Artikel 18 Hy is waarlik mens!

Artikel 18 DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil. 2:7) deur werklik ‘n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ‘n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook ‘n egte menslike siel om so ‘n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, ‘n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), ‘n vrug van die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit ‘n vrou (Gal. 4:4), ‘n spruit van Dawid (Jer. 33:15), ‘n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte – maar sonder sonde – aan sy broers gelyk geword het (Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).

Inleiding

Die vraag oor Jesus se menslike natuur en sy goddelike natuur was ‘n groot vraagstuk vir die Kerk in die 4de en 5 de eeu en met die groot Raad van Caledon in 451 is deur die Kerk verklaar, “Jesus is waarlik mens en waarlik God” Hierdie antwoord is dalk nie vir almal voldoende omdat ons nie verstaan hoe Hy gelyktydig Goddelik sowel as menslik kan wees nie.  Sommige mense het die idee dat Jesus soos iemand met ‘n gesplete persoonlikheid was met twee persone binne homself – een Goddelik en die ander menslik en dat Hy willens en wetens kon verander na die een of die ander. Dit is vals. Ons weet dat God alwetend is, tog is daar sommige dinge wat Jesus sê, die Seun nie weet nie.  Markus 13:32 Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. So sien ons ook dat Jesus moeg word en slaap, terwyl die Bybel vir ons sê dat God nooit moeg word of slaap nie. Dalk wonder jy hoekom hierdie in diepte verstaan van Jesus se natuur nodig is? Omdat die dood van Christus slegs kon plaasvind as ‘n totale versoening vir ons sonde indien Hy volkome mens was. Onthou hier ook dat Hy nie gesterf het as God nie. God kan nie sterf nie. As God sou sterf sou die hele wêreld in een oomblik ophou bestaan. Dus is ons nie besig om sy nature te meng nie. Hy is waarlik God en waarlik mens, maar een persoon. Sommige probeer sy lyding aan die kruis afwater omdat Hy God was. Die feit is egter dat die lyding aan die kruis nog soveel feller was as wat ons ooit sal kan dink of verstaan juis weens Sy Goddelike natuur. As 2de persoon van die Drie-Eenheid moes Hy die sonde van die wêreld op Hom neem en daarin lê die werklike lyding aan die kruis. Ons kan en mag nie die twee nature van Christus meng of skei nie. Indien ons hulle skei ontken ons óf die menslike natuur óf die goddelike natuur en as ons dit meng, is Jesus een of ander vreemde hibriede.

Hierdie blog inskrywing konsentreer op die bewys van Jesus se menslike natuur.

Jesus as kind

Ons vind baie mense wat nuuskierig is en dinge wil navors waaroor die Bybel stilbly. Hier is die uitdrukking gepas dat dwase instorm waar engele vrees om te loop. Dit is baie duidelik dat God nie wil hê dat ons enige iets oor Jesus se kinderdae moet weet, meer as wat Lukas ons inlig nie. Dit is ironies dat die Apokriewe boeke, in stryd hiermee, juis die fokus plaas op sy kinderjare. Dit wat die evangelie oor Jesus se kinderjare sê het te make met die vervulling van die wet en om ons in te lig dat Jesus verstaan het, dat sy prioriteit altyd die dinge van Sy Vader was. Lukas 2:49  En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?  Verder laat Lukas ons verstaan dat hy soos ’n gewone seun moes groei in wysheid en ook fisies. Lukas 2:52  En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense. 

Hy was beslis fisies ’n gewone man. Daarom het die evangelie skrywers vir ons dit duidelik gemaak dat Hy uit ’n vrou gebore is. Die profete het alreeds jare voor sy geboorte geprofeteer dat Hy uit ’n maagd gebore sou word. Hierdie vrou, Maria, het ook nie uit die hemel geval nie, maar is gebore uit ’n vrou en man se saad. Haar voorgeslagte kon nagegaan word en dit kon bewys word dat sy uit die geslag van Dawid gebore is. Lukas se geslagsregister is dan ook van Maria se voorgeslagte. Lukas toon aan dat Josef, die man van Maria, die seun van Eli was, terwyl Mattheus ons vertel dat Josef die seun was van Jakob. Lukas 3:23  En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli. Mattheus 1:16  en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. Die verskil wys ons dat Lukas die vrou se voorgeslagte nagaan terwyl Mattheus geïnteresseerd is in die man as die draer van die Koninklike lyn. Al twee se voorgeslagte kom van Dawid se geslag af. Hierdie geslagsregisters was gestoor in die tempel en na die verwoesting van die tempel is al hierdie registers verwoes. Dit is vandag nie meer moontlik vir ’n Jood om bewys te lewer uit watter stam of geslag hy/sy gebore is nie. Die tydperk van Jesus se geboorte sou op die regte tyd plaasvind soos wat God dit bepaal het, sodat selfs sy voorgeslagte presies aangetoon kon word en bewys daarvan gelewer kon word uit die annale uit die tempel.

God word mens

Hy wat waarlik God is moes mens word, een met diegene vir wie Hy sou sterf. Hy sou soos ’n slaaf word sodat Hy aan die mens gelyk kon word. Filippense 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword. Die koning van alle konings, Godself word ’n mens. Watter vernedering sou dit nie wees nie? Die skepper word skepsel. In Timotheus noem Paulus hierdie ’n verborgenheid. Die Griekse woord is μυστήριον(misterion) en wys daarop dat dit ’n misterie is. Wat is die misterie? Dat Jesus in die vlees gebore is. 1Timotheus 3:16 En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid. Hierdie is net vêr bo wat ons kan verstaan. Paulus is reg as hy aan die Efese gemeente skryf: sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. Efesiërs 3:17-19. Dit wat plaasgevind het oortref alle kennis.

Mens sonder sonde

Al was Hy volkome mens was hy nie gebore in sonde nie. Alle mense word in sonde ontvang en gebore as gevolg van Adam se sonde. Psalm 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Jesus was egter nie gebore uit die saad van die man nie en daarom was Hy nie gebore in sonde nie. Hy was dus in elke opsig aan ons gelyk, maar sonder sonde. Heb 4:15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Hy is dus net soos ons aan versoekinge blootgestel, maar die verskil tussen Hom en ons is dat Hy nooit sonde gedoen het nie. Hy kon alleenlik die hoëpriester vir ons wees as Hy soos ons ’n mens geword het, maar vry van enige sonde. Hebreers 2:17  Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. As Hy sonde gedoen het, sou Hy iemand nodig gehad het om vir sy sondes te betaal en sou Hy soos die hoëpriester van ouds eers ’n offer vir homself moes bring en daarna ’n offer vir die mense vir wie Hy sou betaal.

God met ons

Ons as mense wat gered is deur Sy versoening is totaal afhanklik van God wat Immanuel is, die God met ons. Ons verstaan dat niks uit onsself kon wees nie. Romeine 7:19  Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Jeremia profeteer van hierdie tyd waarin geregtigheid sal kom en die een wat uit die spruit van Dawid sou kom in geregtigheid sal heers. Jeremia 33:15-16  In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land. In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Die verlossing sou nooit in onsself  kan wees of in enige mens wat uit ’n man gebore is nie. Nee, ons geregtigheid sou moes kom uit een wat geen sonde gedoen het nie en tog waarlik mens sou moes wees. Waarna sou die profete verwys het? Wie sou aan hierdie vereistes kon voldoen? Die Godmens! Die belofte van God. God het werklik naby ons gekom.