Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde en hemel en aarde vervul, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel ‘n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by ‘n ware liggaam behoort. Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie. Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus ‘n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ‘n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ‘n kort tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.
Inleiding
Die twee nature van Christus is vir die mens moeilik om te verstaan. Maak nie saak hoeveel analogie ons probeer om dit te verduidelik nie, elkeen skiet te kort. Dit is een van daardie beginsels wat ons net moet aanvaar soos wat dit in die Woord van God geleer word. Geeneen van Jesus se twee nature moet oorbeklemtoon word ten koste van die ander nie. Albie is ewe belangrik.
In Sy menslike natuur vind ons ‘n vriend, iemand wat ons verstaan en met ons medelye kan hê. Iemand wat ook hartseer, moeg, honger en versoek was. Indien hierdie eienskappe egter oorbeklemtoon word ten koste van sy goddelike natuur vind ons dat vir baie Hy hul “buddy” word. Hy word iemand wat kan simpatiseer met my sonde en ons hoor dikwels “Jesus sal verstaan ek kon nie anders nie”.
In Sy goddelike natuur vind ons ‘n Koning, Verlosser en Saligmaker. Hy wat sal kom om te oordeel en uit Wie se mond ’n tweeledige swaard sal kom om sy vyande te verdelg. ‘’n Man so skrikwekkend dat Johannes voor Hom neerval in angs en bewing. Hy is God en moet as sodanig geëer en gevrees word, as die een wat sal kom om die parskuip te trap. Hy is nie een wat onbelyde sonde sal ”verstaan en verskoon” nie, maar wat dit haat omdat Hy God is en Heilig is.
Sy goddelike natuur
Ons het in die vorige artikel gesien hoe Jesus werklik mens was en gebore is uit ’n vrou. Dit is net so belangrik om vir mekaar te sê dat Hy ook ten volle God was. Hy was voor die skepping God en dus deel van die Drie-eenheid. Sy Goddelike natuur is dus ewig. Luister wat die Hebreërs skrywe vir ons van Hom sê sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur. Hebreërs 7:3. In Sy goddelike natuur het Hy geen vader of moeder nie en is Hy sonder ’n begin en sonder ’n einde. God het as ’n mens in die wêreld gekom. Hy was, soos reeds gesê, waarlik God en waarlik mens. Tog net een persoon. Die Godheid en die menslikheid het nie een geword nie, nee, die twee nature het deel geword van een persoon, die god-mens Jesus Christus.
Verlosser en oorwinnaar oor die dood
Hy moes ten volle mens wees om in ons plek die sonde te dra. Hy moet ten volle God wees om die ewige prys van sonde te betaal. Hy kan nie verlos as Hy nie God is nie. Dus moes Jesus ten volle God en ten volle mens wees om ons te verlos en die verhouding met God die Vader te herstel.
Hy moes ten volle God wees om die dood te oorwin. Om die dood te oorwin, beteken nie gewoon om uit die fisiese dood te herlewe nie. ’n Hele aantal mense in die Bybel het opgestaan uit die dood. Die bekendste van hulle is sekerlik Lasarus. Daar is ook die weduwee van Nain se seun. Jesus het ook Jairus se dogtertjie uit die dood opgewek. Almal het vir Hom gelag toe hy hulle ingelig het dat die dogtertjie slaap. Hulle het gelag, want hulle het geweet die kind is dood. Dan is daar Petrus wat ook in Handelinge ’n weduwee uit die dood laat opstaan.
Wat is die verskil tussen al hierdie mense wat opgewek is en Christus? Het hulle nie ook die fisiese dood oorwin nie? Nee, want eerstens weet ons dat almal van hulle weer gesterf het. Tweedens het Jesus en Petrus mense opgewek deur die krag van die Heilige Gees. Hierteenoor vertel die Skrif ons dat Jesus in homself die dood oorwin het. Sy goddelike natuur het hom uit die dood opgewek. Maar sê die Woord dan nie dat die Vader Jesus opgewek het en dat Hy opgewek is deur die Heilige Gees nie? Ja, dit is wel wat die Woord ons leer.
Kom ons gaan kyk na die verse wat aan ons vertel dat die Vader Jesus uit die dood opgewek het. Romeine 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Galasiërs 1:1 Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het. Dit is dus duidelik dat Jesus opgewek is deur die Vader.
