Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n eed – ‘n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos ‘n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is (Jes. 53:5, 7, 9); dat Hy as ‘n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het uitgeroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat’ (Matt. 27:46). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde; dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb. 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos.
Inleiding
Daar is baie gelowe en baie profete. Daar is baie goeie morele waardes en fabels en gesegdes. wat ons teen ons muur kan opplak as riglyne om beter mense te wees of om meer positief te wees. Daar is baie maniere waarop ons die bose in elkeen van ons kan probeer uitwis. Daar is egter slegs Een wat waarlik vir ons kan versoen met God en ons sonde kan wegneem en dit is Jesus Christus. Hy is die kern – die begin en die einde van alles wat werklik in jou lewe saak maak. Hy is die belangrikste persoon in die geskiedenis van die mens en van die hele Skepping.
Ons het die afgelope inskrywings gepraat oor wie Jesus is. Vandag se inskrywing wil weereens aan jou beklemtoon wat Hy alles gedoen het en waarom Hy die kern van jou hele bestaan moet wees.
Wat het Hy alles gedoen?
Verlosser
Van die begin van die evangelie van Jesus Christus is aangekondig dat Hy die Verlosser sal wees. Mattheus 1:21 en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Daar word aan ons vertel dat ’n man met die naam van Simeon deur die Heilige Gees gelei is na die tempel, net toe Jesus as baba deur sy ouers gebring is na die tempel. Die belydenis van Simeon onder leiding van die Heilige Gees is “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het.” Lukas 2:29-30. Hy is so gelukkig en tevrede oor wat hy gesien het dat hy bely dat hy nou maar kan sterwe. Dit is soos iemand wat die toppunt in sy lewe bereik of gesien het en weet dat enigiets hierna teleur sal stel in vergelyking daarmee. Dit is ‘n persoon wat sê “Alles wat ek begeer het, is nou hier voor my oë.” En wat is dit wat hy onder leiding van die Heilige Gees besef wat hom so opgewonde maak? My oë het die heil, die verlossing, gesien. Hier is die een wat my gaan verlos. Kan enige iets dit wat aan die kruis van Golgota gebeur het oortref? Kan enige iets meer waarde hê as dit? Hoe hartseer dat so baie wat bely dat hulle gelowiges is nie hulle tevredenheid en geluk hierin kan vind nie. Kan jy saam met Paulus stem dat die oomblik wat jy besef wat jou verlossing behels jy alles anders as drek beskou. (Die Griekse woord wat as drek vertaal is dui eintlik op “menslike afskeiding”) Filippense 3:8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry. Daarom kan Paulus ook sê: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as net Christus en Hom as gekruisigde”. 1Korintiers 2:1. Die Korintiër gemeente se probleem is dat hulle wou spog oor hoe belangrik hulle was. Hulle wou spog oor wie hulle geestelike leiers was. Paulus wys hulle tereg en sê mense dit gaan oor Christus. Sonder Christus se verlossing is ons verlore. Wat kan vir julle belangriker as dit wees?
Hoëpriester / ewige offer
Hy word deur die Heilige Gees in Hebreërs bevestig as die Hoëpriester wat sou kom. Hierdie hoëpriester sou anders wees as die wat uit die geslag van Aaron gekom het. Hy het nie ’n begin en ’n einde nie. Hy kom as hoëpriester en doen eenkeer wat Aaron en al die hoëpriesters voor hom slegs na gewys het, Hy bring die offer van versoening – versoening tussen God en mens. Hiervan het die profete geprofeteer. Hulle het vorentoe gewys en vertel van die tyd van vrede wat sou aanbreek. Elke mens staan onder die straf en wraak(toorn) van God. Efesiërs 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Daarom profeteer Jesaja dat die een wat sou kom hierdie breuk tussen God en mens sou kom genees. Jesaja 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Die wraak wat ons moes ontvang het Hy in ons plek op Hom geneem. Sonder die kuis is daar geen vrede nie. Sonder die kruis is daar geen Verlossing nie.
Onskuldig in ons plek
Is dit nie wonderlik hoe Hy selfs deur die regering en juridiese stelsel van sy dag onskuldig bevind is nie. Herodes stuur Hom terug nadat hy ’n bespotting van Jesus gemaak het omdat hy niks in Hom kon vind nie. Nie net Herodes nie, maar ook Pilatus bely dat hy geen skuld in Hom gevind het nie. Lukas 23:13-15 Toe roep Pilatus die owerpriesters en die owerstes en die volk bymekaar en sê vir hulle: Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie; ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie. Tog word Hy as onskuldige dan tog skuldig gemaak en gekruisig. Aan die kruis moes Hy dan as onskuldige die sonde van die skuldiges dra. As gevolg hiervan moes Hy uitroep aan die kruis “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Mattheus 27:46. Nie net is dit ’n aanduiding van Sy verlatenheid omdat Hy ons sonde moes dra nie, maar ook ’n getuienis van Psalm 22 wat Hy vervul het aan die kruis van Golgota.
Ware liefde
Besef ons werklik die grootheid van hierdie liefde. Besef ons dat hierdie liefde alles van Hom vertel. Hoe baie draai mense hierdie boodskap van Sy verlossing om deur aan mense te vertel dat Hy vir ons gesterf het juis om te wys hoe wonderlik ons is. Nee nooit. Romeine 5:7-8 Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Hierdie boodskap vertel ons hoe wonderlik Hy is. Hy bly altyd die fokus en nie ons nie. Is dit nie van die begin af ons versoeking dat ons in die tuin al wou hê dat ons soos God moes wees nie. Maar die gawe van Verlossing eindig nie by Sy Verlossing nie. Romeine 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Nooit sal iets ingebring kan word teen die gelowige nie. Niemand sal ’n aanklag teen ons kan inbring nie. Romeine 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
Slot
Ons Verlosser het nie net vir ons gesterf nie, maar as Hoëpriester staan Hy voor die Vader en tree elke oomblik vir ons in. Sy bloed is die getuie wat deur alle eeue gehoor sal word, hulle is vry a.g.v. my bloed. My lewe het aan hulle lewe gegee.
Stel die ou gesang dit nie wonderlik nie?
Jesus, Rots vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat. Laat u lyding, sonder maat,
My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en –mag.
En ekself – wat kan ek doen om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei, sou my trane ewig vloei –
Nóg gebede, nóg geween kan my red, Heer ; U alleen.
Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra; U het ook my skuld gedra!
U geslaan tot heilsfontein, wás my, Heiland, maak my rein.
Heer, my Rots, bo almal groot, staan U vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan, maar U bly onwrikbaar staan.
Eew’ge rots, U laat ook my veilig, ewig in U bly!
“Here, vandag skuil ek in U.”
