Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ‘n mens en van ‘n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Fil. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na ‘n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk. Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel – wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem – dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: ‘Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word’ (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: ‘Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus … laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid…’ (Heb. 10:19, 22). En voorts: ‘maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree’ (Heb. 7:24- 25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6)? Waarom sou ons ‘n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om ‘n ander een te neem of liewer ‘n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23).
Inleiding
Die feit dat Christus ons voorspraak is, word in hierdie Artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis behandel, omdat mense gesukkel het met die gedagte dat hulle tot God kan nader. Mense het gevoel dat Christus te verhewe bo hulle was en dat hulle nie waardig genoeg was om enigsins, selfs deur middel van Christus, tot God te nader nie. Dit is dan ook waarom die Katolieke Kerk gedwaal het en gewone mense as Heiliges verklaar het waardeur mense na Christus toe kan kom. Die belydenis wil dit egter aan elke gelowige duidelik maak, dat dit Christus en Hy alleen is en dat Hy mens geword het reeds om daardie rede, sodat ons deur Hom na God kan kom.
Dit is egter duidelik dat daar ’n klemverskuiwing plaasgevind het en vandag ondervind ons eerder die probleem dat mense “te ligsinnig” tot God nader. Om dus waarlik te besef hoe wonderlik Christus as voorspraak tot God vir ons is, moet ons weer herbesin oor wie ons is en wie God is.
Wie is God
Miskien is een van ons grootste probleme vandag dat ons geen begrip meer het van wie God is en wie ons is nie. Selfs in kerke kry ons ’n ongesonde “oor” gemaklikheid waarmee mense met God omgaan asof Hy hulle “buddy” is. Daarom is die gedagte dat Christus vir ons intree by God nie vir ons wonderlik nie. Die meeste het die idee dat hulle sonder enige voorspraak met God ’n gesprek sou kon voer en sommige voel selfs geregtig om hul vuiste teen God te bal.
Die verhaal van Ester in die Ou Testament illustreer hierdie ontsag en vrees wat ons vir God behoort te hê, wanneer sy namens haar volk, sonder toestemming, voor ’n aardse koning moes verskyn. Ester moet gaan intree vir haar volk voor haar man, die Koning. Haman, een van die amptenare van die koning, het ’n komplot teen die Jode beraam en wou hê dat al die Jode doodgemaak moet word. Mordegai, Ester se oom, nader haar om vir die volk te gaan intree voor die koning. Hierin sou Ester dan ook ’n tipe van Christus wees wat namens die volk voor Sy Vader sou gaan intree. Luister hoe Ester die gewigtigheid van so ’n taak aan Mordegai beskryf: Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie. Ester 4:11. As dit is wat dit beteken om voor ’n aardse koning jou verskyning te maak hoe sou enige iemand voor ’n Heilige God kon verskyn? Sê die Skrif nie tereg dat enige iemand wat God sou sien sou sterf nie? Eksodus.33:20 Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.
Wie kan voor God verskyn?
Die Psalmdigter vra in Psalm 15 wie mag woon op U Heilige berg en dan word die vraag beantwoord met ’n aantal vereistes. Die oomblik as ons die vereistes lees behoort elke individu uit te roep: waar sal ons so ’n persoon vind? Die eerste vereiste is dat hy opreg moet wandel, verder geregtigheid doen en met sy hele hart die waarheid spreek. Ons hoef nie eers verder te gaan nie. Wie wandel altyd opreg? Wie doen altyd geregtigheid of anders gestel altyd dit wat reg is voor God? Is daar iemand wat ter alle tye die waarheid spreek? Verstaan ons God se vereistes? Kan iemand waag om voor God te verskyn? Die Skrif leer ons dat Een daar kon ingaan. Hebreërs 9:24 Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.
Nie net was Ester ’n tipe van Christus wat vir die volk of mense moes intree nie, maar deur die Ou Testament gebruik God profete om tussen God en mens te verskyn en in te tree as ’n heenwysing na die Een wat in volmaaktheid dit sou kon doen. Hier is enkele voorbeelde:
Abraham wat God vra om nie Sodom en Gomorra te verwoes as daar regverdiges gevind word nie. Hy begin vra dat indien vyftig regverdiges gevind kon word God nie die plek moet verwoes nie en hy eindig sy versoek met indien daar tien regverdiges gevind kan word God nie die plek sal verwoes nie.
