Artikel 28 ELKEEN IS VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT

Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.

Inleiding

Vandag is daar baie wat bely dat hulle gelowiges is maar aan geen kerk behoort nie. Hierdie is die tipe arrogansie van iemand met die idee dat hulle geestelik kan funksioneer sonder ander gelowiges in hulle lewens. Die verskoning van mense wat bely dat hulle gelowiges is, maar nie aan ’n kerk behoort nie is gewoonlik: “Ek is al te veel seergemaak deur gelowiges”, of “Ek ken ‘n klomp mense wat skynheilig is en in die kerk sit en daarom wil ek nie deel wees van die kerk nie.” Wat die persoon vergeet is dat hy/sy ook al male sonder tal ander persone seergemaak het, of deur hul tong of deur hul gedrag. Niemand van ons as gelowiges is sonder sonde nie. Ja, ons voer ’n stryd teen die sonde en ons bely ons sonde, maar ons is terdeë bewus van ons eie tekortkominge. Die wonder van deel wees van die liggaam van Christus is juis om in ons swakheid met mekaar om te gaan. Die idee van sommige dat hulle almal wat hul aanstoot gee gaan vermy is belaglik, veral in die lig van die feit dat jy tog met jouself ook moet saamleef, en as jy in die spieël van die Woord kyk sal jy gou agterkom dat jy eintlik die een is van wie jy die vêrste moet wegvlug.

Geestelike arrogansie

Die idee wat sekere individue het dat hulle geestelik gearriveer het, is juis ’n bewys van hulle hoogmoed en is eerder ’n teken van hulle verlorenheid. Jesus vertel die verhaal van die tollenaar en die Fariseër wat na die tempel gaan om te aanbid. Die Fariseër begin sy gebed om vir God te dank. Klink dit nie wonderlik nie? Hy begin sy gebed om vir God te dank vir die goeie mens wat hy is. Lukas 18:11  En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. In sy gebed maak hy sondaars baie persoonlik deur te verwys na ’n tollenaar wat so ‘n entjie van hom af wegstaan. Hoe tragies dat jy jouself in die tempel kan bevind, die plek waar offers gebring word vir jou sonde, en geen rede het om vergifnis vir enige iets in jou eie lewe te vra nie. Daarna begin hy die goeie dinge wat hy gedoen het voor God opnoem. Sy optrede is in teenstelling met die 24 ouderlinge in Openbaring wat hulle oorwinningskroon ontvang het en dit onmiddellik neerlê voor die Een wat op die troon sit en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape. Openbaring 4:11. Teenoor hom staan ’n tollenaar wat vêr van hom af wegstaan. Hy weet hy is sleg. Hy ken sy sonde en daarom bid hy soos volg: En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Lukas 18:13.  Kan die gelowige ooit neerkyk op enige iemand anders? Kan ons roem oor enige iets in ons lewens. Efesiërs skryf Paulus aan die kerk dat hulle niks het om oor te roem nie. Efesiërs 2:8-9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 

Die gesag van die kerk

Iemand wat selfvoldaan is, is ook iemand wat nooit hulself aan die gesag van die plaaslike kerk sal onderwerp nie. Die leiers ampte het God gegee sodat hulle elke gelowige sal toerus vir hulle dienswerk aan die gemeente. Efesiërs 4:11-12  En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus. As die leiers in die kerk, wat deur God aangestel is, nie deur die gelowige gehoorsaam word nie is die persoon nie net ongehoorsaam aan God nie, maar hy/sy stel hul en hul gesin se geestelike groei in gevaar. Die enigste regverdiging vir die opstand teen die leierskap is dat daar iets teen die leer en lewe van die leierskap ingebring kan word.

Die plaaslike kerk is onder andere daar vir lidmate om mekaar aanspreeklik te hou vir hul dade. Mense moet oor my lewe waak dat ek op die regte pad bly en koers hou. Om hierdie rede kan en mag die leierskap in die kerk nie toelaat dat lidmate in sonde volhard nie. Hier is die Woord van God baie duidelik. Die gelowiges in die kerk het die taak om mekaar tereg te wys. As daar ‘n man of vrou, seun of dogter is wat volhard in sonde moet hulle tereggewys word in liefde. As die persoon nie luister nie moet hy/sy voor die gemeente tereggewys word en dan, as daar nie belydenis is nie,  afgesny word. 1Korintiërs 5:11-13  maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit. Die plaaslike kerk kan nooit toelaat dat daar met sonde gespeel word nie, want ons is bewus dat enige sonde die potensiaal het om die kerk te verwoes. Verder weet die kerk ook dat God ’n ongehoorsame kerk se lig in die wêreld sal wegneem, net soos wat Hy die Efesiër gemeente gewaarsku het in Openbaring. Openbaring 2:5  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. 