Die Bybel is ook duidelik dat Hy opgewek is deur die Heilige Gees. Romeine 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 1Petrus 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees.
Die Skrif openbaar ook aan ons dat die tweede persoon van die Drie-eenheid die een was wat Homself opgewek het. Jesus was in gesprek met die Joodse leiers nadat hy die verkopers en die diere uit die tempel gejaag het. Hulle wou weet waar hy die gesag vandaan kry om dit te doen. Jesus vertel hulle dat Hy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal oprig. Johannes 2:19-21 Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek. Dit is dus duidelik dat Jesus aan hierdie leiers dit openbaar dat Hy homself sal opwek uit die dood.
’n Tyd later vertel Hy aan sy volgelinge dat Hy die goeie herder is. Hy sou die herder wees wat sy lewe sou aflê vir Sy skape. Hier maak Jesus dit ook duidelik dat niemand sy lewe van Hom sal neem nie. Dit is nie asof sy kruisiging iets sou wees wat buite sy beheer sou wees nie. Dit word ook duidelik gemaak deur sy volgelinge se gebed in Handelinge. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. Handelinge 4:27-28. Nee, Hy is die een wat sy lewe aflê uit sy eie. Johannes 10:17-18 Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. Hy is die een wat die mag het, nie net om sy lewe af te lê nie, maar ook om dit “weer op te neem”. Dit beteken Hy het mag om Homself uit die dode op te wek. Watter wonderlike eenheid is daar nie in die Drie-eenheid met die opwekking van Jesus nie. Handelinge 13:30 Maar God het Hom uit die dode opgewek.
Wat kan ons nou uit al hierdie teksverse aflei? Dat God die Vader, die Gees en die Seun een is. Jesus is God en as sodanig het Hy homself uit die dood opgewek al was Hy ook mens. As God het Jesus dus die dood vir die mens oorwin.
Sy menslike gees
By Sy sterwe gee hy sy menslike gees oor aan Sy Vader. Hy het sy menslike gees, wat menslike liggaam verlaat het, oorgegee. Deur die Skrif word dit duidelik dat Hy afgegaan het in Hades en sy oorwinning geproklameer het. (die Griekse woord wat hier gebruik word, het te make met proklameer en nie preek nie) 1Petrus 3:18-19 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis. Dit is belangrik om te sien hoe elke deel van die Skrif getuienis lewer van sy volkome menslike en volkome goddelike natuur. Ook belangrik is dat die twee nie van mekaar geskei het nie. Die twee nature van Christus is nog steeds ’n eenheid, maar sy menslike liggaam is nou in sy verheerlikte vorm. As ons Hom in die Hemel sien in Openbaring is dit duidelik dat die tweede persoon van die Drie-eenheid in Sy heerlikheid daar is. Sy verheerliking is van so ’n aard dat Johannes, die geliefde dissipel, soos ’n dooie neerval as Hy Jesus in die Hemel sien. Openbaring 1:17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste. Tog word Hy ook uitgebeeld as die Lam asof Hy geslag is. Openbaring 5:6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy is die lam geslag. Hy dra die wonde in die Hemel wat Hy op aarde ontvang het. Vir ewig sal ons Hom aanbid en loof en prys as God en sal ons aan Sy wonde met dankbaarheid herinner word van die prys wat betaal is vir jou en vir my. Openbaring 5:12 en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.
Ons weet ook vanuit die Skrif dat ons liggame ook verheerlikte liggame sal wees soos Christus se liggaam. Hierdie verheerlikte liggaam sal eendag saam met ons Verlosser in ’n nuutgeskepte hemel en aarde woon. Dit sal ’n ewigheid wees waar geen meer hartseer of enige siekte meer sal wees nie. Openbaring 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
Slot
In ‘n tyd waar baie die Goddelikheid van Jesus betwyfel en baie Hom slegs wil sien as “my beste vriend”, wil hierdie inskrywing ons kom herinner dat Jesus God is. Ons wil opnuut bely dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe. Sonder hierdie belydenis kan ons nie Jesus eerlik aanbid en eer nie. Hy is ons vriend, maar ook ons God.
