Artikel 25 DIE SEREMONIEëLE WET IN CHRISTUS VERVUL

Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Inleiding

In die Ou Testament is daar ’n hele aantal wette wat te make het met reiniging, dae, offers en dieet regulasies. Al hierdie seremoniële wette was ’n heenwysing na Christus. Kolossense 2:16-17  Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. Kom ons neem voorbeelde uit elke groep en verduidelik hoe dit heengewys het na Christus.

Reinigingswette:

Alles wat in die tempel gebruik was moes heilig wees. Gestel twee identiese vurke word deur ’n vakman gemaak. Die een vurk word in iemand se kombuis gebruik, terwyl die ander een gebruik word in die Here se tempel. Die een vurk is nou heilig, terwyl die ander vurk, wel, net ‘n gewone vurk bly. Hoekom is die een heilig en die ander een nie, as hulle dan presies dieselfde is en deur dieselfde vakman gemaak is? Die enigste verskil sou wees dat die gereedskap gereinig sou word deur die priester vir spesifieke gebruik en daarom geheilig is. Dit wys natuurlik heen na Christus wat ons sou reinig om die heilige werk, waartoe Hy ons geroep het, te volbring. Luister hoe Efesiërs dit stel: Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efesiërs 2:10. God maak ons in Christus dit wat ons moet wees, sodat Hy ons kan gebruik vir die taak wat Hy vir ons voorberei het. Dit is nie die gereedskap wat iets is nie, maar die God wat die gereedskap kies vir ’n goddelike werk. Hoe versterk hierdie seremonie nie die gelowige se geloof in God as hy/sy dit lees nie?

Is dit nog enigsins nodig om voorwerpe te reinig? Nee beslis nie. Die heiliges is nou die gelowiges en ons is nou die Tempel van die lewende God wat in ons woning kom maak het. 1Korintiers 6:19-20  Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort

Dae

Ek is seker daar is ‘n paar seremoniële dae waar u onmiddellik die heenwysing na Christus kan raaksien. Pinksterdag of die dag wat die eerste vrugte vir God gebring moes word, is so ‘n dag.  Hierdie dag word vervul met die uitstorting van die Heilige Gees, toe die eerste 3000 mense ingesamel is deur die Heilige Gees as ’n offer vir God. Paulus vertel ook in Romeine hoe sy werk as evangelis onder die heidene veroorsaak het dat hulle lewens ’n offer is wat geheilig is deur die Heilige Gees. Romeine 15:16  om ‘n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ‘n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees.

Die dag wat sekerlik baie kontroversie onder Christene veroorsaak is die Sabbatdag. Die Sabbatdag is vervul in Christus. Christus het die rus tussen ons en God bewerk en daarom is elke gelowige reeds in die Sabbatrus. Nie net het ons Sy rus hier op aarde ingegaan omdat die wraak van God deur Christus vir ons gedra is nie, maar ons sien ook uit na die ewige rus wat Christus vir ons bewerk het deur Sy verlossing aan die kruis.

Die huttefees was die herdenking van die Jode se tog deur die woestyn. In Jesus se tyd sou die priester water uit die rivier opdra na die tempel terwyl die mense hom vanaf die rivier na die tempel volg. Hy het dan die water op die altaar uitgegooi. Op hierdie dag roep Jesus die volgende uit: En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Johannes 7:37-39. Hy is die lewende water wat alleen ons dors kan les in die woestyn waarin ons ons bevind.

Bogenoemde is slegs enkele dae as voorbeeld van hoe dit in Christus vervul is. Die belangrike is om te besef is dat elke dag nou vir die gelowige belangrik is. Ons moet elke dag voluit leef tot eer van God.

Offers:

Elke offer aan God in die Ou Verbond is vervul deur die volmaakte offer wat vir ons almal geoffer is, nl. Christus Jesus. Daar is soveel voor die hand liggende voorbeelde van hierdie vervulling dat ek graag in hierdie inskrywing wil verwys na minder bekende voorbeelde. Hierdie is vir my telkens ‘n bewys van hoe alles in die Ou Testament wys op Christus wat as volmaakte offer in ons plek sou sterf.

Die aankondiging van Simson se geboorte aan sy ouers is ‘n ongelooflike illustrasie van die vervulling van offers wat deur Christus sou plaasvind. Manoag en sy vrou ontvang die boodskap dat sy sal swanger word. Die Engel van die Here in die Ou Testament was die verskyning van die tweede persoon van die Drie-eenheid, Christus self. Dit word ook bevestig as Manoag later vrees dat hulle sou sterf omdat hulle God gesien het. Rigters 13:22 En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het. Hulle bring dan ’n offer aan God en dan gebeur die volgende: “toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.” Johnathan Edwards skrywe dat Christus opgaan in die offer as bewys dat Hy alleen die ware offer is wat geoffer sou word vir God as ’n soet aroma in die vuur van Sy wraak.