Enige iemand wat in ’n gemeente is waar erns met die woord gemaak word, het al deur ’n proses van teregwysing en dalk uiteindelike tug aksie gegaan. Dit is nooit maklik nie en is altyd pynlik vir almal wat betrokke is. Pyn is iets waarvoor ons die Here kan dank, want dit dien as ’n waarskuwing. Melaatsheid is ’n siekte waar mense geen pyn kan ervaar nie en mense verloor op die ou einde gesonde ledemate omdat hulle nie kan voel wanneer hulle seerkry en dit dan kan versorg nie. Dit is pynlik om ‘n wond te ontsmet of ’n kanker weg te sny, maar dit is nodig om te bly lewe. Net so is dit ook vir elke kerk wat wil Lewe.

Samekoms van die gemeente

Die belydenis stel dit ook baie duidelik dat die gelowige die eredienste moet bywoon al is dit in stryd  met regerings of met die wette van regeerders. Die kerk staan nooit onder die regering van enige land nie. Gelowiges deur die eeue is gemartel en baie is doodgemaak omdat hulle meer gehoorsaam was aan God se opdrag as die van die regering. Hiervan is Paulus en Silas ook beskuldig. Handelinge 17:7 En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus. Die kerk gehoorsaam die regering in soverre die regering optree in ooreenstemming met die Woord. Die moment as die regering enige iets wat is stryd is met die Woord van die gelowige vereis moet die gelowige met respek dit van die hand wys. Die gelowige weet dat hy/sy afhanklik is van die plaaslike gemeente en dat hy die eredienste moet bywoon vir sy eie geestelike behoud. Hebreërs 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 

Is die bywoning van die eredienste eerste op jou prioriteitslys of is dit iets wat jy vinnig sal aanpas as enige iets anders voorval. As jy besoekers ontvang is jy maar te gewillig om nie die erediens by te woon nie en maak maklik verskonings soos: “Ek moes vir my gaste kos maak” of “Ek kon nie ongeskik wees om hulle alleen by die huis te los nie.” Daar is sekerlik tye waar die spreekwoordelike “kalf in die put” is, maar met alle eerlikheid is hierdie tye min en word enige onbenulligheid deesdae as ‘n “kalf” gesien. Met my optrede getuig ek aan ander en my eie gesin dat die Here se dinge nie eerste op my prioriteitslys is nie. Jy kan voor mense bely dat die Here die belangrikste in jou lewe is, maar jou dade getuig baie harder as jou woorde. Wees verseker dat jou kinders ook nie die dinge van die Here eerste gaan stel nie. Party gebruik hulle gesondheid as rede vir hulle afwesigheid van eredienste. Hierdie verskoning gaan my verstand te bowe. Met ons monde bely ons dat die Een wat ons oproep om eredienste by te woon, die Een is van wie ons afhanklik is vir ons gesondheid en lewe en tog gaan ons, in stryd met sy vereiste, nie na die plaaslike eredienste nie. Hier praat ek nie van iemand wat ’n siekte het waarmee hy ander kan aansteek nie. Daar was ’n oom in ’n gemeente waar ek was wat, te midde van baie pyn, en vir ’n lang periode op morfien, elke Sondag meer as 40 km gery het om die eredienste by te woon.

Slot

“Geen kerk is perfek nie, want jy behoort daaraan.” Die meeste mense gebruik hul soeke na die “regte” kerk as ’n verskoning om nêrens in te skakel nie. Daar bestaan nie ’n perfekte kerk nie, want daar bestaan nie perfekte mense nie – net mense wat in hul gebrokenheid, met God se genade, in liefde, Jesus Christus wil dien. In enige familie is daar konflik, misverstande en soms sommer net kwaadwilligheid, afguns en jaloesie. Daar is egter ook liefde en vreugde en wedersydse omgee, respek en ondersteuning. As jy kies om van die een weg te vlug gaan jy die ander ook mis. Jy het egter nie hierin die opsie om die voor en nadele teen mekaar op te weeg nie, want as jy in alle eerlikheid aan God gehoorsaam wil lewe, moet jy erken dat God jou beveel om jouself deel te maak van sy bruid. Jy kan nie sê dat jy Christus lief het, maar jy het nie sy bruid lief of is deel van sy bruid nie.