Artikel 27 DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK

Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ‘n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot `n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Inleiding

Voordat ons enigsins verder gaan is dit belangrik dat elkeen weet dat “katolieke” per definisie beteken “algemene.”  Wanneer ons dus ‘n algemene of katolieke kerk bely, bely ons dat die plaaslike kerk waaraan ’n persoon behoort nie Kerk op sy eie is nie. In elke kerk is daar mense wat waarlik gelowiges is en mense wat voorgee. Diegene wat ware gelowiges is behoort saam met gelowiges uit alle eeue aan die Kerk van Christus, die bruid wat Hy gaan kom haal. Diegene wat egter net elke Sondag die stoele warm sit, sonder enige verhouding met Jesus Christus as hul Verlosser, behoort slegs aan die plaaslike kerk. Die kerk mag dalk aan individue ‘n tydelike sin van gemeenskap en samesyn bied en jy mag dalk ‘n lidmaat op die boeke wees, maar jou lidmaatskap van die ware Kerk van Christus is nie met papier op ‘n kerkregister geskryf nie. Dit word geskryf deur God in die Boek van die Lewe, waarin slegs kinders van die Here se name verskyn. Ons gaan in hierdie inskrywing deurgaans praat van die ware Kerk van Christus deur dit met ‘n hoofletter te skryf, terwyl die aardse instansie van kerk, met ‘n kleinletter geskryf gaan word.

Wie behoort aan die Kerk

Slegs Goddelike mense behoort aan die ware Kerk. Die Kerk bestaan deur al die eeue en oor alle grense en lande. Die gelowige kan nooit los van mense uit alle tale en nasies en volke dink aan die Kerk nie. As daar ’n lied in die Hemel tot eer van die Lam gesing word, word Hy geprys omdat Hy mense uit alle volke gered het. Openbaring 5:9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie. Ons, as gelowiges, behoort aan ‘n familie wat strek oor eeue en strek oor landsgrense. Daar is ’n diversiteit van mense en tog is hulle broers en susters van mekaar met een Vader. As die gelowige na ’n erediens gaan behoort hy/sy altyd terdeë bewus daarvan te wees dat hy/sy sy mede broers en susters sal sien. Hierdie broers en susters is nader aan hom/haar as enige aardse familie. In Jesus se bediening het daar op ’n stadium mense by Jesus gekom en Hom ingelig dat sy familie buite was. Mattheus 12:47 Toe sê iemand vir Hom: Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat. Jesus se antwoord op hierdie stelling was soos volg:” Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder. Mattheus 12:48-50. Hoe tragies is dit nie dat meeste mense wat eredienste bywoon nie besef dat hulle hul bevind tussen familie nie.

Hoekom aan ‘n plaaslike kerk behoort?

Ons het mense nodig. Fisies en geestelik word ons gevorm en geslyp deur interaksie met ander. Soms is dit negatief en soms positief, maar dit veroorsaak groei. Met die Covid pandemie het baie mense geïsoleerd geraak en moes mense noodgedwonge op hul eie oor die weg kom. Baie mense het die gesonde interaksie met ander gelowiges verruil vir ‘n boodskap op YouTube. Om na die Woord te luister is maar een gedeelte van Kerk wees. Kerk van Christus beteken jy is deel van Sy liggaam. ‘n Liggaam wat gesond is versorg en gee om vir elke deel daarvan. Indien een liggaamsdeel pyn, ervaar die hele liggaam pyn. 1Korintiers 12:26  En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Jy ervaar baie min pyn as jy op jou bed lê, met ‘n koppie koffie en preek luister. Dalk is dit wat jy verkies, maar jy moet ook besef die ander kant van hierdie muntstuk is dat jy ook min vreugde ervaar, omdat jy nie saam met ander kan lag en in hul vreugdes kan deel nie. Net so ervaar jy geen vertroosting en versorging wanneer jy dalk die liggaamsdeel is wat swak is en hulp nodig het nie. Jou Kerk familie het jou nodig en jy vir hulle. Dit is onmoontlik dat ons in ’n verhouding met elkeen in die Kerk kan staan. Ons leef kontinente uitmekaar, maar ons kan wel in die plaaslike gemeentes ware Christen verhoudings ervaar.

