Ons gee dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur sy aller bitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het, en só sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
Inleiding
Daar is ’n bekende meme met die foto van ‘n pasgebore babatjie, waar die boodskap sê dat ‘n babatjie nie weet hoe om te haat, kleur raak te sien of bevooroordeel te wees nie en dat ons moet toesien dat niemand hom/haar dit leer nie. Daardeur sê dit dat kinders onskuldig is, maar dat die samelewing hulle leer om te sondig. Hierdie klink pragtig en lyk so waar as mens die klein babatjie so rustig sien slaap. Dit is egter nie die waarheid volgens die Bybel nie. Hoewel dit definitief waar is dat omstandighede die boosheid, wat alreeds daar is, na vore kan laat kom, dink bv. aan iemand wat die hele tyd haatspraak in sy/haar ouerhuis teenoor ander rasse ervaar. Hierdie is een van die belangrikste feite om te aanvaar in die reddings verhaal van die mens. Indien jy dink dat daar enige iemand, hoe jonk ook al, sonder sonde is, is die koms en kruisiging van Jesus onnodig en kan jy nie die ongelooflike offer van Jesus verstaan nie.
Deurtrek van sonde
God moes mens word om die mens, as oortreder van God se opdrag, van hulle sonde te verlos. Hy moes dus aan ons gelyk word. Die eerste Adam het God se opdrag verontagsaam en daardeur het die dood in die wêreld gekom. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Dit is duidelik vanuit die Skrif dat elke persoon wat gebore word in sonde gebore word. Psalm 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Hierdie Psalm word deur Dawid geskryf as ’n belydenis na sy sonde met Batseba, die vrou van Uria. Hier bely hy dat, nie net het hy oortree teen die Here om met Batseba ’n verhouding te hê en haar man dood te maak nie, maar dat hy deurtrek is van sonde van geboorte af. Die mens se probleem is nie dat hy/sy goed is en nou en dan sonde doen nie. Ons sondig nie nou en dan en daarom is ons sondaars nie, nee, ons is sondaars en daarom sondig ons. Ons is deurtrek van die sonde. Daar is niks goeds in ons nie. Paulus verduidelik die toestand van elke mens in Romeine 3 as hy sê Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Romeine 3:11-18. Duideliker kan die mens se toestand sonder God nie gestel word nie. Die meeste mense wat hierdie aanklag hoor kom in hulle harte in opstand. Hulle kan nie glo dat hulle in so ’n slegte lig geplaas word nie. Niemand is ooit vir homself so sleg nie. Daar is altyd iemand erger en slegter as ek. Mense verdedig hulself vinnig deur die goeie dinge wat hulle doen op ’n tipe weegskaal teenoor hul verkeerde dade te plaas. Hulle dink dat solank die goeie swaarder as die slegte weeg is hulle OK.
As jy egter nie jou verdorwenheid verstaan nie, sal jy nooit verstaan waarom jy ’n verlosser nodig het nie en sal jy dus nooit uit dankbaarheid teenoor Jesus kan leef nie. Die tweede Adam was dus nodig om alles na te kom waarin die eerste Adam gefaal het. Na Adam het God sy gebooie aan die mens gegee met die opdrag dat hulle dit moes onderhou. Deur die Skrif word dit vir ons duidelik gemaak dat niemand dit kan onderhou nie. Jesus maak dit duidelik dat dit nie net in die doen van die sonde is waarin ons die wet oortree nie, maar dat ons dit oortree selfs in ons gedagtes. Mattheus 5:28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. Jakobus maak dit verder duidelik dat al oortree ons net een van die gebooie ons skuldig staan voor al die gebooie. Jakobus 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. As ons ons sonde toestand verstaan, besef ons dat, selfs al is ons wederbaar, ons nooit die wet ten volle sal kan onderhou nie. Romeine 7:15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. Hierdie vers maak dit duidelik dat my lewe as gelowige altyd ’n stryd sal wees teen die sonde. Die wonderlike van Romeine 7 is dat dit ook aan ons verduidelik dat as Christus in my lewe is, ek nou die sonde haat en dat my begeerte nou is om die wil van God te doen. Dit is die eienskap van ’n gelowige. Tog skiet ek altyd te kort en sal ek nooit volmaak Sy wet onderhou nie.
