Artikel 22 ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF

Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Inleiding:

Ware geloof is ’n gawe en word aan ons geskenk deur God. Ware geloof is die geloof wat ons oë oopmaak vir wie ons is en wie God is. Dit laat ons hart brand met ‘n begeerte om nader te kom en in ’n verhouding te staan met hierdie wonderlike, heilige God. Bewus van ons eie sonde, met ‘n brande begeerte om naby God te kom, word geloof die reddingstou na Christus. Dit is nie die geloof wat ons red nie, maar die Een waarin ons geloof is. En dit is volkome. As ons ware geloof in Jesus Christus het, verander dit ons lewe na een van diepe dankbaarheid en afhanklikheid. Sonder Jesus is ons niks – met Hom het ons alles. Ja, elke goeie gawe in die Hemel, uitgestort op die wat glo in Hom.

Deur die Heilige Gees

Die mens is sleg en daar is niks in hom/haar wat God wil behaag nie. Ons begeerte is nie na God nie, maar na ons eie eer en om ons eie begeertes te bevredig. Die Heilige Gees kom maak ons van hierdie verlore toestand bewus en rig ons oë na die antwoord op die vraag: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Romeine 7:24. Hierop word die antwoord aan ons gegee in die volgende vers Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” Romeine 7:25. Die werking van die Heilige Gees alleen kan ons hartsbegeertes verander. Sonder die Heilige Gees sou ons nie eers van ons verlore toestand bewus wees nie, wat nog te sê van om die wonder van God en Sy koninkryk raak te sien. Daar is geen manier vir die mens om die koninkryk te sien om dus die waarde daarvan te bepaal nie. Hoe bepaal jy die waarde van wat jy eerstens nie kan sien en tweedens nie kan verstaan nie. Ons oë en verstand het nodig om oopgemaak en verhelder te word.  Al twee word gedoen deur die werking van die Heilige Gees. Die oomblik as my geestelike oë oopgemaak is verander my begeertes na Sy begeertes. Eers het hierdie vlees alles begeer wat vleeslik is en nou begeer ek God. Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Psalm 73:25.

Geloof verander my begeertes

 Ek het nou ’n begeerte na Sy Woord en sy bevele het ek lief. Psalm 119:72  Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. Die verhaal van die rykjongman illustreer hierdie gedagte wonderlik. Die vraag is of Hy God liewer het as al die ander dinge in sy lewe. In sy hart was hy seker dat hy al die gebooie nagekom het. Jesus openbaar aan hom dat sy liefde vir God afwesig is. Hy oortree sommer al die eerste gebod. Gaan verkoop alles wat jy het en volg my. Is my gehoorsaamheid aan God van groter waarde as alles wat ek besit? Doen ek dinge om deur mense geëer te word? Doen ek dus dinge vir my eie eer en voordeel? Die persoon wat vernuwe word deur die werking van die Heilige Gees het ’n liefde vir God wat hom/haar dryf. Daarom sê Jesus vir sy volgelinge dat as iemand Hom nie meer lief het as al die ander dinge op aarde nie is hy/sy nie werd op sy dissipel genoem te word nie. Lukas 14:26  As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. “Haat” hier word gebruik as ’n vergelyking. Die Bybel is duidelik dat jy ander mense moet liefhê. Hier word gesê dat jou liefde vir Jesus moet so die ander liefdes in jou lewe oorskadu dit dit nie eers meer soos liefde lyk nie. Hierdie werk kan alleen deur die Heilige Gees gedoen word. My liefde gaan oor in die begeerte na die Hemelse dinge. Dit is waar my fokus nou is. Efesiërs 1:17-18  dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is. Sonder die Heilige Gees se werking sal ek nooit die Woord as wysheid of sy erfdeel as heerlike rykdom sien nie.

Alles in Hom

Die gelowige is verwonderd in die werke van God. Hoe meer die gelowige die woord indrink hoe meer verslae word hy/sy oor die wonder, liefde, grootheid, genade, verlossing ens.  van die God wat hy/sy aanbid. In Hom is alles wat ons nodig het vir die lewe. In Hom het ons oorvloed van lewe. Psalm112:3  Oorvloed en rykdom is in sy huis. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid. Dus hang my blydskap en vreugde nooit af van eksterne omstandighede nie, maar die blydskap wat deur die Heilige Gees in my lewe geskep word. 1Thessolonicense 1:6  En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees. Die Thessalonicense gemeente was swaar vervolg en het baie erg gely en tog was daar oral vertel van ’n gemeente wat vol vreugde en blydskap was. As gelowige het ek meer ontvang as wat die wêreld ooit van my kan neem. Ek beskou myself altyd as bevoorreg en bevoorreg bo wat ek ooit kon verdien. Wie is ek? Wat het ek gedoen om soveel liefde en genade en guns en seën te ervaar? Hoe bevoorreg om saam met God te wandel elke oomblik van die dag. Die een wat my nooit sal begewe of nooit sal verlaat nie. Iemand wat angstig of te neergedruk is, moet kom drink by die fontein van lewe. Laat die Lewende Woord jou voed.

Ons verstaan verder dat in Hom ons alles het wat nodig is vir ons Verlossing. Die gelowige kan nooit op enige iets anders sy vertroue plaas vir sy verlossing as om dit te plaas in die Verlossingsdaad van Christus nie. Hoe sou ons na enige van ons dade kan kyk en daarin ’n hoop en verwagting hê van verlossing. Enige persoon wat sy vertroue in enige iets buiten Christus plaas is besig met godslastering. Selfs ons geloof wat ons plaas in sy Verlossing is nie uit onsself nie en is ’n werk wat in ons gedoen word. Ek moet eers geestelik lewendig gemaak word voor ek kan glo. Niks is uit myself nie, maar is ’n werking van God in my lewe. Jeremia 23:6  In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Hy is my geregtigheid. Ek roem in Hom en in Hom alleen. Jeremia 9:23-24  So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE. 

Slot

Ons is verwonderd dat ons nie net deur Hom geregverdig word nie, maar dat Sy totale lewe van geregtigheid op aarde aan ons oorgedra word. Sy verdienste word ons verdienste. Sy erfenis word ons erfenis. Sou dit nie net genoeg wees as ons verlos was nie, sou ons nie opgewonde gewees het as net dit moontlik gemaak is nie? Titus 3:5-6  nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser.  Maar soveel meer as dit. Ja, genade op genade, ryklik uitgestort. Kom ons buig in aanbidding, lof, eer en dankbaarheid. Ons het dit in oorvloed ontvang.