Artikel 24 ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het. Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is. Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer. Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: `…wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen’ (Luk. 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Inleiding

Wat onderskei die Christelike geloof van so baie ander gelowe? Ons hoor so baie van die goeie morele wette wat mense van ander gelowe nakom. Die Bybel sê dat daar niks goed in onsself is nie, so hoe kan so baie mense sulke oënskynlike goeie dinge doen, terwyl hulle heeltemal anders as ons glo? Hulle doen dit uit liefde vir “Self” en vrees vir straf. Christene doen goeie dinge uit dankbaarheid en liefde vir God. Die motief waarom jy die goeie doen bepaal dus of dit werklik goed is of nie. Indien jy sout eet, sal jy dors word en water drink. Net so, indien jy die ware geloof as geskenk van God ontvang het, sal jy dors daarna om te doen dit wat reg is. En dit wat reg is, is dit wat God verheerlik en Hom bly maak. Die oorsaak en gevolg van geloof is dus onlosmaaklik.

Vryheid teenoor losbandigheid

Baie mense as hulle hoor dat ons geregverdig word deur Christus se sterwe aan die kruis en dat sy geregtigheid op ons oorgedra word, vra vinnig of hierdie tipe geloof nie sal lei tot gelowiges wat hul vryheid sal misbruik om losbandig te lewe nie. Dit skep onmiddellik die idee dat gelowiges slegs gehoorsaam aan God se Woord sal leef as hulle glo dat hul redding afhanklik is van hulle gehoorsaamheid. Baie Rooms-Katolieke deur die eeue het geleer dat mense nooit verseker moet wees van hulle redding nie anders sal hulle nie aanhou werk vir hulle redding nie. Twyfel in jou saligheid is dus ’n baie goeie plek om te wees. Is die Rooms-Katolieke kerk hierin verkeerd? Ja en dit omdat hulle van die staanspoor uitgaan dat dit wat jy doen jou wel kan red. Daar is dus geen vreugde of vrede in hierdie lewe nie, want daar is vrees en onsekerheid al doen jy ook wat.

Hulle is egter reg in die feit dat slegs diegene wat aan God gehoorsaam is gered sal word. Is ons in alles gehoorsaam? Nee, maar Christus was en die Woord is hieroor duidelik – Jesus Christus se gehoorsaamheid word nou my gehoorsaamheid, nie net simbolies nie, maar dit word ‘n realiteit in my lewe deurdat die Heilige Gees my dring om ook in my daaglikse handel en wandel gehoorsaam aan God se Woord te lewe. Indien hierdie transformasie nie in my lewe ‘n werklikheid is nie, is ek nie waarlik gered nie.

Geloof en werke

Dit is die vraag wat met reg gevra word in  Jakobus 2:17  Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Jesus verduidelik dit  deur gelykenisse as hy sê dat ’n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie en ’n slegte boom nie goeie vrugte kan dra nie. Met wedergeboorte word ons ingeplant in die goeie boom, Jesus Christus. Johannes 15:5  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Ons kan dus geen vrug dra sonder Hom wat die lewensap deur ons are laat vloei nie. Dit wat God in ons lewens kom doen, is om ons nuut te kom maak. Elke dag is daar ’n groei in my lewe wat teweeggebring word deur die werking van die Heilige Gees. Filippense 2:13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Die Heilige Gees veroorsaak eerstens in my lewe dat ek nou dit wil doen wat ek nie vroeër wou doen nie. Jesus vertel die gelykenis van die vader wat ’n opdrag vir sy twee seuns gegee het. Die tweede een het die regte antwoord gegee, nl. dat hy in die wingerd sou gaan werk en tog het hy nie gegaan nie. Die eerste het eers “Nee” geantwoord, maar later berou gehad en toe wel in die wingerd gaan werk. Jesus se vraag is dan aan die wat luister “Wie van die twee het die wil van die vader gedoen?” Mattheus 21:31.