Hoe hanteer ek familie

Daar is baie redes waarom mense nie voel asof hulle tussen familie is wanneer hulle eredienste bywoon nie. Soos altyd lê die fout nie altyd by die gemeente nie, maar soms ook by die individu. Daar is ‘n opdrag aan elke gelowige in die gemeente om te sorg dat hulle die karakter van familie wees openbaar teenoor elke lidmaat. Ons het almal verskillende karakter eienskappe en persoonlikhede en net soos in enige familie is daar soms konflik en frustrasies. Hoe nouer mens met ander saamleef hoe groter lyk hul foute. Onthou egter, joune is vir ander net so sigbaar!

Baie mense hanteer hul geestelike broers en susters op maniere wat hulle nooit hulle bloedfamilie sal hanteer nie. Het jy hulle lief? Stel jy belang in hulle? Daar is geen manier dat ons met alle gelowiges in ’n verhouding kan staan nie, maar in die plaaslike gemeente is dit ’n vereiste. 1Johannes 5:1  Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. Het jy ander gelowiges lief? Natuurlik moet ek ook omgee en bid vir die gelowiges, my broers en susters wat fisies vêr van my verwyder is. Ek moet bewus wees van wat met die Kerk aan die gang is, waar vervolging is en waar ons as plaaslike gemeente kan help en betrokke kan raak. Saam moet ons bid vir die predikante wat in die tronk sit en vir hul familie, vir die leiers van kerke in China wat die afgelope tyd gearresteer is en gelowiges wat in Noord-Afrika en Noord-Korea en ander areas vervolg word. Die gelowige kan hom/haarself nooit as ’n eiland sien nie. Dit gaan nie net oor my en wat ek wil hê en wat my gelukkig maak nie, maar hoe God wil hê dat ek die Kerk en kerk tot diens kan wees in my lewe.

Liggaam van Christus

Die Kerk is die liggaam van Christus. Ons as gelowiges vorm nou saam die Tempel van God. 1Korintiers 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? Elke gelowige op sy eie en gesamentlik vorm die Tempel van God. Omdat Hy hierdie Tempel opgerig het deur Sy lewe aan die kruis te gee, kan ons verseker weet dat hierdie Tempel sal bly staan tot die dag van Sy wederkoms. Hiervan gee Jesus ook versekering aan Sy volgelinge. Mattheus 16:18  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Mattheus 10:22  En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. Ons word as Kerk nie belowe dat ons nie vervolg sal word, of dat die wêreld en die bose magte ons nie sal aanval en probeer verwoes nie. Nee, ons word wel belowe dat Hy met ons sal wees. Mattheus 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Verder word ons belowe dat Hy ons die krag sal gee om staande te bly ten spyte van die velle aanvalle van die Satan. 1Korintiers 10:13  Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. 

Die Kerk sal geestelike groei en vermeerder ten spyte van vervolging. Om die waarheid te sê die Kerk groei die beste tydens intense vervolging. Die vroeë Kerk het te reg bely: Die bloed van die martelare is die saad van die evangelie. Jesus vertel die gelykenis van die suurdeeg wat in die meel ingewerk word “totdat dit heeltemal ingesuur is”. Mattheus 13:33. Tog moet ons nooit die idee kry dat die gelowiges ooit die meerderheid in die wêreld sal wees nie. Baie keer kry ons statistieke van die kerk oor die wêreld en die getalle is meer as ’n duisend miljoen. In Suid-Afrika word geraam dat daar nagenoeg 80% Christene in ons land is. Hier kan ek onomwonde sê dat ek nie eers dink dat die persentasie 1% is nie. Die Bybel leer ons dat die wat gered word min sal wees. In Lukas word  Jesus gekonfronteer met die vraag of die wat gered word min is. Luister na Jesus se antwoord. Lukas 13:24  Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie. 

Slot

Ons is die Kerk. Die Tempel van God waar die wêreld Jesus moet kan sien en vind. Die gelowige weet dat dit alleen die werk van die Heilige Gees is waardeur mense gered kan word en daarom gaan hy/sy die wêreld in en verkondig die evangelie, die blye boodskap, van Christus se verlossing. So het God deur alle eeue en oor alle grense gelowiges gebruik, as instrumente in sy hande, om Sy Kerk uit te brei. Ons taak is om die wêreld rondom ons op te roep tot bekering. Dat hulle hul vertroue in Christus moet plaas. Handelinge 2:21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Ons taak is om na mekaar om te sien, vir mekaar te bid en mekaar se laste te dra. Ons is broers en susters. Kom ons leef dit!