Moses tree ook herhaaldelik vir die volk in. Met die sonde van die volk, toe hulle die goue kalf aanbid het, pleit Moses vir die volk: … Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! Eksodus 32:31-32. Christus sou alles opgee en Homself verneder om die gestalte van ’n dienskneg aan te neem sodat ons verlos kan word.
Net so sal ons ook na ’n aantal profete kan wys wat op soortgelyke wyse vir die volk ingetree het by God. Hulle was slegs tipes van Christus, wat nooit werklik op gelyke vlak met God sou kon staan en sonder enige sonde vir ander sou kon intree nie. Job sou tereg vra “Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan ‘n mens regverdig wees by God? As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie.” Job 9:2-3. As gevolg hiervan bely Job verder dat Hy nooit met God na die gereg kan gaan nie. Sy begeerte dat daar een sal wees wat skeidsregter sal wees tussen hom en God. Job 9:33 Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie. Vanuit die Nuwe Testament kan ons nou vir Job sê dat sy wens waar geword het. Christus het as die volmaakte seun van God, ja ware mens en ware God, sy plek as voorspraak tussen ons en God ingeneem. Nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan en wandel in die teenwoordigheid van God en Hy kom wandel met ons. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kan na die Vader kom sonder Hom nie.
In Jesus Naam
Die Woord van God sê nie net dat ons nou deur Jesus Christus tot God kan nader nie, maar moedig ons ook aan om dit te doen. Ons weet dat Jesus ons swakhede verstaan en medelye met ons het en daarom kan ons met vrymoedigheid na Hom toe gaan. Dit is wat God wil hê. Dit is die gemeenskap met God waarna elke gelowige smag. Tog het sommige mense die naam van Jesus as een of ander magiese towersleutel begin bemark asof ons slegs deur die gebruik van die woord Jesus kan kry net wat ons harte begeer.
Die Woord leer ons dat enige iets wat ons die Vader in Jesus se naam vra aan ons gegee sal word. As ek dus bid vir rykdom en gesondheid in Jesus Naam dan sal God die Vader verplig wees om dit aan my te gee. Is dit waar? Kom ons kyk eerstens na wat Jakobus ons leer aangaande die verkeerde manier van bid. Jakobus 4:2-3 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. Waarom ontvang mense nie as hulle bid nie? Wel, Jakobus sê ons ontvang nie, omdat ons verkeerd bid. Ons bid verkeerd die oomblik as ons ons vleeslike begeertes wil bevredig. Dink ons vir een oomblik dat God vir ons, as ons Vader wat ons lief het, iets sal gee wat ons liefde van Hom sal wegneem na iets aards. God openbaar aan die Israeliete dat een van sy eienskappe is dat Hy ’n jaloerse God is. Hy is nie ’n God wat Sy kinders met enige iets anders gaan deel nie. Hy gaan nie toelaat dat enige iets anders in jou lewe belangriker as Hy word nie. Net twee verse later sê Jakobus “Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?” Jakobus 4:5.
In Lukas word aan ons bevestig dat God ons gebede beantwoord as Jesus aan sy volgelinge sê dat “elkeen wat bid ontvang.” Lukas 11:10. Hy gaan vêrder om aan hulle te verduidelik dat ’n Vader nie slegte dinge vir sy kinders sal gee nie en sluit die gesprek af met die volgende woorde: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” Dit word dus tweedens vir ons duidelik dat God se begeerte is dat ons gevul sal word met die Heilige Gees. Om in Jesus se Naam te vra beteken dus om te vra in ooreenstemming met wie Hy is. As ek iets vra in Jesus Christus se naam vra ek dit wat Sy begeerte is vir my lewe. Die gelowige se grootste begeerte is om in ons wandel minder te word sodat Hy meer kan word. Johannes 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder. Ek wil sterwe sodat ek meer en meer soos Hy kan lyk. Kolossense 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.
Slot
In Jesus Christus het ons toegang tot God die Vader. In ons gebede bid ons tot God die Vader, in die Naam van Jesus Christus, omdat dit die Naam is waardeur ons gered en verlos is. Dit is die Naam wat ons definieer as kinders van God. Dit is die Naam wat ons verander om elke dag meer en meer aan Hom gelyk te word. Dit is die Naam wat my nie net toegang gee tot God die Vader nie, maar my ook aanmoedig en uitnooi om dit met oorgawe en volkome vertroue te doen. Die naam is nie ‘n towerwoord nie, maar ‘n Persoon, Jesus Christus, met wie ek ’n verhouding kan hê, wat ek Vriend, Verlosser, Koning en God kan noem.
‘Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus … laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid…’ (Heb. 10:19, 22).
