Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken. Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is. Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons – helaas! – verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: ‘En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor U aangesig regverdig nie’ (Ps. 143:2).
Inleiding
Ons sonde is vergewe en ons is regverdig vir God. Omdat ons so oulik is? Nee, omdat ons in Christus glo met ware geloof wat oorgaan in gehoorsaamheid. Is ons beter as ander omdat ons glo en hulle nie. Nee, ons het dit ontvang as ‘n gawe van God, nie uit verdienste nie, maar uit genade. Omdat God my lief het en my as Sy kind gekies het voordat ek nog besef het dat ek Hom nodig het. Wat ‘n blye boodskap! Tog is daar vele wat hierdie blydskap nie verstaan nie en tog voel hulle is baie gelukkig.
Ware geluk
Watter mense is waarlik gelukkig? Hoe lyk ’n mens wat gelukkig is? Jesus se prediking met die bergpredikasie wys wat ware geluk is en dit keer ons denke rakende geluk op sy kop. Niemand het deur alle eeue die dinge wat Jesus in Mattheus 5 noem beskou as maatstaf van geluk nie. Een van die kriteria vir ware geluk volgens Jesus, is om te honger en dors na geregtigheid. Mattheus 5:6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. Honger en dors is die mens se sterkste drange. Dit gaan gepaard met die drang na oorlewing. As jy honger en dors is, kan jy aan niks anders as kos en water dink nie. Jy het een begeerte en dit moet bevredig word. Hierdie drang is so erg dat indien dit nie bevredig word nie jy sal sterf. Geluk is nie ’n fisieke nood soos kos en water nie, maar dit is die sterkste emosionele nood van die mens. Soos wat kos en water die middele is waarmee honger en dors bevredig word, so is geregtigheid die middel waarmee geluk gevind word. Ware geluk – nie die wêreldse, tydelike geluk nie. Baie mense sal nie hiermee saamstem nie en sal ander middele opnoem soos liefde, sekuriteit, gesondheid, rykdom ens. Jy kan egter elkeen van laasgenoemde toets en kyk of dit waarlik kan bestaan sonder geregtigheid en jy sal vind dat elkeen daarsonder nie in sigself waarde het nie.
Die sterkste drang van iemand moet wees na geregtigheid, dit wil sê om te doen soos wat God beveel het in Sy Woord. Net mense wat hierna honger en dors sal versadig word. Jesus verklaar dat jy versadig sal word en daarom ware geluk sal ervaar.
Hoe sal my honger na geregtigheid bevredig word?
Die Woord leer my dat as ek honger na wat reg is, sal ek bevredig word en dus gelukkig wees. Dit is soos om vir iemand te sê dat hy sal kos kry as hy regtig honger is. Is dit omdat jy nou harder kos sal soek of harder daarvoor sal werk? Die vraag is dus hoe sal ek bevredig word? Is dit omdat ek nou as gevolg van my begeerte sal ophou om die verkeerde dinge te doen en daarom sal ek dit bekom waarna ek so smag? Anders gestel, sal ek iemand wees wat sonder enige sonde sal kan leef omdat ek hard genoeg sal probeer om reg te lewe? Is die Bybel nie duidelik dat al is ek ‘n gelowige ek nog steeds gaan sondig nie? Ja, daar is ’n stryd in die gelowige se lewe waarvan Paulus ook praat in Romeine. Romeine 7:15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. Ons kan nou redeneer dat hoe groter my behoefte aan geregtigheid is, hoe meer besef ek hoe vêr ek tekort skiet en hoe meer ongelukkig sal ek word. Hierdie stryd in my, hierdie honger na geregtigheid, sal dus veroorsaak dat ek my vreugde verloor. Dit sal waar wees indien die bevrediging vir jou honger in jouself gelê het, maar nou sê Jesus dat ons moet kom eet en drink van Hom – die brood van lewe is en die fontein van lewende water. In Hom vind ons die bevrediging vir ons honger na geregtigheid en omdat Hy die volmaakte gehoorsaamheid aan die Vader gehad het, word Sy gehoorsaamheid, my gehoorsaamheid en dus die bron van ware geluk.