Baie van ons het al die aaklige verhaal in Rigters gelees van die Leviet wat toegelaat het dat die mense van ‘n dorp in die stamgebied van Benjamin sy byvrou mishandel en verkrag tot haar dood toe. Die verhaal begin as ’n Leviet sy byvrou gaan soek wat by hom gehoereer en dan weggegaan het om by haar pa te gaan bly. Hy vind haar dan en op pad terug huis toe word dit laat en hy besluit om te oornag in ’n sekere dorp. Hier gee ’n ou man vir hom huisvesting. Laat die aand kom die manne van die dorp, omsingel die huis en vra dat die Leviet na hulle uitgestuur word, sodat hulle met hom seks kan hê. Die ou man pleit by hulle, maar niks help nie. Die Leviet gryp dan sy byvrou en stoot haar na buite. Sy word die hele nag mishandel deur die manne van die dorp. Die volgende môre sê die Leviet vir haar om op te staan en dan vind hy dat sy dood is.

Wat ’n aaklige verhaal!? Ons kan nie glo dat mense so wreed kan wees nie en dat ‘n man so gevoelloos teenoor sy vrou kan optree nie. Hoe kan ons enige iets positiefs in hierdie verhaal vind? Dit is ’n toonbeeld van Israel se absolute immoraliteit. Hoe wys dit na Christus? Wel, die Bybel leer ons dat Christus die bruidegom is en die gelowiges sy bruid. Die volk van God, net soos die Leviet se byvrou, het gehoereer en weggevlug van die bruidegom. Ons kan redeneer dat die Leviet die reg gehad het om toe te laat dat haar eie sonde haar so verniel. Die verhaal is egter ‘n sterk teenstelling met die genade wat ons, as sondige bruid, van ons bruidegom, Christus, ontvang. Net soos die Leviet, het Jesus sy bruid kom soek, maar inplaas daarvan om toe te laat dat die sonde haar mishandel en verniel, gaan ons bruidegom, Christus, self na buite en lê sy lewe af vir Sy bruid. Hy word mishandel en doodgemaak aan die kruis. Christus word as voorbeeld gebruik deur Paulus vir hoe mans hulle vroue moes behandel. Efesiêrs 5:25-27  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. 

Christus word gevind oral in die Ou Testament.

Dieet wette.

Voor die wet nog daar was, was daar alreeds rein en onrein diere. Sekere kossoorte wat rein was en ander wat onrein was. Die voorbereiding van voedsel en die persoonlike reiniging wat moes plaasvind voor iemand kon eet was alles deel van die proses om rein te bly. Jesus vertel die mense dat dit nie is wat by die maag ingaan wat die mens onrein maak nie, maar dit wat by die mond uitgaan wat mense onrein maak. Paulus bevestig dit wat Jesus gesê het deur aan Timotheus te skrywe en sê: alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed. 1Timotheus 4:4-5. Alle reiniging was ’n heenwysing na Hom wat mense sou kom rein maak deur sy kruisiging. Ons is dus nou rein nie opgrond van wat ons gedoen het nie, maar a.g.v. dit wat God in ons kom doen het. Die dieet van die Israeliete het hulle afgesonder van ander volke. Hierdie afsondering word nou deur Christus gedoen wat in elke gelowige kom woon. Ons is anders/afgesonder nie meer oor wat ons eet en drink nie, ons is rein, nie meer deur al die reinigingsgebruike nie, maar deur Jesus Christus wat dit deur die afwassing van ons sonde en die inwoning van sy Gees bewerkstellig.

Luister wat sê God se Woord in Romeine. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Romeine 10:4. Daar is geen geregtigheid wat ek op my eie kan bewerk nie. Daar is niks wat ek kan doen nie. Christus het die wet volkome vervul in elke jota en tittel.

Slot

In die Ou Verbond is die volk van God slegs aanneemlik indien hulle Heilig en rein voor God kon verskyn. Hierdie taak was nimmereindigend. Die seremoniële wette en reinigingswette moes vir elke lid van God se volk ‘n konstante herinnering wees van hoe Heilig en ontoereikend God is. Daar was geen manier waarop hulle dit in hulself kon volhou nie. Elke priester moes na elke dag van offers bring, sekerlik gehoop het op die dag waar dit nie meer nodig sou wees nie, die dag wat voorspel is en waarna elke Jood moes uitsien, die dag van die verlossing van sonde en versoening met God. Jesus is die vervulling van elke offer en elke reinigingswet. Nooit weer hoef ek met uiterlike dinge te probeer om myself voor God te heilig en te reinig nie. Hy kom doen dit vir my. Hy kom reinig my vir ewig en altyd deur Sy bloed en Hy kom maak my heilig deur in my te kom woon. Hy kom sonder my af vir spesiale gebruik, daarom sal ek my lewe gebruik in alle eerbaarheid tot eer van God om dit volgens Sy wil in te rig.

Hy is die bron van alle krag.

Lewer kommentaar