebruik van die nagmaal nie. Paulus waarsku die gemeente in Korintiërs dat baie van hulle siek en party afgesterwe het juis omdat hulle nie hulle sondes bely het voor hulle die nagmaal gebruik het nie. 1Korintiers 11:29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
Die kerklike tug
Kerklidmate wat in sonde volhard, moet gedissiplineer word. Dit kan op verskeie maniere gedoen word, maar verseker mag individue wat in sonde volhard nie deur die kerk nagmaal bedien word nie. Hier kan enige gelowige bely dat daar dan baie min ware kerke is. Hoeveel kerke wat jy ken pas die tug toe? Ons praat nie net van die finale afsny van ’n persoon wat volhard in sy/haar sonde nie, maar ook van die pad van vermaning en teregwysing van ’n persoon wat in sonde volhard. Die kerklike tug is ‘n vorm van liefde. Geen ouer wat vir sy kind lief is, sal hom/haar toelaat om met vuur te speel nie, hoekom laat die kerk dit dan toe in so baie van sy lidmate se lewens. Die antwoord is eenvoudig – omdat ons nie meer weet wat dit is om God te vertrou en op Sy Woord en beloftes te staan nie. Hy gee die opdrag en sy ware kerk volg – hoe pynvol of liefdeloos die opdrag ook al voel. God is liefde en sy opdrag is in lyn met sy karakter. Nie net vir sy kind wat in sonde val nie, maar ook vir sy kerk wat deur die suurdeeg van sonde verwoes kan word.
Vervolging
Wees verseker dat enige persoon wat godvrugtig lewe deur die valse kerk vervolg sal word. 2Timotheus 3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. Mense wat godvrugtig lewe het die begeerte om aan God gehoorsaam te wees en heilig te lewe. Sogenaamde kerkmense haat mense wat heilig lewe, want ons lewe ontbloot hul skyn godsdiens net soos Christus se lewe die godsdienstige leiers van sy dag se skynheiligheid ontbloot het. Daar om sê die Woord tereg: As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Johannes 15:18-19. Die gelowige het ook die taak om mense, wat hulself Christene noem en nie volgens die Woord leef nie, maar besig is met euwels, gierigheid en afgodery, te bestraf. Dit was dan ook die rede hoekom Jesus gehaat is, want Hy het getuig dat hulle werke boos is. Johannes 7:7 Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Die ware kerk wat mense wat God se naam deur hul lewens laster uitwys, word dikwels vervolg en beledig of as liefdelose fundamentaliste geëtiketteer. Die hartseer is dat die Bybel ons waarsku dat baie van hulle wat in die kerk is, sal dink dat hulle dit vir die Here doen as hulle jou haat en slegmaak. Johannes 16:2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. Dit is ‘n bewys van die valse lering wat hulle ontvang.
Slot
Die Bybel is vertaal sodat elkeen dit kan verstaan. Daar is egter soveel wat dit verdraai en uit konteks verkondig om hul eie agendas te pas. Jesus het verklaar dat die pad na die Ewige Lewe nou is en die wat dit vind min. Lees jou Bybel en maak seker dat die kerk waarin jy is die waarheid in sy volheid verkondig – nie net die gedeeltes wat jou ore streel nie. Jy kan saam met onvolmaakte mense aan dieselfde kerk behoort, omdat jy self ook nie volmaak is nie. Saam kan julle groei om meer en meer soos Christus te lyk. Maak seker die Christus waarna jy streef is Christus soos Hy homself aan ons bekend maak in sy Woord en nie ‘n Christus wat deur ‘n valse kerk as die waarheid voorgehou word nie. John MacArthur het gesê: “ It is not the perfection of one’s life but the direction of a life that provides evidence of regeneration.” Kan dieselfde gesê word van die kerk waaraan jy behoort? Indien onvolmaakte mense loop in die rigting wat God aanwys, lei dit na volmaaktheid – die rigting wat mense aanwys, lei na nêrens.
Bepaal God die rigting van die kerk waaraan jy behoort of mense?