Oordeel ander se vrug

Die tweede gedagte is nie net gee die Heilige Gees my die begeerte om aan God gehoorsaam te wees nie, maar hy stel my ook in staat om die vrug te dra wat God van my vra. Daarom word ons opgeroep om mense se geloof te toets op grond van hulle vrug. So baie keer hoor ek mense hierdie teksvers gebruik om diegene wat ander aanspreek oor hul sonde tereg te wys. Hierdie teksvers is dan ook baie bekend aan die meeste ongelowiges vandag. Mattheus 7:1 Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Hierdie teksvers het egter te make met mense wat verkeerde dinge doen en ander oordeel asof hulle self dit nie doen nie. Dit is dus van toepassing op mense wat huigelaars is. Daarom sê Jesus net verder “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.” Mattheus 7:5. Net vêrder in dieselfde hoofstuk sê Jesus dat ’n boom aan sy vrugte geken sal word. Hy roep gelowiges dan ook op om mense te onderskei aan die vrug wat hulle dra om te sien of hulle sy volgelinge is of roofsugtige wolwe.

Nuwe mense

Paulus roep die Korintiër gemeente op om die slegte mense uit die kerk te verwyder. 1Korintiers 5:13  Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit. In Hoofstuk 6 noem Paulus verskillende sondes wat sal veroorsaak dat mense nie die koninkryk sal beërwe nie en net daarna gee hy hierdie wonderlike belydenis “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” 1Korintiers 6:11. God verander mense. In die Korintiër gemeente was mense wat “hoereerders, afgodedienaars, egbrekers, wellustelinge, sodomiete, diewe, gierigaards, dronkaards, kwaadsprekers en rowers” was. Hierdie mense het almal weggedraai van hierdie goddelose lewens. Watter wonderlike getuienis van die werking van die Heilige Gees wat sondaars nuut kan maak en transformeer. Die metafoor van die metamorfose van ’n wurm na ’n skoenlapper is gepas. Nie net is ons verander nie, maar ook ons kos is nie meer dieselfde nie. Ons dieet is verander en ons soek na die lewensap van die Woord wat al is wat ons kan voed. Daar is altyd hierdie belydenis dat ek nie is wat ek gister was nie, maar ook nie is wat ek behoort te wees nie. Die Heilige Gees sal elke dag nog aanhou om my te vernuwe en te verander.

Ek roem in Christus

Dit is tog belangrik om aan mekaar te bely dat hierdie dade wat ek doen nooit my redding teweeg bring nie. Ek is gered uit genade en dit alles is ’n werk van God. Hierdie goeie dade wat ek doen, is deurtrek van sonde en daarom kan dit nooit die hoop word waaraan ek vashou nie. As ek my hoop vir die ewige lewe in enige iets anders as in Christus plaas sal ek altyd gevul wees met twyfel. Ek sal altyd bewus wees van my te kortkominge en nooit in vreugde kan leef nie.

My dade kan nooit my roem word nie. 1Korintiers 4:7  Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?  Hierdie werke wat ek doen, is alleenlik moontlik omdat God dit in my lewe veroorsaak. God het dit voorberei. Efesiërs 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Om hierdie punt net verder te illustreer kan ons die gelykenis noem wat Jesus aan sy volgelinge vertel het aangaande slawe wat gedoen het wat hulle meester wou hê hulle moes doen. Die vraag is wat die eienaar vir hulle sal sê nadat hulle al hierdie werk gedoen het? Lukas 17:8-9  Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. Dan kom die toepassing van hierdie gelykenis. Lukas 17:10  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. Nooit kan ons dank verwag vir dit wat ons moes doen nie. Hierdie gedeelte weerspreek nie ander gedeeltes wat wel vir ons wys dat ons beloning vir ons dade sal ontvang nie, maar eerder dat ons nooit die gesindheid moet hê  dat ons dinge doen vir ’n beloning nie, maar omdat God dit van ons vra en omdat ons dankbaar is vir dit wat ons ontvang het.

Slot

My goeie dade wat ek op aarde doen, sal eendag beloon word. Romeine 2:6  wat elkeen sal vergeld na sy werke. Jesus se gelykenisse van die meester wat terugkom na sy reis en elke persoon beloon vir wat hy gedoen het wys ook duidelik dat daar ’n beloning sal wees. Lukas 19:17  En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. Hy was in die minste getrou, dit moet jou laat glimlag. Eendag sal ons take groot wees, sal ons groot verantwoordelikheid ontvang, maar nou word ons opgeroep om in die klein dinge getrou te wees.

Luister hoe stel Charles Wesley se vierde vers van sy lied “Can it be” hierdie proses in die gelowige se lewe:

Long my imprisoned spirit lay
Fast bound in sin and nature’s night;
Thine eye diffused a quick’ning ray,
I woke, the dungeon flamed with light;
My chains fell off, my heart was free;
I rose, went forth and followed Thee.