Christus vervul die wet
Christus kom as mens in die wêreld en doen wat ons nie kon doen nie. Van die begin af maak Jesus dit duidelik dat Hy gekom het om alle geregtigheid te vervul. Mattheus 3:15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. Hierdie vers vind plaas by Jesus se doping. Hy openbaar aan Johannes dat Hy alles sou doen soos wat Sy Vader van Hom vra, sodat Hy in alles gehoorsaam sou wees en sodoende alle geregtigheid sou vervul. Hier wys Johannes, as die seun van ’n pa en ma uit die geslag van Aaron, die hoëpriester, die sondebok aan wat die sonde van die wêreld sou dra. Tog was hierdie sondebok sonder sonde. Net hierna, soos wat met die sondebok sou plaasvind, word hy die woestyn ingestuur deur die Heilige Gees. Hy word versoek deur die Satan en bewys dat Hy die tweede Adam, sonder sonde, is. In alles wat Jesus gedoen het, het Hy Sy Vader gehoorsaam en dus al die gebooie nagekom. Waarom was dit nodig dat Hy gebore moes word as ’n mens en as ’n mens al die gebooie moes onderhou? Die rede is dat sy geregtigheid op ons oorgedra kon word. Sy lewe word ons lewe. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Nie net dra Hy ons sonde aan die kruis en betaal ten volle vir ons straf nie, maar die lewe wat ons nooit kon/kan lei nie word op ons oorgedra. Die geregtigheid, Sy lewe sonder sonde, word op my oorgedra. Sy geregtigheid word my geregtigheid.
Romeine 8 bevestig hierdie daad van barmhartigheid wat aan ons as gelowiges bewys is. Romeine 8:3-4 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Hier word bevestig dat die kinders van die Here wat vrygekoop is Sy geregtigheid ontvang het en nie meer lewe na vleeslike begeertes nie, maar nou wandel in gehoorsaamheid aan die Gees. Geen persoon wat die barmhartigheid van die Here verstaan en lewe vanuit sy genade sal aanhou om in die sonde te wandel of verskonings te soek vir sy/haar sonde nie. Nee, ons lewe lewens van dankbaarheid aan die Een wat sonde vir my gemaak is en die Een wat my Sy geregtigheid as geskenk vir my gegee het.
Dink daaroor. Dink terug aan jou verlede en al die verkeerde dinge en sondes wat jy al gedoen het. Vir elke sonde kom daar ‘n swart kol op jou klere. Daar is geen waspoeier sterk genoeg om dit skoon te was nie. Hoe lyk jy? Indien jy enigsins eerlik is met jouself sal jy besef dat jou klere pikswart vuil is. As wedergebore kind van God, kom die Vader en neem Jesus se silwerskoon wit kleed en trek dit vir jou aan. Wanneer Hy nou na jou kyk is jy geklee in Jesus se geregtigheid – silwerskoon.
Geklee in goedheid en barmhartigheid
Die Vader het nie net Sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hy het ons alles in Sy seun geskenk wat aan die Seun behoort. Rom 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Daarom vertel Paulus aan die Efesiërs dat ons ryklik geseën is met alles in die hemele in Christus. Efesiërs 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus. Daarom besit ons nou in Hom onsterflikheid en ’n ewige lewe saam met Hom lê vir ons voor.
Slot
As jy nog twyfel aan God se goedheid en barmhartigheid lees ons in Rom 8:38 dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. Romeine 8:38-39 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Watter voorreg! Alles genade.