‘n Skat met onmeetbare waarde
Hoe wonderlik is dit nie dat God verby my sonde kan kyk nie. Hoe wonderlik dat Hy net my goeie werke sal sien en al my sonde sal oorsien. Kan ons werklik so gelukkig wees? Dawid skryf in Psalm 32:2 van hierdie vreugde en geluk. Psalm 32:2 Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie. Paulus haal hierdie Psalm aan as sê: Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke. Romeine 4:6. Paulus gaan vêrder in die volgende twee verse en vertel van iemand wat werklik gelukkig kan wees. Romeine 4:7-8 Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie. Is dit nie die mees fantastiese gedagte nie? Vry van sonde. God gaan geen sonde van my aan my toereken nie. Elke persoon wat hierdie genade ontdek het vreugde wat niemand ooit van hulle kan wegneem nie. Hulle is soos die gelykenis van die man wat ’n skat ontdek en alles gaan verkoop om dit in die hande te kry. Mattheus 13:44 Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Hoe is sy emosionele toestand as hy alles gaan verkoop? Hy is gevul met blydskap. Niemand wat hierdie skat ontdek verlaat die wêreldse dinge met ’n hartseer nie. Saggeüs is ’n wonderlike voorbeeld van ’n man wat hierdie genade ontdek en ewe skielik is niks wat hy besit meer vir hom belangrik nie. Hy het die skat gekry. Watter vreugde. Ja, daar moet ’n honger en dors by die gelowige wees na geregtigheid, maar geregtigheid vind die gelowige nooit in hom/haarself nie. Die gelowige ontdek dat sy/haar totale redding buite hom/haarself is. Efesiërs 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. My redding is uit God en selfs my geloof is gebore uit God en kom nie vanuit myself nie.
Christus ons regverdiging
Aan die kruis het God wat die sonde nie kan oorsien of miskyk nie die wêreld met homself versoen. 2Korintiers 5:19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Hierdie verwysing na “wêreld” het nie te make met elke individu nie, anders sou dit beteken dat die hele wêreld gered is, maar dui op mense van elke stam en volk en taal en nasie. Johannes gebruik “wêreld” op dieselfde manier as hy skryf: En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 1Johannes 2:2. God het ons in Christus met homself versoen en al ons misdade is aan Christus toegereken en nie aan ons nie. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Hierdie versoening is die rus waarna die Hebreërs-skrywer verwys as hy sê dat ons nou in ‘n Sabbatsrus is. Daar is nou rus tussen God en mens en dit is moontlik gemaak deur Jesus Christus. Christus is ons regverdiging, want Hy is die regverdige. 1Johannes 2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.
Geen vrees meer
Sy lewe op aarde en Sy kruisdood tree vir ons in by die Vader. Elke oomblik as die Vader na ons kyk sien Hy die Seun wat in ons plek sonde geword het. Elke sonde van die gelowige is volledig betaal aan die kruis en ons staan sonder enige vlek of letsel van sonde voor die Vader. Kan enige iemand ’n beskuldiging teen die gelowige inbring? Sal iemand jou van enige oortreding kan beskuldig. Romeine 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Daarom kan daar nooit meer vrees vir straf wees nie. Ons vrees vir God is nie omdat ons vrees vir straf nie. Nee, ons vrees God omdat Hy groot en almagtig en Heilig is, maar ons vrees nie om voor Hom te wandel nie. 1Johannes 4:18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het volmaak geword in die liefde van Christus aan die kruis. Ons is vry van enige vooruitsig van straf. Ons is nie meer bang om na God toe te gaan nie. Hy is nou my Vader en ek kan ’n liefdevolle verhouding met Hom hê. Ek kan met Hom praat en my lewe aan Hom toevertrou. Elke behoefte, vreugde, teleurstelling kan ek na Hom toe bring. Hy luister en Hy weet die beste.
Slot
Geen individu sou ooit voor God kon staan en bly lewe nie. Hy is heilig en ons is nie. Net een sonde maak ons skuldig voor die hele wet. Jakobus 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Maar in Jesus Christus is alles nuut gemaak. Ons kan nou voor God verskyn in die wit gewaste kleed wat Jesus vir ons bewerk het. Jesus vertel die gelykenis van mense wat uitgenooi word na ’n bruilof nadat die gaste nie wou kom nie. Mens wat op die strate is word uitgenooi in die veronderstelling dat geeneen van hulle goed geklee sal wees vir hierdie bruilof nie. Tot ons skok is net een persoon nie reg geklee nie. Mattheus 22:12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Die rede hoekom Hy geen verskoning kon aanbied nie, is omdat die koning vir elkeen ’n bruilofskleed gegee het. Een persoon het gedink dat sy kleredrag bevredigend genoeg is om die bruilof mee by te woon. Hierdie persoon word uitgegooi na ’n plek van straf en pyn. Die Koning het die kleed voorberei in Homself. In nederigheid moet elke persoon na Hom toe gaan en Sy kleed aantrek en sy eie kleed, sy geregtigheid, sy eie probeer om geluk te vind, uittrek, want dit is besmet met sonde.
Welgeluksalig elkeen wat in Jesus se kleed van geregtigheid na God se bruilof kan gaan. Wat ’n fees!
